KINDERLOOSHEID

KINDERLOOSHEID.

Sakkie Parsons

Iemand het aan  my geskryf en met my die volgende gedeel:

“Ek sukkel om swanger te raak, ek het al die medikasie gebruik wat ons kon, maar niks wil help nie. Ek het al soveel keer die Here gevra om my te help, maar niks gebeur nie. Help my”

Hier is dan hoe ek na hierdie soort probleem kyk:

Alles, letterlik álles wat met ons, Sy uitverkore kinders gebeur in hierdie lewe, is genade:

JHN 1:15  „Johannes getuig oor Hom en roep uit:  “Hy is die Een wat ek bedoel het toe ek gesê het:  ‘Hy wat ná my kom, het reeds voor my bestaan omdat Hy groter is as ek.’”

JHN 1:16  En uit Sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.“

ROM 3:23  Ons het immers almal gesondig.  Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom.
ROM 3:24  Maar nou spreek God ons in sy onverdiende goedheid vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant.

Die feit dat jy kan lees wat ek vir jou gestuur het omdat jy kan sien, is genade van ons Here af.

Die feit dat ek nie kan lees wat ek vir jou gestuur het nie, omdat ek blind is, maar dit wel kan skryf en hoor wat my rekenaar sê wat ek geskryf het, is genade van ons Here af.

Sommige mense het baie geld en lewe in uiterste weelde. Dit is genade van ons Here af. Ek het nie so baie geld soos sommige mense wat ek ken nie, maar ek is uiters gesond. Dit is genade van ons Here af.

Om te sien is nie ‘n reg nie, dit is genade.

Om rykdom te hê is nie ‘n reg nie, dit is genade.

Om gesond te wees is  nie ‘n reg nie, dit is genade.

So is ook; en ek sê dit met deernis; om kinders te hê nie ‘n reg nie, dit is genade.

In die Woord is daar ook gevalle van vroue wat nie kinders kon kry nie. Ek noem hier net 3 voorbeelde:

GEN 11:30  “En Sarai was onvrugbaar, sy het geen kind gehad nie.”

RIG 13:2  Daar was ‘n man in Sora met die naam van Manoag.  Hy was uit die stam van Dan.  Sy vrou kon nie kinders hê nie.

LUK 1:6  Sagaria en Elisabet het reg gelewe voor God:  hulle het al die Here se bevele en voorskrifte nagekom.
LUK 1:7  Hulle het nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was.

Het jy die mooi in my laaste voorbeeld gesien? Ons Here het nie iets teen die man en vrou gehad wat nie die genade van om kinders te hê van Hom ontvang het nie, inteendeel, Hy het in Sy Woord van hulle laat skryf, en ek haal dit aan uit die Ou Vertaling:

LUK 1:6  “En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel.”

Ek  weet nie hoekom ons Here met sommige mense só handel en met ander weer op ‘n ander manier handel nie en hoekom ons Here toelaat dat sekere dinge die een oorkom en nie die ander nie, maar ek kyk terug oor my lewe en ek sien dat ons Here selfs die kere toe ek drooggemaak het, dit gedraai en laat inpas het, ook met die dinge wat ek nie kon verstaan nie, en ek sien ‘n wonderlike plan waaraan ek nou niks sou wou verander nie. Jy verstaan dalk nie nou nie, maar glo en vertrou net ons Here, wat sê:

JES 55:8  “My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie My paaie nie,”  sê die HERE.
JES 55:9  “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen, en My gedagtes hoër as julle gedagtes.

As iemand my vra wat ek sou doen as ons nie kinders kon hê nie, sou ek sonder aarseling gesê het: “As ek en my vrou alles probeer het waar net ons twee betrokke is, wat ons met die medici se hulp kón doen en my vrou het nie swanger geword nie, sou ons verseker probeer het om ‘n kind aan te neem.”

Daar is wonderlike voorbeelde in die Woord waar ons Here die  aanneming van kinders tot Sy eer en verheerliking gebruik het. Ek dink hier aan Moses wat deur Farao se dogter aangeneem was en toe die redder van Israel uit Egipte geword het.

Dan was daar Ester wat deur haar oom Mórdegai aangeneem was en die redder geword het wat Israel van algehele uitwissing gered het.

Dan! – Prys die Naam van die Here! – was daar Josef, wat Jesus as sy seun aangeneem het!

Jesus wat toe Golgota toe gestap het.

Jesus van wie die Woord sê:

JHN 3:16  God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Hier waar ek sit en skryf, kan ek nie aan iets beter of meer edel dink, wat ‘n kinderlose egpaar kan doen as om ‘n kindjie, wat deel is van ons Here se hoogste skepping, aan te neem en tot Sý eer groot te maak nie. Daar is ook baie gevalle waar, sodra die egpaar ‘n kindjie aanneem, die nuwe moeder dan ook sommer swanger raak.

Ten slotte. Onthou jy wat Jesus van ‘n kindjie sê, ook van die wees of aangenome kindjie?:

MAT 18:2-6 
2 Jesus roep toe ‘n klein kindjie nader en laat dié tussen hulle staan.
3  Toe sê Hy:  “As julle nie wegdraai van julle sondige lewe en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie.
4  Daarom  is elkeen wat so nederig soos hierdie kindjie word die belangrikste in God se koninkryk.
5 En elkeen wat ‘n kindjie soos hierdie een ter wille van My verwelkom, verwelkom My.
6  Maar elkeen wat een van hierdie kleinstes wat in My glo, tot ‘n val bring – vir hom sal dit beter wees om met ‘n meulsteen om sy nek in die see te verdrink.

Ek weet nie hoekom jy nie swanger raak nie –

Ek weet ook nie hoekom ek nie kan sien nie –

Maar ek kyk na jou en na my en na al die ander dinge om my, en ek juig dit saam met my groot held Paulus uit:

ROM 11:33  Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie!  Sy beslissings gaan ons begrip te bowe;  sy manier van doen kan ons nie deurvors nie.

Want ek, Sý kind wat Hy aangeneem het:

ROM 8:15  “…Julle het die gees van ware kindskap ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God:  Abba – ons liewe Vader. (Abba is die Aramese woord vir vader)

Ek, Sy kind, weet mos:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.

Ja! Hoe wonderlik om te weet!!!

EFE 1:5  Deur wat Christus gedoen het, het God vooraf besluit om ons as Sy kinders aan te neem.  Hy het dit gedoen omdat dit is hoe Hy dit wou hê.

EFE 1:6  Daarom prys ons God se grootheid.  Deur Sy Seun wat Hy liefhet, het Hy onderdiende goedheid aan ons gegee. 
                 
                 
Groete,
Sakkie