KOM ONS LEEF WAT ONS GLO

KOM ONS LEEF WAT ONS GLO

Sakkie Parsons

Ek word partykeer nogal taamlik ontsteld as ek sien hoe baie van ons Christene uit onkunde, eintlik om Christen te wees, taamlik bespotlik maak.
Daar is ‘n Afrikaanse gesegde wat sê:
“Hy kla met ‘n wit brood onder die arm.”
Ek sê altyd, dat ‘n Christen het niks om oor te kla nie.  Omdat ten eerste weet ons:

ROM 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Daar is min dinge wat vir my so hopeloos klink, soos wanneer ‘n belydende Christen met my oor ’n blou Maandag praat.
Wat ‘n belediging na God se kant toe is dit nie?
Dink net aan die goor belydenis –
“Ek is God se kind en Hy kyk so vrot na my dat Hy my, my week met ‘n blou Maandag gaan laat begin.

So van goor belydenisse gepraat, ek het dit al gesê en ek sê dit weer:

As ‘n bloedgewaste kind van God kla, bely ek eintlik aan die wêreld:
“Ek is ‘n kind van God maar kyk net hoe vrot kyk Hy na my.”

Ek moet maar net ‘n oomblik gaan stil sit en dink en ek sal sien hoe absoluut verkeerd dit van my is om te kla en ontevrede te voel oor my omstandighede.

Toe my kinders klein was het ek eendag die volgende speletjie met hulle gespeel:
Ek het vir hulle gesê dat ek hulle wil wys hoe belangrik ‘n mens se hande is.  So, hulle moet nou hulle hande vuisies maak en die een wie se handjies die langste vuisies bly wen die prys.
Ek kan nie meer mooi onthou wat alles gebeur het nie maar een ding sal ek nooit vergeet nie.
Ons was so ‘n paar minute besig met die speletjie, toe kom my een dogtertjie na my en sê dat sy nie meer kan speel nie want sy moet nou toilet toe gaan.

So, as ek gewoonlik met Christene gesels en hulle kla, maak ek gewoonlik die volgende voorstel:
As jy dink dit gaan sleg met jou, doen nou vanaand die volgende en dan gebruik ek net hierdie drie opsies maar ek kan baie ander byvoeg as ek wou:

Besluit – net om te wys dat dit slegter met jou gaan, as wat dit met jou kán gaan en dat jy rede het om te kla – dat jy more sodra jy wakker word die hele dag sonder een van die volgende drie opsies gaan klaarkom:
* Jy gaan nie jou bene gebruik nie.
* Jy gaan jou hande vuiste maak en dit die hele dag so hou.
* Jy gaan jouself blinddoek vir die hele dag.

Dan besluit jy weer môreaand of dit régtig so sleg met jou gaan, soos wat jy gedink het.
As jy klaar een van die gestremdhede het, moet jy ‘n ander een kies.

Die rede waarom ek met jou oor hierdie saak praat is, omdat ons partykeer ‘n baie slegte beeld van Christen-wees aan die wêreld vertoon.
Jy sien, as Christen sê ek:

2KOR 4:6-9  

6 Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.  7  Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.  8  In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie;  9  vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.

FIL 4:11-13  

11 Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.
12  Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.
13  Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Jy sien, ons moet ons verkeerde uitkyk op die lewe verander. 
Ons is mos op pad Hemel toe.  Dit alleen is iets waaroor ‘n mens deurentyd dankbaar en opgewonde oor kan wees.

FIL 4:4  Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!

Verdra my, as ek weer afsluit met een van die twee gesegdes waarvoor ek so lief geword het.

“If we believe it, let us live it.”
                 
Groete,
Sakkie