KOM ONS STREWE NA DIE BAND VAN DIE VOLMAAKTHEID

KOM ONS STREWE NA DIE BAND VAN DIE VOLMAAKTHEID

Sakkie Parsons

Ek wil graag met jou deel wat nou eendag weer by my opgekom het. Ek weet ook dat ek al vantevore hieroor geskryf het maar nou doen ek dit uit ‘n effens ander hoek uit.
Ek begin met ‘n stelling:

Dit kan gebeur dat my godsdiens só godsdienstig raak, dat dit nie net godsdiens sonder God is nie, maar dat dit so ver van God af is, dat dit vir die mense om my fisies en psigies doodsgevaarlik kan word.

Omdat ek al in die verlede baie die belaglike sataniese narrespel van die Fariseërs, Skrifgeleerdes ensovoorts as voorbeelde gebruik het, wil ek hierdie keer as voorbeeld gebruik wat ek beskou as die room van godsdienstigheid van sy tyd, naamlik my groot held Paulus.
Saulus van Tarsus wat later Paulus van Christus geword het, het in ‘n pastorie grootgeword hy het persoonlike teologiese opleiding onder Professor Gamáliël, wat een van die grootste teoloë van sy tyd was gehad – maar wag, netnou laat ek dalk iets uit, laat Paulus self vertel:

HAN 22:3 Ek is ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is.

Net ingeval iemand dink dat Paulus of ek te veel van prof. Gamáliël maak – die Woord
getuig van Gamáliël as volg:

HAN 5:34 Maar ‘n Fariseër met die naam van Gamáliël, ‘n leraar van die wet wat by die hele volk hoog in aansien was, het in die Raad opgestaan en bevel gegee dat hulle die apostels ‘n bietjie buitentoe moes bring.

Om nou terug te keer na die fanatiese godsdienstige Saulus van Tarsus –
Hy getuig van homself verder onder andere as volg:

FIL 3:4 … As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer.
FIL 3:5 Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër;
FIL 3:6 wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.

Kom ons kyk gou hoe het Saulus van Tarsus sy godsdiens “ in geregtigheid in die wet
onberispelik” beoefen.
Hy getuig van daardie tyd in sy lewe as volg:

GAL 1:13 Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodedom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het;
GAL 1:14 en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral ‘n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders.

Nou is my ondervinding in die lewe dat daar mense is wat in ‘n gemeente sal opstaan en vertel van hul verlede voor hul bekering en hul slegte verlede so ‘n bietjie aandik onder die voorwendsel dat dit ‘n getuienis is maar eintlik is dit ‘n soort spog van:
“Dit is wat ek was maar kyk hoe lyk ek nou.”
So, net ingeval iemand dink dat Paulus ‘n soortgelyke kultoertjie, of is dit nou foefie op ons trek, kom ons kyk wat sê die Woord oor daardie tyd in sy lewe:
By geleentheid kom ‘n klomp mense by mekaar en stenig Stéfanus ‘n volgeling van
Jesus, dan staan daar geskryf:

HAN 7:58 En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van ‘n jongman met die naam van Saulus.

Net ‘n bietjie verder lees ons:

HAN 8:2 En godvresende manne het Stéfanus begrawe en ‘n groot rou oor hom bedrywe.
HAN 8:3 Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.

Toe ontmoet Saulus van Tarsus vir Jesus Christus en hy neem Jesus aan en Paulus van Christus skryf oor die liefde soos niemand voor hom en niemand na hom, na my mening, daaroor kon skryf nie. Geen wonder ook nie, hy het dit onder die leiding van die Heilige Gees geskrywe. Jy kan dit gaan lees in 1KOR 13.
Nou goed –

• Hoe weet ek wanneer my godsdiens leë godsdiens sonder God is?

Die antwoord is baie eenvoudig –
Wanneer my godsdiens sonder liefde vir God en my medemens is.

• Hoe weet ek eerstens of my godsdiens sonder liefde vir God is?

Dit is baie eenvoudig.
As ek nie liefde vir my medemens het nie, het ek verseker nie liefde vir my God nie.

1JHN 4:20 As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?

Jy sien –
Godsdiens sonder liefde vir God en met ander woorde sonder liefde ook vir my medemens, is sinnelose nuttelose godsdiens, maak nie saak oor watter ander rede ek dit beoefen nie.

Kyk hoe stel Paulus dit – hy sê dat hy eers as volg gelewe het:

GAL 1:14 en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral ‘n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders.

Toe ontmoet hy Jesus en toe skryf hy as volg oor die manier wat hy godsdiens beoefen het:

FIL 3:5-8
5 Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër;
6 wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.
7 Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag.
8 Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek (vullis, gemors) beskou, om Christus as wins te verkry.

Die Nuwe Lewende Bybel stel dit baie mooi as volg:

FIL 3:8 Ja, om Christus Jesus, my Here, persoonlik te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ‘n verlies beskou.  Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf.  Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry en een met Hom kan wees…

Jy sien, wáre Godsdiens bestaan uit liefde, liefde en nogmaals liefde.
Liefde – ten eerste vir my God sonder “maar …”.  Met ander woorde, sonder enige
voorwaardes.

MAT 22:37-40
37 En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele
hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38 Dit is die eerste en groot gebod.
Liefde ten tweede vir my medemens sonder”maar …” Met ander woorde, sonder
enige voorskrifte.
39 En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos
jouself.
40 Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Haat, verafsku die sonde maar kyk met liefde en deernis na die sondaar.
Ek gaan ook nou maar konserwatief in die keuse van my woorde wees in dit wat ek skryf.

Ek moet nie dat my godsdiens so vol ywer maar so leeg van liefde wees, dat om my in stede van die lieflike geur van die Evangelie, daar in my godsdiens net die stank van vullis is nie.

ROM 13:8  Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want
hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.

Ek weet dat satan dit vir my so moeilik as moontlik maak en gaan maak. Ja, ek weet ook dat ek nog ‘n hele end pad in die verband het om te loop maar ek werk hard daaraan om my godsdiens deurdronge van die liefde te maak. Want – prys die Naam van ons Here!

Ek het ‘n doelwit wat ek wil en kan bereik en ek wil jou aanmoedig om dit ook jou doelwit te maak.

Daar staan dit mos geskryf!:

KOL 3:14  En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.

Groete
Sakkie