KOM TOT INKEER EN LAAT JULLE IN DIE NAAM VAN JESUS CHRISTUS DOOP

KOM TOT INKEER EN LAAT JULLE IN DIE NAAM VAN JESUS CHRISTUS DOOP

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my, want die persoon is bekommerd dat sy nie Hemel toe sal gaan nie omdat sy as baba gedoop is.

Hier is dan hoe ek na hierdie saak kyk en om mee te begin is dit net reg dat ek noem dat ek ook as baba gedoop is, gekatkiseer en al die ander regte dinge gedoen het om, in my geval, ‘n onbekeerde lidmaat van die NG kerk te word.

Na my bekering egter, was dit vir my die normaalste ding om te doen om na belydenis van my geloof teenoor my Pastoor, my te laat doop.

Nou goed –

Jy is nie alleen in jou worsteling oor hierdie saak nie.  Baie mense loop en top hieroor.
Jy sal natuurlik verseker nie, soos ek die Woord verstaan, hel toe gaan omdat jy nie groot gedoop is nie, want die al omvattende vereiste om nie by ‘n toe Hemelse poort uit te kom nie is, of jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker.

Ek kon baie gedeeltes uit die Woord kwoteer het om te wys dat dit so is maar ek volstaan met die volgende:

JHN 14:6  Daarop het Jesus gereageer:  “Ek is die pad en die waarheid en die lewe.  Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

JHN 1:12  Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

JHN 3:14-19 
14 Net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, só moet die Seun van die Mens verhoog word
15  sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê
16  God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17  God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.
18  Die persoon wat aanhou om in Hom te glo, word nie veroordeel nie.  Die een wat egter nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.
19  Dit is die beslissende vonnis:  die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was boos.

Kyk watter hoë premie het Jesus en Sy Vader op Jesus se doop geplaas.
Jesus – deur dít wat Hy gesê en gedoen het, en Sy Vader – wat Hy gesê en laat gebeur het.

MAT 3:13-15 
13 Op ‘n dag het Jesus van Galilea af by die Jordaanrivier aangekom om deur Johannes gedoop te word.
14  Maar Johannes wou Hom keer.  “Ú behoort mý tog veel eerder te doop,” het hy gesê.  “Dit is ongehoord dat U nou na my toe kom!”
15  Maar Jesus het hom geantwoord:  “Wag nou!  Ons moet God se wil juis op hierdie manier gehoorsaam.”  Daarop het Johannes Hom tot die doop toegelaat.

Kyk nou na Jesus se Vader se optrede nadat Jesus Hom laat doop het:

MAT 3:16  Ná Jesus se doop het Hy dadelik uit die water geklim.  Net daar gaan die hemel toe vir Hom oop, en Hy sien hoe die Gees van God soos ‘n duif op Hom afdaal.
MAT 3:17  Daar kom toe ‘n stem uit die hemel wat sê:  “Hý is my geliefde Seun, ‘n Kind so na my hart.”

Ek was ook as baba gedoop maar toe ek tot bekering gekom het, het ek my weer laat doop en hoofsaaklik oor die volgende redes:
Onthou nou dit is soos ek dit uit die Woord ontdek het.  Dit is my opinie.
Volgens wat ek in die Woord sien, is my baba doop geheel en al onbybels.

HAN 2:38 Petrus antwoord hulle:  “Kom tot inkeer en maak reg met God.  Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang.”

Dan, elke persoon wat Jesus geroep het om Hom te volg, moes die besluit om Hom te volg ten aanskoue van mense/getuies in die openbaar neem.

Dan ook het Jesus dit as ‘n noodsaaklikheid beskou dat Hy ‘n besluit moes neem om gedoop te word en ek volg maar net vir Hom.  Onthou jy wat Hy gesê het?:

MAT 3:15  Maar Jesus het hom geantwoord:  “Wag nou!  Ons moet God se wil juis op hierdie manier gehoorsaam.”  Daarop het Johannes Hom tot die doop toegelaat.

Uiteindelik is dit ‘n saak tussen jou en ons Here.

Ek sluit af met ‘n gedeelte uit die Woord, wat ek glo,  op die doop en baie ander dinge in die Woord van toepassing is, wat deur sommige mense, leraars en denominasies, uitgehaal of verander is, omdat dit, volgens wat ek as ‘n bose stelling beskou:
“Nie meer vandag op ons van toepassing is nie.”.

Ek glo, dat hoe meer nougeset jy lewe volgens dit wat in die Woord vir Jesus se volgelinge geskryf is, hoe waardevoller is dit wat jy in hierdie lewe op die fondament Jesus Christus bou en ek ondervind ook in my eie lewe, dat hoe nader ek aan die Woord lewe, hoe beter is my verhouding en kommunikasie met ons Here.

Ek glo ook een van die redes waarom die kerk so swak word en wat sommige mense aanbetref, ‘n nuttelose instansie geword het, is juis omdat die kerk in baie denominasies die evangelie van Jesus Christus heeltemal afwater om vir die wêreld aanvaarbaar te wees.

1KOR 3:11-15 
11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie – Jesus Christus.

12  As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik, of silwer, of edelstene of hout of hooi of stoppels stoppels.

13  Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak.  Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.

14  Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.

15  Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word.  Hulle sal egter wees soos mense wat o die laaste oomblik uit ‘n brand gered word.

                 
Groete
Sakkie