KON ONS HERE NIE MAAR VIR JUDAS VERGEWE HET NIE?

KON ONS HERE NIE MAAR VIR JUDAS VERGEWE HET NIE?

Sakkie Parsons

Ek wil begin deur net dit weer duidelik te stel dat dit wat ek hier skryf volgens wat ek die Woord verstaan, net kan gedoen word as die persoon op wie dit van toepassing is Jesus Christus aangeneem het as, Verlosser en Saligmaker, want daar is net eenvoudig nie ‘n ander pad na God Almagtig toe nie:

JHN 14:6  Daarop het Jesus gereageer:  “Ek is die pad en die waarheid en die lewe.  Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

JESUS CHRISTUS –
HAN 4:12  Daar is geen redding by iemand anders nie.  Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie.

2TIM 1:9  Dit is God wat ons gered en gekies het om ‘n toegewyde lewe te lei.  Hy het dit gedoen, nie omdat ons dit verdien het nie, maar omdat dit sy plan was lank voor die begin van die wêreld, naamlik om sy onverdiende goedheid aan ons te bewys deur Christus Jesus.
2TIM 1:10  En nou het Hy dit alles aan ons duidelik gemaak deur die koms van Christus Jesus, ons Verlosser, wat die mag van die dood verbreek het en aan ons, deur die Goeie Nuus, die weg gewys het na die onverganklike lewe.

Iemand het my gevra en ek herhaal die vraag hier na die beste van my vermoë:
“Kon God nie maar vir Judas vergewe het nie?  Hy kan mos enige iets doen en Judas het mos berou gehad.”

Ek deel graag my antwoord aan hom ook met jou:

Dit is natuurlik waar, dat Judas berou gehad het oor wat hy gedoen het.

MAT 27:3-4  Toe Judas, sy verraaier, besef dat Jesus ter dood veroordeel is, het hy bitter spyt gekry en die 30 silwer geldstukke na die leierpriesters en die familiehoofde teruggevat 4met die woorde:  “Ek het verkeerd gedoen.  Ek het ‘n onskuldige man uitgelewer!  Hulle het geantwoord:  “Dit raak ons nie.  Dis jou probleem.”

In alles wat ek nou gaan sê, is daar een feit wat áltyd in gedagte moet gehou word:  Die mense is na God se beeld geskape en God het nog nooit daaraan verander nie en ek glo natuurlik ook, Hy sal nooit daaraan verander nie.

GEN 1:27  God het mense geskep na sy beeld;  volgens sy eie beeld het God hulle geskep;  manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

Twee van die eienskappe van ons Here wat elke mens wat ooit gebore was, gebore is en gebore sal word het, of jy ‘n wedergebore kind van ons Here is en of  jy iets anders aanbid.  Ja, selfs as die persoon satan aanbid of ‘n ateïs is, is dit deel van menswees en dit is:

Soos God, is ek onsterflik en soos God het ek ‘n wil van my eie.

Elke mens wat ooit gebore was en wat gebore sal word, sal of vir ewig in die Hemel saam met ons Here wees, of sal vir ewig in die hel dood gaan en tog nooit dood gaan nie.

Deur my wil uit te oefen om Jesus aan te neem as my Verlosser en Saligmaker, of om my wil uit te oefen om dit nié te doen nie, bepaal ek ook waar ek die ewigheid gaan deurbring.

Om nou weer terug te kom na Judas:

Om berou te hê is goed maar berou sonder om jou sonde teenoor ons Here te bely en vergifnis te vra, beteken niks.

Dan bedoel ek natuurlik wérklik berou, wérklik bely en wérklik vergifnis vra.

Beslis sal dit byvoorbeeld nie werk, as ek wil te werk gaan, soos ‘n man jare gelede wou doen, met ‘n voorstel aan ‘n vriendin van my nie.
Hy was getroud en sy was getroud.
Hy vertel haar toe, dat hy baie lief vir haar is en dat hulle met ‘n verhouding moet begin.
Soos wat sy my vertel het, was sy natuurlik baie geskok, aangesien hulle albei ook baie aktief in die gemeente gewees het.
Sy vra hom toe wat dink hy, dink ons Here van sy voorstel.
Waarop hy antwoord:
“ Ons vra net vir God om verskoning en dan vergewe Hy ons en dan is alles mos reg.”
Met groot respek gesê, God is nie ‘n idioot nie.
Selfs werklike berou, of dan droefheid oor wat ek gedoen het, sonder om die saak met ons Here uit te maak, beteken niks nie:

2KOR 7:10  want hartseer volgens die wil van God lei tot bekering, wat weer lei tot verlossing en dit gee nie aanleiding tot verwyte nie.  Daarteenoor lei wêreldse hartseer tot die dood.

As ek werklik berou het, wil ons Here verseker baie, baie graag vir my vergewe!
Daarom het Jesus Sy bloed en lewe aan die kruis gegee.

So as iemand wat nou hierdie skrywe van my lees en jy het werklik berou oor
die sonde in jou lewe – bely dit teenoor ons Here en vra Hom om jou te
vergewe.  Aanvaar dan Sy vergifnis, want ons Here wat nie kan lieg nie, sê:

JES 1:18  “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,”  sê die HERE.  “Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder.  Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het.  Selfs al is die vlek so rooi soos purper, Ek kan julle wit maak soos wol.”

Ek moet nie soos Judas vol berou rondloop sonder om dit na ons Here te
neem nie, want dan kan dit gebeur dat ek soos Judas met my berou oor dit
wat ek gesondig het en al, eendag die ewige hel instap.

1JHN 1:9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

Ek sluit af waar ek begin het –
Daar is net EEN by wie ons ware vergifnis en vrede kan kry:

Dit is Jesus wat hier praat:

JHN 10:8  “Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie op hulle gereageer nie.
JHN 10:9  Ek is die hek;  as iemand deur My ingaan, sal hy beslis gered word.  Hy sal ingaan en uitgaan en groen weiding kry.”

Die Ou Vertaling lees:

JHN 10:9  Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.
                 

Groete,
Sakkie