LAAT NIEMAND AS HY IN VERSOEKING KOM SÊ: EK WORD DEUR GOD VERSOEK NIE

LAAT NIEMAND AS HY IN VERSOEKING KOM SÊ: EK WORD DEUR GOD VERSOEK NIE

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand en ek gee die persoon die skuilnaam Pieta skryf aan my min of meer as volg.

“Ek het verlief op iemand geraak.
Die persoon is getroud en het kinders.
Ek wil net weet waarom laat ons Here ’n mens op iemand wat reeds getroud is verlief raak en wat doen ek nou?”

Ek wil begin deur te sê dat ons Here nooit so iets sal doen nie, want ons Here sal nooit iets in ‘n mens laat ontbrand wat Hy deurlopend in Sy Woord duidelik stel, dat Hy die soort ding haat nie.
Ons sal ook baie goed doen as ons onthou:

JAK 1:13-15 
13 Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.
14  Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.
15  Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

Dan, dit wat jy met my deel is een van satan se ou “tricks” om ons Here se kinders te vang en te vernietig.

Want glo vir my as jy nie ‘n besluit gaan neem om jou rug op hierdie ding te draai nie, jy, om dit baie lig uit te druk, groot probleme in die gesig staar.

Gaan lees byvoorbeeld die geskiedenis van Dawid en Bátseba en die latere gevolge van dit wat hulle gedoen het.
Jy kry dit daar in 2SAM vanaf 2SAM 11:2.

Daar is ‘n baie duur prys te betaal met hierdie soort ding as jy nie jou rug daarop draai nie.

Nou gaan ek iets sê wat veral vroue nie altyd wil glo nie:
Liefde is nie iets wat net sommer met jou gebeur nie.

Dit is nie iets wat met jou gebeur en jy kan of kon niks daaraan gedoen het nie.

Liefde is, of ons dit nou wil weet of soos sommige mense nie wil weet nie, dit is ‘n besluit wat jy neem.

Ek staaf altyd dit wat ek skryf uit die Woord en met die grondbeginsel van Jesus se mees belangrikste Liefdeswet en gebod aan jou en my:

Lees gou hier:

MAT 22:35-40 
35 En een van hulle, ‘n wetgeleerde, het ‘n vraag gestel om Hom te versoek en gesê:
36  Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Sien jy wat jy nou net gelees het?
Daar staan nie dat jy sommer lief vir ons Here gaan word nie.
Nee!
Jy kry ‘n opdrag, of as jy wil, ‘n bevel.
Jy moet ‘n besluit neem en daaraan gaan werk.  Want jy, kind van God, “moet” ons Here liefhê.
Ek sal nie eendag vir ons Here kan sê dat ek jammer is maar dit het net nie gebeur dat ek vir Hom lief geraak het nie.
Want!

MAT 22:37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

Sien jy wat jy nog nou net gelees het?
Daar staan nie, dat jy sommer lief vir jou naaste gaan word nie.
Nee!
Jy moet ‘n besluit neem en daaraan gaan werk.  Want jy, kind van God, “moet” Jou naaste liefhê soos jouself.
Ek sal nie eendag vir ons Here kan sê dat ek jammer is maar dit het net nie gebeur dat ek vir my naaste lief geraak het nie.
Want!

MAT 22:39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Vir dieselfde rede, sal ek nie eendag vir ons Here kan sê, dat ek dit nou nie kon help
nie – Dit het net gebeur – Ek het net op haar verlief geraak.
Want!

GAL 5:19  En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;

Aan jou skrywe aan my kan ek verseker sien dat ek met ‘n volwasse kind van ons
Here gesels.

So ek sê met groot deernis en Jesus liefde aan jou:

Draai jou rug op hierdie groot verkeerd wat satan jou wil aandoen.

JAK 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Ek stuur net hierna iets aan jou wat iemand geskryf het vir wie ek groot respek het,
net om aan jou te toon dat daar nog mense is wat redeneer soos ek.

Groete,

Sakkie