LAAT ONS DIE HEILIGMAKING IN DIE VREES VAN GOD VOLBRING

LAAT ONS DIE HEILIGMAKING IN DIE VREES VAN GOD VOLBRING

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende: “Hi daar my broer in Christus. Die vers was in jou boodskap: ‘10 Maagde’ dit sal gaaf wees as jy my meer kan vertel want ek wonder net wat sluit dit als in byvoorbeeld rook, seks, ensovoorts. Wag om van jou te hoor.”

Die teksvers in die vraag is:
2KOR 7:1  “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons, ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.”

Voordat ek oor die gedeelte wat die persoon oor wou weet praat, wil ek iets sê oor die persoon se twee voorbeelde wat genoem word, naamlik seks en rook:

Seks is dié een liefdesdaad/ontspanning/genot, wat geheel en al deur ons Here ontwerp en aan die mens gegee is – wat natuurlik voortplanting ook insluit, wanneer dit ons Here behaag. Daarom is dit so heerlik wonderlik om dit werklik te geniet en waardeer soos wat dit geniet en waardeer moet word. Daar is egter twee hoof-vereistes wat nagekom moet word, en omdat daardie twee vereistes in die tyd wat ons lewe, meer en meer verontagsaam word, word dit al hoe meer gedegradeer.  Soveel so dat mense – en jou skrywe is ‘n voorbeeld daarvan – baie keer dít wat ons Here uitgedink en aan die mens gegee het, beskou as iets leliks of sondig.

Die twee hoofvereistes vir seks soos ons Here dit beplan en aan die mens gegee het is:

(1) Dit moet plaasvind tussen ‘n man en ‘n vrou en
(2) dit moet binne die huwelik plaasvind.

Jou ander voorbeeld is rook.
Ek sien rook so – en ek gaan nie ‘n moordkuil van my hart maak nie. Ek het vir 15 jaar gerook. Dit is vuil. Dit stink. Dit maak dat jy onbedagsaam optree in die teenwoordigheid, of die onmiddellike omgewing van ander mense.
Jy beskadig jou eie liggaam en die mense wat daagliks saam met jou verkeer en in die meeste gevalle is hulle juis die mense vir wie jy veronderstel is om lief voor te wees.
Met ander woorde, van waar ek staan en kyk, is rook doodgewoon vieslik boos. Die ergste van alles, na my mening, is egter dat elke keer wat jy ‘n sigaret opsteek jy die tempel van ons Here bemors en beskadig.

1KOR 3:16  “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
1KOR 3:17  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.”

Rakende die gedeelte waaroor jy vra:

2KOR 7:1  “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons, ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.”

Gelukkig het ons na my mening ‘n mooi voorbeeld in die Woord van wat onder andere  “heiligmaking in die vrees van God volbring” behels:

FIL 4:8  “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

Ses keer kom die woord “alles” net in hierdie een vers voor. Vir my sê dit: Geniet die lewe, leef voluit. Hoe kan dit ook anders?  Jesus self het gesê:

JHN 10:10  “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”

Geniet die lewe, nie soos die mense in die wêreld dit geniet nie maar voluit in ons Here soos ons Here se kinders dit behoort te doen:

ROM 12:1  “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.

ROM 12:2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Ek het ook die skrywe: “Hoe kan ek heilig lewe” geantwoord wat hierby aansluit en wat ek op jou navraag met graagte aan jou sal stuur.

 

Groete,

Sakkie