LAAT ONS STREWE WEES OM ONS HERE IN GEES EN WAARHEID TE AANBID

LAAT ONS STREWE WEES OM ONS HERE IN GEES EN WAARHEID TE AANBID

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:
“Gee my jou mening asb, voorsang in die kerk, is dit ‘n verpligting om altyd ‘n diens te begin met vinnige koortjies voor jy oorgaan na ‘n aanbidding lied. Hoekom kan ‘n mens nie reguit met aanbidding begin nie. Mense kla daar is te min vinnige songs dan kla hul weer daar is te veel stadige of te veel Engels of te veel Afrikaans. Wat is jou mening.”

Ek deel dan met jou die een en ander om hierdie onderwerp soos wat ek dit uit die Woord verstaan maar eers net gou die volgende –

Ek dink, die rede waarom ons Here so ‘n groot verskeidenheid wyses van aanbidding in ons eredienste toelaat, is omdat die mens so ‘n diverse wese is.
Ek byvoorbeeld kan kool en spinasie in my bord nie verdra nie maar ek weet van mense wat gaande daaroor kan raak en jy weet self ek kan ‘n magdom soortgelyke voorbeelde noem.

Ek gaan die persoon wat aan my geskryf het soos ek altyd maak Frances noem.
Frances identifiseer ‘n paar verskillende sienings van hoe mense wil dat ‘n diens in sang moet begin naamlik:
Daar is mense wat vinnige koortjies wil sing.  Hier wil ek net noem, dat daar ook mense is wat glad nie koortjies in die diens wil toelaat nie.
Dan is daar mense wat volgens Frances kla, dat daar te min vinnige koortjies is.
Dan is daar volgens Frances mense wat ‘n probleem met stadige koortjies het.
Verder sê Frances, dat mense kla oor te veel Engelse sang.
Ook is daar volgens sy/haar skrywe mense wat minder Afrikaanse sang wil hê.
Dan, les bes , is daar nog Frances self wat liewer dadelik in aanbidding sou wou gaan.
Nou het jy klaar van ‘n hele paar verskillende menings oor hoe ‘n erediens moet verloop gelees en dit behels net sommige van die menings oor die sanggedeelte van die diens.
Glo my, daar is nog baie ander menings oor baie ander afdelings van die erediens waar mense ook verskil maar voordat ek Frances antwoord, laat ek eers iets sê omtrent aanbidding van ons Here.
Daar is net één manier om ons Here te aanbid en te dien en dit is in gees en in waarheid:

JOH 4:23  Daar kom egter ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid.
JOH 4:24 God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom vanuit ’n hegte verhouding (dit is met my hele wese) met die Gees (met hart en siel) en in waarheid (met my hele verstand) aanbid.”

My hele lewe moet volgens daardie wyse geprogrammeer wees.
Al mag ek natuurlik soms dit nie regkry nie moet dit deurentyd my strewe wees.

In die erediens, of wat die benaming van die diens volgens my ook al is, kom dit net heerlik sigbaar in harmonie met al my ander broers en susters onder die leiding van die voorganger tot uiting.
Ek deel gou met jou ‘n paar van die aanwysings wat ek in die Woord vind wat in ‘n erediens of wat ek dit ook graag wil noem aanwesig kan wees maar ek wil begin met dit wat, soos ek die Woord verstaan, áltyd deel van die diens behoort te wees en dit is die prediking van die Woord:

2TIM 4:2  Verkondig die woord van God. Hou daarmee vol, of die tyd daarvoor geleë is of nie. Jy moet jou mense met geduld reghelp, aanspreek en bemoedig terwyl jy hulle geduldig onderrig.

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek.
2TIM 3:17  Dit is God se manier om sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.

Vervolgens, so verstaan ek dit uit die Woord, kan jy enige musiekinstrument waarvan jy hou gebruik.  Jy hoef met ander woorde nie noodwendig net ‘n orrel te gebruik nie.

2KRO 5:13  Die trompetspelers en sangers het saam as eenheid opgetree met
lofsang en dank aan die Here. Met begeleiding van trompette, simbale en ander instrumente, het hulle gesing en met hierdie woorde die Here geprys:
“Hy is goed! Sy troue liefde duur vir altyd!”
Op daardie oomblik het ’n wolk die tempel van die Here gevul.
2KRO 5:14 Die priesters kon nie hulle verpligtings nakom vanweë die wolk nie, want die heerlike teenwoordigheid van die Here het die tempel van God gevul.

Dan is dit ook geoorloof om jou hande te klap:

PSM 47:2  Al julle volke, klap julle hande!
Juig voor God met groot gejubel!

Of jou hande in die lug op te steek:

1TIM 2:8 Waar julle ook al vergader, wil ek hê mans moet bid met hulle hande opgehef na God, vry van woede en twis.

Dan kan jy ook heerlik die sang genre gebruik waarvan jy hou:

EFE 5:19  en sing saam psalms en lofgesange en geestelike liedere. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here.

Dit alles gesê, is daar iets wat altyd volgens wat ek die Woord verstaan in plek moet wees as ek ‘n erediens instap om saam met my mede broers en susters ons Here te aanbid en dit is my geestesingesteldheid:

JOH 4:23  Daar kom egter ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid.

Ek het al gehoor dat iemand sê:
“Ek aanbid by daardie gemeente, want die vuur is daar en ek gaan waar die vuur is.”
Dit is so totaal verkeerd.
Ek moet nie gaan waar die vuur is nie.  Ék moet vuur en vlam vir ons Here wees waar ek gaan.

Wat ek bedoel is dit –
Ek moet in ‘n diens instap met die doel om ons Here te aanbid en in die proses my mede broers en susters aste ware te help om ook daardie ingesteldheid te hê.

‘n Goeie wyse om dit te doen, is om terwyl ek daar in die banke sit en wag dat die diens moet begin, ons Here se seën oor die diens af te bid en dan ook sommer vir my broers en susters hier om my ook te bid. 

Ons moet altyd onthou, dat sonder om veroordelend te wees, ek moet besef, dat daar ‘n klomp mense in die diens mag wees wat nie werklik geestelik gesond is nie en hulle moet gehelp word om gefokus te kom.

Omdat jy en ek onvolmaak is en ons met onvolmaakte mense te doen het op wie satan gedurig sy bose pyle na ons gedagtes ook daar in die erediens skiet, en omdat dit ook onvolmaakte mense is wat die reëls saamstel, gaan jy nooit ‘n erediens resep met alles wat daarmee gepaard gaan kry wat presies in almal se smaak gaan val, met ander woorde volmaak is nie.

So, nee, jy hoef nie altyd met opgewekte liedere te begin en later na die meer ernstig liedere oor te gaan nie.  Ons het nie so ‘n voorskrif in die Woord nie maar as my ingesteldheid is om ons Here saam met my broers en susters te aanbid, behoort dit nie vir my ‘n probleem te wees hoe die diens begin nie, solank dit wat plaasvind tot eer en verheerliking van ons Here is.

Wat die herders en leiers van dienste hulle mense moet leer, is om in ‘n diens in te stap, die oë en harte gevestig op Jesus, want dan sal die dienste al hoe meer verloop, soos wat ons Here wil dat dit daardie dag moet verloop.

Ek sluit dan nou my skrywe opsommende wyse af deur te sê:
Ons moet maar net elkeen sorg dat ons na die beste van ons eie vermoë met die regte gesindheid die diens instap, terwyl ons onthou dat saam met ons gaan daar baie mense die diens instap wat op daardie oomblik in daardie spesifieke diens geestelik nie baie sterk is nie, wat ons geestelike ondersteuning gaan nodig hê, al is ons ondersteuning dan net deur byvoorbeeld in opregtheid uit volle bors te sing.

HEB 12:28  Daarom moet ons wat bevoorreg is om hierdie onwankelbare koninkryk te ontvang, dankbaar wees, en ons dankbaarheid daarin laat blyk dat ons God gelukkig maak deur Hom met eerbied en ontsag te dien.

Groete,
Sakkie