LAAT U WIL GESKIED – DEEL 2

LAAT U WIL GESKIED – Deel 2

Sakkie Parsons

In hierdie, die tweede skrywe in die kort reeks:  “Laat U Wil Geskied”, begin ek deur met jou een voorbeeld uit die Woord te deel waar ons Here in een geval mense se gebede nie geantwoord het nie en net daarna dieselfde mense se gebede op ‘n bonatuurlike wyse geantwoord het.

Ons lees:

HAN 12:1-10  In dié tyd het koning Herodes Agrippa party van dié wat aan die kerk behoort, laat arresteer en hulle mishandel. 2Hy het Jakobus, die broer van Johannes, met ’n swaard laat vermoor. 3Toe Herodes sien dat dit by die Jode byval vind, het hy nog verder gegaan deur ook Petrus tydens die Fees van die Ongesuurde Brood te laat arresteer. 4Hy het hom in die tronk gesit en deur vier afdelings van vier soldate elk laat bewaak. Herodes wou hom ná Paasfees in die openbaar verhoor.  5So is Petrus dan in die tronk bewaak. Die kerk het aanhoudend vir hom tot God gebid.  6Die nag voordat Herodes hom in die openbaar sou verhoor, het Petrus tussen twee soldate geslaap terwyl hy met twee kettings geboei was en ander wagte die tronkdeur bewaak. 7Meteens staan daar ’n engel van die Here by Petrus, en ’n lig skyn in die sel. Die engel stoot toe aan Petrus se sy, en maak hom wakker en sê: “Staan gou op!” Die boeie het van sy polse afgeval. 8Toe sê die engel vir hom: “Maak vas jou belt en trek jou sandale aan.” Hy het so gemaak. Daarna sê die engel vir hom: “Trek jou bo-kleed aan en kom agter my aan.”  9Petrus het hom uit die sel gevolg. Hy het nie besef dat die optrede van die engel werklikheid was nie, maar het gedink hy sien ’n gesig. 10Hulle is by die eerste wag verby en ook by die tweede, en toe hulle by die ysterhek kom wat na die stad toe lei, het dit vanself vir hulle oopgegaan. Hulle het buitentoe gegaan en ’n ent met die straat af gestap. Toe het die engel Petrus skielik verlaat.

Eers word Jakobus gearresteer en sit in die tronk en Jesus se volgelinge waaronder ook Jakobus wat in die tronk sit, se broer Johannes bid en ons Here laat tog toe, dat Herodes Jakobus vermoor.

Toe sit Herodes Petrus ook in die tronk om te vermoor en Jesus se volgelinge waaronder ook Johannes die broer van Jakobus is, bid en ons Here stuur ‘n engel om Petrus uit die tronk te red.

Dit is ook baie interessant, dat in Petrus se geval, as jy verder lees, sien jy dat die meeste van die mense wat vir Petrus gebid het, dit nie eens geglo het toe ons Here hulle gebed verhoor het nie.
Baie van hulle se gedagtes was nog seker vol van die vermoorde Jakobus.

Ons lees:

HAN 12:11-15 

11 Uiteindelik dring dit tot Petrus deur wat met hom gebeur het en hy sê vir homself: “Nou besef ek eers regtig dat die Here sy engel gestuur het en my uit die mag van Herodes gered het en van die kwaad wat die Jode gehoop het om my aan te doen!” 

12 Toe dit vir hom duidelik geword het, is hy na die huis van Maria, die ma van Johannes (sy noemnaam is Markus), waar ’n taamlike groep saam was en gebid het.

13 Hy het aan die buitedeur geklop, en ’n diensmeisie met die naam Rodé het kom hoor wie dit is. 

14 Toe sy Petrus se stem herken, het sy van blydskap nie die deur oopgemaak nie, maar binnetoe gehardloop en uitgeroep dat Petrus by die buitedeur staan! 

15 Maar hulle het vir haar gesê:   “Jy is skoon van jou wysie af!” Toe sy egter daarmee volhou, het hulle gesê:  “Dan is dit seker Petrus se engel.”

Ek verstaan baie dinge wat met my en om my gebeur nie maar ek gaan nie dat dit my beswaard maak, of my geestelik vermoei nie.

Die satan val my genoeg aan dat ek hom ook nog gaan toelaat om my, my Verlosser en Saligmaker se manier van dinge doen of hoe Hy toelaat te bevraagteken.

Soos ek al so baie gesê het, sê ek nou maar weer –
Ek glo en volg ons Here soos ‘n kind.

Hy leer my in Sy Woord om dit so te doen en daar is ‘n baie goeie rede waarom Hy sê, dat ek so in Hom moet glo en Hom so moet volg, so dit is hoe ek dit doen.
Ek bemoedig jou dan nou ten slotte deur die volgende uit die Woord met jou te deel:

MRK 10:15  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

As ek nie verstaan wat en hoekom ons Here deur Sy hand of dan deur Sy optrede iets doen, of laat plaasvind  nie, vertrou ek Sy liefdevolle hart waarmee Hy Jesus om my ontwil na Golgota toe laat stap het en die liefde volle hart waarmee Jesus om my ontwil na Golgota toe gestap het.

JOH 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

JOH 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Ek laat jou dan nou ten slotte met die volgende gedeeltes uit die Woord:

JES 40:28  Het jy nog nooit gehoor of verstaan nie?
Weet jy nie dat die Here van altyd af God is nie?
Hy is die Skepper van die hele aarde.
Hy word nie moeg of gedaan nie
en niemand kan die dieptes van sy insig meet nie.

JES 55:8  “My gedagtes is anders as julle s’n,
en julle paaie is nie my paaie nie,” sê die Here.
JES 55:9  “Want soos die hemel hoër is as die aarde,
so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen,
en my gedagtes hoër as julle gedagtes.

PRE 5:6  Saai jou saad vroegoggend, maar moenie ophou as dit aand word nie. (doen wat jy as kind van ons Here kan doen en los dit wat jy nie kan doen nie dan in die geloof, in die hand van ons Here) Jy weet nie watter een suksesvol sal wees, en of al twee saam ’n goeie oes sal lewer nie.

Hiervan egter kan jy baie seker wees.
Dit wat gebeur het, of gaan gebeur,  pas perfek in ons Here se volmaakte plan en dit is uiteindelik wat vir my as kind van ons Here in hierdie lewe tel.

Groete,
Sakkie