LEEF JOU LEWE AS ‘N SOUTBESPRINKELDE OFFER VIR JESUS

LEEF JOU LEWE AS ‘N SOUTBESPRINKELDE OFFER VIR JESUS

Iemand skryf aan my en vra:

“Ek wil net weet wat beteken Markus. 9 vers 49.”

Kom ons lees eers die gedeelte:

MRK 9:49  Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.

Om hierdie gedeelte te verduidelik, moet ons by die begin, eintlik die wese van Christen-wees begin.
Jesus se opdrag aan Sy volgelinge is – dit is die heel eerste Christene wat Hy vir ongeveer 3 jaar opgelei het en natuurlik ook vir jou en my en elke ander mens wie Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker:

MAT 28:18-20
18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Dan, net voor Sy Hemelvaart onderstreep Hy hierdie opdrag aan hulle wat geld vir elke ware Christen met hierdie woorde:

HAN 1:8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Daar staan nie geskryf, dat jy kan as jy wil ‘n getuie vir Jesus wees nie.  As jy die Heilige Gees inwonend in jou het, sal jy deur jou liefde vir Jesus gedwing, geen ander keuse wil hê nie.
Natuurlik kan nie almal van ons sing, of in die openbaar bid, of preek, of sendingwerk doen nie en jy kan nog sommer baie ander voorbeelde gebruik maar ons almal het, om dit so te stel, een ding in gemeen, wat ons almal kan gebruik en die ware Christen, sal dit bo alles wil gebruik –
Ons het ‘n lewe.
So, begin deur so te lewe, dat die mense die familie-ooreenkoms tussen jou en Jesus sal sien:

ROM 8:16  Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;
ROM 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, …

Kom ons kyk nou na Markus 9:49 maar nou lees ons ook vers 50:

MRK 9:49  Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.
MRK 9:50  Die sout is goed, maar as die sout souteloos word, waarmee sal julle dit smaaklik maak? Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar.

Jesus praat hier met mense wat onder die Mosaïese wet geleef het en onder daardie wet was hulle bewus van die volgende wat daar geskryf is:

LEV 2:13  En jy moet al jou spysoffers met sout berei, en jy mag die sout van die verbond van jou God by jou spysoffer nie laat ontbreek nie; by al jou offers moet jy sout bring.

Sout is ‘n baie goeie preserveer middel
Ons, jy en ek en dit wat ons vir Jesus en Sy evangelie doen, is eintlik in hierdie wêreld soos ‘n offer.  ‘n Lieflike geur wat aste ware voor Hom opgaan:

2KOR 2:14  Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.
2KOR 2:15  Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan;

Dit is hoe jy en ek moet lewe ook in dit wat ons vir Hom doen – wat ons, om dit so te stel, in en deur ons lewe vir hom offer.

Ja, ons en dit wat ons vir Hom in en deur ons lewe offer, moet so goed geestelik gesout, of dan geestelik gepreserveer wees maar al is iets goed gesout en so gepreserveer en jy laat dit lank genoeg in die weer en wind, byvoorbeeld in die son lê, gaan daardie sout laf word en gaan dit vrot word.
Net so, as ons onsself lank genoeg aan die sonde blootstel, gaan ons en ons offers deur ons lewe vrot word, omdat die geestelike sout laf geword het.

Weet jy?
Jy en ek, ons wie Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, is so waardevol in Sy oë, dat ons uiteindelik nie net geestelik gesout is en so gepreserveer is nie maar Hy sien jou en my eintlik as sout wat Hy wil gebruik om nog ander siele in hierdie wêreld te sout en so te preserveer vir die hemel.

Ek sluit dan jou vraag oor Markus 9:49 af met die volgende gedeelte uit ons Here se kosbare Woord en dit is Jesus self wat hier praat:

MAT 5:13-16 
13 Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.
14  Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;
15  en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
16  Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

So, jy wie Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker –
Preek en verkondig Jesus se Evangelie eerstens deur jou lewe wat jy lewe.
Laat die mense om jou die familie trekke van Jesus duidelik in en deur jou lewe sien.

Ja, soos iemand dit so goed gestel het:
“Verkondig die evangelie van Jesus Christus oral tydig en ontydig waar jy gaan en dan wanneer dit nodig is, gebruik woorde ook.”

Met ander woorde mede-pelgrim – saam op ons pad Hemel toe –
Terwyl ons daagliks deur ons lewe vir die mense om ons Jesus se Liefde-evangelie verkondig, laat ons onthou wanneer ons woorde ook gebruik:

KOL 4:6  Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.

Groete,
Sakkie