LEI ONS NIE IN DIE VERSOEKING NIE MAAR VERLOS ONS VAN DIE BOSE

LEI ONS NIE IN VERSOEKING NIE, MAAR VERLOS ONS VAN DIE BOSE

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my, hoe ek die eerste gedeelte van Mat 6:13 verstaan, want God sal ons mos nie in “versoeking” lei nie.

Hier is dan hoe ek die gedeelte verstaan.
Ons lees:

MAT 6:13  en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Die persoon wat aan my geskryf het, se probleem lê in die eerste gedeelte naamlik:

MAT 6:13  en lei ons nie in versoeking nie, …

Die eerste ding wat ons verseker kan weet, is dat ons Here mense nie in versoekings, soos in sonde in sal lei nie.

JAK 1:13  Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.

So, hoe moet ons dan die eerste gedeelte van Mat 6:13 verstaan?

Iemand sê dalk, dat dit net verkeerd uit die oorspronklike vertaal is.
Nou, ek is geensins ‘n kenner van die oorspronklike tale nie maar ek het die grootste
respek en vertroue in die mense wat ons Here met die vertaling na Afrikaans vertrou
het.
Terwille van die baie skeptici van so baie mense in hierdie vertalers, het ek omdat ek
deur die genade van ons Here die voorreg het om ‘n helle paar ander vertalings te hê,
wat deur ‘n groot verskeidenheid ander vertalers vertaal was, gaan kyk – en hulle almal
het dit min of meer presies dieselfde vertaal.

Die vertalings waarna ek gaan kyk het, omdat ek hulle in my besit het, is onder
andere:

1983 Vertaling.
Die Lewende Bybel.
Die Nuwe Lewende Vertaling.
King James Version.
Living Bible.
Modern Language.
Revised Standard.

So, alhoewel ek dit self geweet het, het hierdie verskillende vertalings deur ‘n groot verskeidenheid verskillende vertalers, net weer bevestig dat daardie gedeelte nie verkeerd vertaal is nie.
As die vertaling reg is en ons Here lei ons nie in versoeking nie, hoe moet ons die gedeelte dan verstaan?
Want daar staan dit:

MAT 6:13  en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. …

Toe ek na aanleiding van die vraag aan my weer oor hierdie saak sit en dink, hoe ek dit soos ek dit glo en verstaan kan verduidelik, sien ek die volgende prentjie in my gedagtes:
Soos ‘n Herder loop Jesus voor my in hierdie Lewe op my pad, wat ‘n nou pad, of dan, ‘n smal pad is Hemel toe.

JHN 10:4  En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.

Ja, ek luister na Sy stem en ek volg Hom.

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.

Ek het gesê dat dit ‘n nou pad, of dan, ‘n smal pad is waarop ek Jesus volg.

MAT 7:13  Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
MAT 7:14  Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

Daar is egter tot teenaan hierdie nou , of dan, smal pad allerlei versoekings/gemors van satan, wat hy daar geplaas het, met die uitsluitlike doel om my aandag af van Jesus se stem en leiding af te kry.
Die satan kry dit dan ook reg om so baie Christene se aandag van Jesus en Sy leiding af te kry, dat die meeste Christene van die nou pad afdwaal en dan nog volgens hulle eie siening nog steeds agter Jesus aan loop – maar eintlik loop hulle langs die nou pad al ploeterend deur satan se gemors.

Hulle redeneer iets soos die volgende:
Hulle is gedoop. Sommige kan nog daarby voeg; en gekatkiseer.
Hulle leef wat die mense om hulle aanbetref mooi ordentlike lewens.
Hulle sit gereeld in die kerk, ens, ens maar in werklikheid is daar nie werklik ‘n verskil tussen hulle manier van lewe en die mense om hulle wat nie belydende Christene  is nie.
Daar is selfs teoloë wat langs hierdie nou/smal pad in die gemors van satan gaan ploeter, deur byvoorbeeld satan se gemors van kansels af onder die dekmantel van Jesus se Evangelie te verkondig.
Ook het ek nou die dag gehoor van ‘n herder wat sy vrou forseer het om saam met hom pornografie te kyk.

So, ek glo, dat wat Jesus eintlik hier vir ons sê is en dit is ook hoe ek dit in my eie lewe verstaan en uitlewe:
Ons moet ons Here bid, dat terwyl Hy ons lei, HY ten spyte daarvan, dat Hy ons met ‘n wil van ons eie geskape het, Hy ons nie moet toelaat om ons eie wil te gebruik deur van die nou pad af te dwaal en in satan se gemors langs die pad rond te ploeter nie, terwyl ons vas onder die indruk is, dat ons Jesus nog volg.
Want ons, die mens, se geneigdheid is soos my groot held Paulus dit ook wat homself aanbetref, stel:

ROM 7:15  Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek.

Daarom is my hart se bedoeling as ek by hierdie gedeelte van die “Onse Vader gebed” kom, dat ons Here, terwyl Hy my lei, Hy ten spyte van my eie vrye wil wat Hy my gegee het, my tog nie moet toelaat om daardie wil te gebruik, om van Sy pad af te dwaal na satan se gemors toe nie maar my moet verlos van die bose.  Ook daardie bose drange wat in my mag opkom om van die pad af te beweeg om in satan se gemors te ploeter.

Ek weet ook dat Hy by magte is om dit vir my te doen.  Want Hy is Here van die heelal en alle krag en heerlikheid in hierdie skepping is syne vir ewig.

MAT 6:13  en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Groete,
Sakkie