LEWE MET VERTROUE IN ONS HERE

LEWE MET VERTROUE IN ONS HERE

Sakkie Parsons

Ek deel graag met jou die volgende:

Ek hoor ‘n man gesels en ek dink aan my eie, op die oomblik baie moeilik hartseer omstandighede, sowel as sommige van my dierbare vriende, wonderlike kinders van ons Here,  wat ook onder baie moeilike omstandighede deur hierdie lewe voortstap na ons wonderlike ewige tuiste.

Ek dink toe hoe satan dit soms regkry om ons oor te haal om oorhaastig dinge in ons eie hande te neem, omdat hy met duisende jare se ondervinding weet, dat ons, dit is die mens,  dan die omstandighede waarin ons op die  oomblik is, in ‘n gemors gaan verander wat ons huidige omstandighede na kinderspeletjies gaan laat lyk.

Dit is daarom, dat ons Here in Sy kosbare Woord ons – en amper skryf ek, tot vervelens toe -aansê om nié haastig te wees nie en om Hom te vertrou en ek deel met jou enkele voorbeelde:

SPR 19:2  Geesdrif sonder kennis help niks.
Oorhaastigheid stuur jou in die verkeerde koers.

SPR 21:5 Getroue werk lewer wins op.
Afskeepwerk (Oorhaastigheid) lei tot gebrek.

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

SPR 21:5  Die planne van die vlytige is net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, kom net tot gebrek.

Wat ons soms doen is;  Ons konsentreer as kinders van ons Here só op ons huidige omstandighede, dat ons dan soos Petrus toe hy op die water geloop het, ons ook nie vir Jesus voor ons raaksien nie, maar net die skrikwekkende golwe wat op ons afgerol kom:

MAT 14:25-31
25 Kort voor dagbreek het Jesus op die see na hulle toe aangeloop gekom. 26Toe die dissipels Hom so op die see sien loop, was hulle verskrik, en hulle het benoud begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook.
27 Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.”
28 Petrus sê toe vir Hom: “Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom.”
29 “Kom dan,” het Jesus gesê.
Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop. 30Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: “Here, red my!”
31 Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom gegryp. “Jou geloof is maar bitter klein,” sê Hy vir hom. “Waarom vertrou jy My nie?” 
32 En toe hulle in die skuit terugklim, gaan lê die wind.

Wat weer by my opgekom het en dit is waarom ek hierdie skrywe met jou deel:  Is ons moet ons Here vertrou wat onder andere vir ons laat skryf het:

1KOR 10:13  Onthou, die versoekings ( beproewings) wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking (beproewing) te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking (beproewing) sal Hy vir ’n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur.

Ek onthou ook dat ons lees:

HEB 13:5  … want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.
HEB 13:6  Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?

Wat ons moet doen, as ons soms na ons omstandighede kyk en ongeduldig raak oor ons Here wat dan, so lyk dit vir ons, niks wil doen nie, ons net ons oë op ons Here moet hou en op Hom vertrou.  Want dit is wat Hy wil hê dat ons moet doen:

PSM 27:13-14
13 Tog is ek daarvan oortuig:
Die Here se goedheid
sal ek sien hier in die land van die lewendes.
14 Vertrou op die Here!
Wees sterk en skep moed!
Ja, vertrou op die Here!

PSM 33:18-22
18 Maar die Here waak oor dié wat Hom dien,
oor hulle wat hoop op sy troue liefde
19 om hulle te red van die dood
en hulle in hongersnood aan die lewe te hou.
20 Ons vertrou op die Here om ons te red.
Hy is ons hulp en beskerm ons soos ’n skild.
21 In Hom is ons harte verheug,
want ons vertrou op sy heilige Naam.
22 Laat u troue liefde ons oordek, Here,
want ons hoop op U alleen.

Dan, terwyl ons met ons oë stip op Jesus voortstap deur hierdie lewe en ons soms voel of ons knieë wil swik, dan herinner ons, onsself, dat dit God almagtig is wat Sy oë op ons het en dat Hy ook vir ons laat skryf het:

JES 55:8  “My gedagtes is anders as julle s’n,
en julle paaie is nie my paaie nie,” sê die Here.
JES 55:9  “Want soos die hemel hoër is as die aarde,
so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen,
en my gedagtes hoër as julle gedagtes.

Dan is dit heerlik om te onthou, dat daar êrens voor ons, maak nie saak wat nog vir ons voorlê nie maar verseker, daar êrens voor ons, dalk net buite sig, om die volgende draai, wag daar vir ons:

1KOR 2:9  Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde:
“Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het;
     wat in niemand se hart opgekom het nie –
dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet.”

Moet Jesus dalk vir jou ook vandag vra:

MAT 14:31  Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom gegryp. “Jou geloof is maar bitter klein,” sê Hy vir hom. “Waarom vertrou jy My nie?”

Ten slotte bemoedig ek jou ook by alles wat jy nou gelees het met die gedeelte uit ons Here se Woord, wat na my bekering my oorlogskreet geword het elke keer as satan my aanval en my probeer platloop:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Groete,
Sakkie