LEWE NA DIE DOOD – DEEL 2

LEWE NA DIE DOOD – DEEL 2

Sakkie Parsons

Na aanleiding wat ek geskryf het oor ”Jou laaste tree op aarde en jou eerste tree daarna” en ‘n hele paar ander gedagtes oor dieselfde onderwerp, skryf iemand toe weer aan my – en ek plaas die vraag soos ek dit ontvang het:

Pastoor, nou sê asb vir my, wat word dan van die oordeelsdag, as al God se kinders dan reeds nou al by Jesus is?

Ek het gedink  dat almal wat sterf, gaan na n plek van rus?

In Deel Een van hierdie kort reeks, het ek verduidelik waar almal van die skepping af tot nou hier waar jy lees, wat hierdie tydelike lewe met die ewige lewe verwissel het en ‘n goddelose lewe gelewe het, nou is, volgens die getuienis wat ons in ons Here se kosbare Woord vind.

In hierdie skrywe gaan ek dan nou volgens die getuienis uit ons Here se kosbare Woord vir jou wys waar almal wie Jesus Christus aangeneem het as hul Verlosser en Saligmaker, nou is maar wie ook eendag voor ons Here Jesus Christus se troon gaan staan om beoordeel te word.

Let op, ons gaan nie daar staan om veroordeel te word nie maar ons gaan daar staan om beoordeel te word.

Want jy sien:

ROM 8:1  Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

ROM 8:2  Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.

Nou goed.

Ons weet nou dat daar geen veroordeling vir ons voor ons God en Verlosser Jesus Christus se regterstoel gaan wees nie – Maar waar gaan ons heen as ons uit hierdie lewe tree? En waar is al die ware gelowiges dan nou tot op daardie dag, dat ons almal voor die enige waaragtige God se troon gaan staan om beoordeel te word?

Kom ek wys net eers vir jou ‘n voorbeeld van waar die Godvresende mense is wat hierdie lewe uitgetree en die ewigheid ingetree het voor ons Verlosser en Saligmaker Jesus Christus die Nuwe Testament opgestel en in werking gestel het.

Ek kon ‘n hele paar voorbeelde uit die Woord kwoteer het, soos byvoorbeeld Henog en Elia maar ek volstaan met hierdie, vir my, uitsonderlike wonderlike voorbeeld wat ons in die Nuwe Testament vind.  Die Nuwe Testament wat vir ons  alles wys wat ‘n christen nodig het om in hierdie lewe te weet, om hom/haar te help op ons pad uit hierdie lewe, die heerlike ewige lewe in.

Ons lees en jy kan hierdie grootse gebeurtenis ook in Markus 9:2 en verder gaan lees maar ek kwoteer vir jou in hierdie skrywe van af Mattheus 17:1:

MAT 17:1-3

1  En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg in die eensaamheid gebring.

2  En Hy (Jesus) het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.

3  En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom.

Het jy gesien wat jy nou gelees het?

MAT 17:3  En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom.

Moses en Elia het honderde jare voor Petrus, Jakobus en Johannes gelewe en het reeds uit hierdie lewe die ewigheid ingetree en nie net het Moses en Elia honderde jare voor hierdie drie dissipels reeds uit hierdie lewe die ewigheid ingetree nie, maar hulle het ook honderde jare uitmekaar hierdie lewe die ewigheid ingetree – en hier staan hulle soos ou vriende met mekaar en met Jesus en gesels, maar eintlik is dit ook nie snaaks dat hulle ou vriende is nie, al het Elia lank na Moses hierdie lewe die ewigheid ingetree nie.  Hulle ken mekaar al persoonlik honderde jare en nie net ken hulle mekaar al honderde jare nie maar hulle ken ook vir Jesus al honderde jare, want hulle albei was dan al honderde jare saam by Jesus in die hemel.

Ek volstaan met die volgende twee voorbeelde, wat ek, om dit so te stel, gebruik om te onderstreep  om jou en my eindbestemming volgens die Heilige Woord uit te wys, as ons hierdie lewe die ewigheid intree.

Die eerste vind ons in Lukas 23:42-43 maar ek kwoteer vir jou van af Lukas 23:39. 

LUKAS 23:39-43

39  En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons.

40  Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? —

41  ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.

42  En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.

43  En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.

Jesus sê vir die man:

LUK 23:43  En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.

Soos ek altyd vir mense sê, sê ek nou maar weer.

As Jesus sê vandag, kan jy verseker weet dit is vandag en as Jesus sê: met My, kan jy verseker weet, dit is met Jesus.

Ek kon nou nog genoem het, byvoorbeeld van  Stephanus wat terwyl hy tereggestel is, reeds gesien het waar hy oor ‘n kort tydjie later gaan wees, maar ek volstaan met wat Paulus in die verband by geleentheid geskryf het en hou in gedagte as jy dit lees – Die man wie dit geskryf het naamlik Paulus, is ook die man aan wie Jesus die grootste gedeelte van Sy nuwe testament wat Hy opgestel het van hoe ons deur hierdie lewe moet gaan toevertrou het.

Jesus het selfs nie aan een van die dissipels wat by die laaste Paasmaal gewees het dit toevertrou om my en jou oor die heilige Nagmaal te leer nie maar selfs al was Paulus nie eens daar nie, het ons Here soveel vertroue in Paulus gehad, dat Jesus dit aan Paulus toevertrou het om jou en my oor die heilige Nagmaal te leer. Jy kan dit gaan lees daar van af 1Korinthiërs 11:23.

Dan kom Paulus ook en skryf later onder die leiding van dieselfde Heilige Gees, wat hy verwag en wat jy en ek kan verwag as ons uit hierdie lewe die ewigheid intree met Jesus se Heilige Gees inwonend in ons.

FIL 1:21-23

21  Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.

22  Maar as ek in die vlees moet lewe, dan beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie.

23  Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;

Ja, as ons uit hierdie lewe uittree, tree ons die hemel in en gaan ons eendag saam met die res van die wêreld voor Jesus Christus se troon staan.  Soos ek reeds gewys het – maar nie om veroordeel te word nie, maar om beoordeel te word en ‘n goeie voorbeeld van hoe daardie beoordeling gaan werk lees ons in1Korinthiërs 3, daar vanaf vers 11:

 1KOR 3:11-15

11  Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.

12  En as iemand op dié fondament bou goud, (‘n voorbeeld van iets waardevol wat nie kan verbrand nie) silwer, (‘n voorbeeld van iets waardevol wat nie kan verbrand nie) kosbare stene, (‘n voorbeeld van iets waardevol wat nie kan verbrand nie) hout, (wat deur vuur verbrand kan word) hooi, (wat deur vuur verbrand kan word) stoppels (wat deur vuur verbrand kan word) —

 13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag (voor Jesus se regterstoel) sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.

14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;

15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Want ons weet ook, dat ons GOD is ook soos ‘n verterende vuur – en ek kon ‘n hele paar voorbeelde gegee het, maar ek volstaan wat dit aan betref met die volgende:

DEUT 4:24-26

24  Want die HERE jou God is ‘n verterende vuur, ‘n jaloerse God.

25  As jy kinders en kindskinders sal verwek en julle in die land verouderd sal wees en verderflik handel deurdat julle ‘n gesnede beeld maak, ‘n gelykenis van enigiets, en doen u wat verkeerd is in die oë van die HERE jou God om Hom te terg,

26  dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word.

Dit het ook uiteindelik gebeur en hulle het vir ongeveer 2,000 jaar nie hulle land as ‘n volk bewoon nie.

Luister kind van God –

Vir my is dit asof Jesus hier amper reg aan die einde van Sy Nuwe Testament, wat Hy vir ons opgestel het, Hy, Jesus, dit net weer sterk op ons harte druk, wat ons moet gebruik om ons te wys hoe ons deur hierdie lewe moet gaan om eendag voor Hom te verskyn en beoordeel te word, naamlik Sy evangelie, volgens Sy Nuwe Testament wat Hy vir ons opgestel en deur Sy apostels voor ons laat neerskryf het:

OPG 22:12  En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.

OPG 22:13  Ek is (sê ons Here Jesus Christus) die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.

Groete,

Sakkie