LIEFDE IS DIE BELANGRIKSTE OPDRAG – DEEL 1

LIEFDE IS DIE BELANGRIKSTE OPDRAG  – DEEL 1

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en die volgende aan my gevra wat hierop neergekom het:
Ek is ‘n Christen, wat moet ek nog meer doen om in die Hemel te kom?
Asook –
Verduidelik vir my jou siening van die begrip, ”Om heilig te lewe.’

In die skrywe wat ek uitgestuur het, wat aanleiding tot hierdie vrae gegee het, het ek onder andere geskryf:
“Party Christene sal jou laat verstaan dat, – ek het my bekeer en ek het my selfs laat groot doop – so my saak is reg en ek is op pad hemel toe.  Ek sê, dit is die regte ding wat jy gedoen het maar dit alleen sal jou nie by die hemel se poorte laat uitkom nie.

Iemand anders sal dalk byvoeg dat, – jy darem nog in tale ook moet praat. Ek antwoord dan dat al sou jy die spreek in tale byvoeg en jou dan daarop beroep dat jy nou op pad na die hemel is, slaan jy die bal geheel en al mis.

‘n Ander persoon sal dalk hier nog iets verder wil byvoeg en sê, – jy moet jou bekeer, laat doop, in tale praat en dan nog die werke ook doen.
My antwoord is dat dit ook baie belangrik is maar, dat dit nog nie vir jou by die hemel gaan uitbring nie.

Nog ‘n persoon sal dalk nog kan byvoeg, – dat die een ding wat jy nou moet byvoeg is dat jy ‘n goeie voorbeeld moet wees. Hierby verstaan party mense om die regte voorbeeld te stel moet jy heeltyd ‘n front voorhou, moet jy heeltyd die goeie Christen “show” op sit.”

In hierdie skrywe sal ek dan deel met die eerste vraag kortliks soos ek dit sien, omdat die skrywe aan jou andersins ‘n bietjie lank gaan wees maar ek sal ook die ander vraag antwoord soos ek dit sien.

Die vraag dan net weer:
“Ek is ‘n Christen, wat moet ek nog meer doen om in die Hemel te kom?”

Ek wil dan begin om dadelik te sê, dat jy en ek as kinders van ons Here niks kan doen om in die Hemel te beland nie.  JESUS het op Golgota álles gedoen om dit vir jou en my moontlik te maak om die ewigheid saam met Hom in die Hemel deur te bring.

EFE 2:4-6  Maar God se onverdiende liefde is oorvloedig.  Die liefde waarmee Hy ons liefhet, is so groot 5dat toe ons verkeerde lewe ons geestelike dood veroorsaak het, Hy ons saam met Christus lewend gemaak het.  Dis dus God se onverdiende goedheid wat maak dat julle gered is!  6Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ‘n sitplek in die hemel gegee.

Weet jy, toe selfs nadat Jesus op Golgota álles gedoen het, wat gedoen moes word om jou en my vIr ewig by Hom in die Hemel te kry, het Jesus nie daar opgehou nie.
Nee!
Toe kom soek hy jou en my op en stel Homself aan ons voor en vra vir jou en my om Hom aan te neem as ons Here, Verlosser en Saligmaker.

OPG 3:20  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As jy My stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.”
OPG 3:21  Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op Sy troon sit.
OPG 3:22  Elkeen wat gewillig is om te luister, moet hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Daarom kan elke ware gelowige getuig:

1JHN 4:19  Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het.

Dit is dan ook net hier waar satanse boosheid by baie mense in werking tree.

Om in ‘n Christelike huis of omgewing groot te word en dan soms selfs ‘n stap of twee te doen, wat van Christene verwag word, beteken myns insiens nie dat ek Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker nie.

Baie mense hoor van die Christelike geloof, sommige sommer van kleins af maar omdat hulle nie werklik ‘n volle oorgawe aan Jesus maak nie, gaan baie van hierdie mense net deur die “motions” van Christen wees, om die mense om hulle en ja, selfs vir ons Here te probeer flous of manipuleer.

Ons hier in Suid-Afrika is ‘n baie goeie bewys van wat ek nou gesê het.
70% van ons mense in Suid-Afrika vertel dat hulle Christene is en ons is een van die lande met die hoogste misdaad syfers in die wêreld.
70% van ons sê dat ons Christene is maar tog, anders as wat Jesus ons wys in byvoorbeeld die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, kies die meeste van ons wie ons, ons naaste wil noem en eien ons, onsself by dit alles nog die bose reg toe om op sekere mense te mag neerkyk.  Veral by sommige van ons, as die ander nie dieselfde kleur as ons het nie.

Jy sien –
Om van Jesus te weet is nie om Jesus te ken nie.
Ek weet van iemand maar ek kén hom nie persoonlik nie.
Na my mening gebruik, nee, eintlik moet ek sê, misbruik ‘n baie hoë persentasie van hierdie sogenaamde 70% Christene in Suid-Afrika, terwyl hulle eintlik nie Christene is nie, om Christen te wees, tot hulle en satan se voordeel.
Ek noem vir jou twee voorbeelde:
Ek ken ‘n man.
Hy was in die gevangenis en het volgens hom daar tot bekering gekom en hy het teologiese sertifikate wat hy deur studies in die gevangenis verkry het, om dit te bewys.  Ek weet want ek het gehelp om vir hom werk te kry toe hy uit die gevangenis gekom het.
Tog het hy, soos ek later agter gekom het, maar weer met sy oneerlike praktyke begin.
Hy, soos wat ek kon agter kom, het eintlik maar net Christen- wees gebruik om so gou as moontlik parool te kry.

Nog ‘n voorbeeld:

‘n Dame, ek dink sy is hierdie man van wie sy skryf se sekretaresse, skryf vir my min of meer die volgende soos ek dit nog kan onthou:

“Hy is ouderling in die kerk en hy gee en doen werklik baie vir liefdadigheid. Tog is hy baie hard en ongenaakbaar met ons.
Hy alleen is altyd reg en omtrent nooit vriendelik met ons nie.  Ons werk werklik swaar onder hom.”

Hierdie man, so lyk dit vir my, misbruik Christen- wees om aansien by sy familie en vriende te kry.

Jesus sê by geleentheid:

MAT 7:21-23  “Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie.  Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was. 22 Baie sal vir My op die oordeelsdag sê:  “’Here, Here, ons het dan in u Naam gepreek en in u Naam duiwels uitgedryf en in u Naam baie wonders verrig!’ 23Dan sal Ek hulle antwoord:  ‘Julle was nog nooit werklik mý mense nie.  Gaan weg van My af!  Julle het nie gedoen wat voor God reg is nie.’”

Ek het in my lewe ook ondervind –
*Daar is mense wat ons Here dien omdat hulle graag Hemel toe wil gaan.
*Daar is mense wat ons Here dien omdat hulle wil, dat ons Here hulle op
  allerlei maniere moet seën.      
*Daar is mense wat ons Here dien, omdat hulle nie hel toe wil gaan nie.
*Daar is mense wat ons Here dien, omdat hulle bang is, ons Here straf hulle.

Weet jy wat is die verskriklike groot hartseer in die vier voorbeelde wat ek jou nou net genoem het?
Dit gaan alles om húlle en die gebrek van liefde vir ons Here en hulle medemens is nie vir hulle regtig iets waaroor hulle eintlik dink nie.

Baie van hierdie mense gaan graf toe met die oortuiging van satan af, dat hulle met hierdie manier van lewe op pad Hemel toe is maar onthou jy Jesus se woorde?  Ek herhaal dit in die Ou Vertaling:

MAT 7:21-23 
21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.
22  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?
23  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Vir my draai om Christen te wees wat hierdie lewe aanbetref om die liefde vir ons Here en my medemens.

As ek iets vir my vrou kan doen, is dit vir my heerlik en ek dink nooit, wat is daarin vir my nie.  Want ek het haar onvoorwaardelik lief.

Dit is vir my ‘n voorbeeld van ‘n ware en opregte intieme liefdesverhouding.

Ek het Jesus Christus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker.
Ek dien Hom nou, omdat ek Hom liefhet.  So lief het ek Hom, dat dit vir my heerlik is om Sy slaaf te wees.

1KOR 7:22  En onthou, alhoewel jy ‘n slaaf was toe die Here jou geroep het, het jy ‘n vrygemaakte van die Here geword;  en omgekeerd, as jy vry was toe jy geroep is, het jy ‘n slaaf van Christus geword.

Om dan op te som, oor die vraag:
“Ek is ‘n Christen, wat moet ek nog meer doen om in die Hemel te kom?”

Jy het Jesus Christus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker.

Jesus het klaar álles vir jou en my gedoen wat gedoen moet word, om ons in die Hemel by Hom te kry.

Nou, so lyk dit vir my, draai om Christen te wees, alles eerstens om die liefde.  Die liefde vir my Here en die liefde vir my medemens.
Van hier af, omdat ons mense is, moet ons van ons kant af – en gelukkig is dit net van ons kant af, want van Jesus se kant af is Sy liefde altyd volmaak –
van ons kant af egter, soos alle liefdesverhoudings, moet ‘n mens gedurig daaraan werk.

Ons moet altyd sorg dat byvoorbeeld ons motiewe en optrede in ons liefdesverhouding met ons Here, eerlik en opreg is.
Want sê Jesus by geleentheid:

JHN 4:23  Daar kom egter ‘n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid.
JHN 4:24  God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom in ‘n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.”

Soos jy in my volgende skrywe aan jou sal sien, gaan dit nadat ek werklik Jesus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker, soos ek dit verstaan, alles oor heiligmaking.

1PET 1:15  Julle totale leefstyl moet nou heilig wees, soos God heilig is – Hy wat julle sy kinders noem. 

HEB 12:14 Doen julle bes om in vrede met almal te lewe en beywer julle om ‘n toegewyde (heilige) lewe te voer, want daarsonder sal julle nie eendag in die Here se teenwoordigheid kan kom nie.

Die Ou Vertaling stel dit so:
HEB 12:14  Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;

Wat soos ek dit sien, as vertrekpunt het ons Jesus se liefdeswet vir jou en my, naamlik:

MAT 22:37-40 
37 En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39  Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
40  Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoofgebooie.”

So, vir nou, as ek my lyf so ‘n bietjie digter mag hou, laat ek jou met hierdie gedagte.

Laat jy en ek dus in ons lewe handel,
volgens die geloof waarin ons sê, dat ons wandel.
                 
Groete,
Sakkie