LIEFDE IS DIE BELANGRIKSTE OPDRAG – DEEL 2

LIEFDE IS DIE BELANGRIKSTE OPDRAG – DEEL 2

Sakkie Parsons

In ‘n vorige skrywe aan jou het ek genoem dat volgens my, is die vertrekpunt van Jesus se Liefdeswet aan ons – ‘heiligmaking’

In hierdie skrywe wil ek poog om te verduidelik hoe ek ‘heiligmaking’ sien.

Ons lees in die Woord:

1PET 1:15  Julle totale leefstyl moet nou heilig wees, soos God heilig is – Hy wat julle sy kinders noem.
1PET 1:16  Hy het immers self gesê:  “Wees heilig, want Ék is heilig!”

Sommer vir die interessantheid daarvan, Petrus kwoteer hier LEV 11:44 en
     LEV 19:2.

As ek 1PET 1:15-16 lees, lyk dit al te veel of die Woord wat Heiligheid aanbetref vir my sê dat ek volmaak moet word en dit kan tog nie…
Of kan dit?
Ek lees: (en ek haal dit aan uit die Ou Vertaling)

1PET 1:15  Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
 
Het jy opgelet na die woord moet

1PET 1:15  Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
 
As kind van ons Here, word ek ‘n bevel gegee.
Ek moet in die manier wat ek lewe, daarna strewe, om heilig te lewe.
In my vorige skrywe aan jou het ek gesê, dat soos ek heiligmaking verstaan, begin alles nadat ek Jesus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker by Jesus se liefdeswet vir ons naamlik:

MAT 22:37-40 
37 Jesus se antwoord was:  “’Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38  Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39  Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
40  Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoofgebooie.”

Paulus, die man aan wie ons Here die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het, skryf in 1KOR 13 onder leiding van die Heilige Gees, so mooi oor die Liefde en dan sluit hy die hoofstuk af met hierdie, wat ek in hierdie skrywe, ‘n geweldige stelling wil noem.
Hy skryf:

1KOR 13:13  Al wat altyd sal bly, is geloof, hoop en liefde – hierdie drie.  Maar die grootste hiervan bly steeds die liefde!

Weet jy wat verstaan ek hier?
Ek lees en verstaan hier uit dit wat ek lees, dat die liefde by ons Here swaarder weeg as geloof en weet jy wat sê die Woord onder andere van geloof?

HEB 11:6  As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel.  Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon.

Ons Here het in Sy Woord vir ons laat skryf:

1SAM 15:22  Maar Samuel antwoord:  “Wat verkies die HERE:  brandoffers of gehoorsaamheid?  Gehoorsaamheid is beter as offers;  om te luister is beter as die vet van ramme.”
1SAM 15:23 Opstandigheid is ‘n oortreding net soos waarsêery, en hardkoppigheid is ‘n sonde net soos afgodery.”

Daarom poog ek in my lewe, om in gehoorsaamheid, na die beste van my vermoë, te voldoen aan wat ons Here beskou as die fondament van al Sy instruksies vir ons.

Ek het ‘n bevel gekry.

MAT 22:37   … Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

As ek dit doen, gaan ek mos nie doelbewus iets onheilig doen wat my Here aanbetref nie.  Nee, ek gaan net mooi die teenoorgestelde doen.
Ek het ‘n tweede bevel gekry.

MAT 22:39   … Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Watter werklik wedergebore kind van ons Here, gaan doelbewus iets onheilig aan homself doen?  Nee ek gaan net mooi die teenoorgestelde aan my naaste en myself doen.

Ek het aan die begin geskryf:
As ek 1PET 1:15-16 lees, lyk dit al te veel of die Woord wat Heiligheid aanbetref vir my sê dat ek volmaak moet word en dit kan tog nie…
Of kan dit?
Ek wil myself so antwoord:
My Here sal nooit vir my in Sy Woord sê om iets te doen, as dit vir my onmoontlik is om te doen nie.  Met dít in gedagte, lees hier, terwyl jy onthou, dat dit hier vir Jesus gaan oor my verhouding met my medemens.

MAT 5:43-48 
43 “Julle het gehoor dat gesê is:  ‘Jy moet jou eie mense liefhê, maar jy hoef nie jou vyand lief te hê nie. 
44 Maar Ek sê vir julle, julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg. 
45 Só sal julle optree soos ware kinders van julle hemelse Vader.  Hy laat immers sy son opgaan oor slegtes en goeies.  En Hy laat Sy reën val op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen. 
46 As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter beloning is daar dan vir julle?  Selfs korrupte tollenaars doen presies dieselfde. 
47 En as julle net julle eie mense groet, wat besonders doen julle dan?  Doen die heidene nie ook maar dieselfde nie? 

Jy sal sekerlik met my saamstem,dat dit wat Jesus hier van my verwag, kan ek net doen, as ek werklik die liefde van ons Here in my hart het.  Met dit in gedagte lees ons net in die volgende vers:

MAT 5:48 Wees julle dan volkome in julle liefde, soos julle hemelse Vader volkome in Sý liefde is.  Hy het mos álle mense lief.”
Ou Vertaling:
MAT 5:48 Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is..

In hierdie volgende gedeelte gaan dit weereens oor my verhouding met my medemens en dan word my medemens so ‘n bietjie meer omskryf:

KOL 3:11  Vir sulke núútgemaakte mense maak dit nie saak of iemand ‘n Griek of ‘n Jood, besny of nie besny, van ‘n vreemde kultuur of ‘n barbaar (Scithe), ‘n slaaf of ‘n vryman is nie.  Al wat saak maak, is Christus wat alles in elkeen is.
KOL 3:12  Julle is die mense wat God uitgekies het om Syne te wees en wat Hy liefhet.  Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek:  deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld.
KOL 3:13  Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar.  Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het.

Dan volg hierdie instruksie.

KOL 3:14 Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde.  Die liefde bind alles volmaak saam.

Net so vir die interessantheid daarvan –
Die ‘Scithe’ wat die Ou Vertaling voorkom, kom oorspronklik van die Kaukasus in Rusland en was in Paulus se tyd beskou as algeheel ongeletterd en was vir die mense van daardie tyd, die laagste vorm van beskaafdheid.

Ek noem dit maar, terwille van die Christene wat so uitsoekerig is, as dit by hulle naaste kom.
JESUS sê:

JHN 14:15  “As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam.”

Die Woord sê van hierdie opdragte/gebooie:

1JHN 2:3  En hieraan weet ons dat ons Hom regtig ken:  as ons Sy opdragte gehoorsaam.
1JHN 2:4  As iemand sê:  “Ek leef in ‘n persoonlike verhouding met God,” maar nie Sy opdragte gehoorsaam nie, voer só ‘n persoon ‘n leuenlewe en het die waarheid nie plek in sy lewe nie.

Watter opdragte/gebooie? En ek herhaal dit hier aan uit die Ou Vertaling:

MAT 22:37-40 
37 En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

So, as jy wil dat die volgende uit die Woord waar moet word in jou lewe:

1PET 1:15  Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
1PET 1:16  omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

Dan doen jy die volgende:

KOL 3:14  En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.

Want sien –

1KOR 13:13  En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

Ek sluit dan nou af met hierdie heerlike seën uit die Woord vir jou:

1THS 5:23  En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! 

Groete,
Sakkie