LIEFDE WAT STREK TOT IN DIE DODERYK

LIEFDE WAT STREK SELFS TOT IN DIE DODERYK

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra, hoe dat ek 1PET 4:6 verstaan.

1PET 4:6  Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.

Hier is dan hoe ek hierdie saak sien:

Ek wil begin met ‘n stelling.
Wat ek nou sê, sê ek met die grootste respek, ons Here ken my hart.
Ons Here is nie ‘n leeglêer nie.  Met ander woorde Hy sit of lê nie rond en doen niks nie.  Selfs nie as Hy die doderyk ingaan nie.
Hier kom dan ook weer ‘n bewys na vore, van die onmeetlikheid van ons Here se liefde.
Dit strek selfs tot in die doderyk.
Ja, selfs tot by hulle, tot daar vêr in die verlede, wat nie na Noag se prediking wou luister nie.  Tot by hulle almal wat van die profete gehoor het bekeer julle en nie wou nie.

Niemand gaan eendag vir God sê:
“God het my nie ‘n kans gegee om my te bekeer nie.”
Daarom stap Jesus toe uit hierdie lewe uit van die kruis af, die doderyk in.
Nie om in ‘n graf te gaan lê en wag vir Sondag oggend nie maar om ook in die doderyk die Evangelie eenmalig te gaan verkondig.

1PET 3:18  Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;
1PET 3:19  in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis.

Selfs na Sy Kruisiging, vol van Sy Goddelike liefde vir die mens, daal Hy af na die dode, om ook aan hulle hierdie wonderlike Evangelie van redding te verkondig.
Daarom dan ook dat Hy daardie Sondagoggend van alle Sondagoggende vir Maria moet sê:

JHN 20:17  Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.

By geleentheid het Jesus hierdie woorde gespreek en na my mening het Hy hier gepraat van die geestelike dooies van Sy tyd, en al die geestelike dooies tot in die verre toekoms en verseker al die onbekeerde dooies wat reeds in die doderyk was, waarheen Hy toe nog op pad gewees het.

JHN 5:22-26 
22 Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee,
23  sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.
24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
25  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.
26  Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.

So, wanneer ek al hierdie dinge onthou, maak wat ek in 1Petrus 4:6  lees vir my sin.
Ek kwoteer vanaf vers 5.

1PET 4:5  Hulle sal rekenskap gee aan Hom wat gereed staan om die lewende en die dode te oordeel.
1PET 4:6  Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.

Soos ek reeds genoem het.  Dit het Hy eenmalig gedoen.
Nou is Hy in die Hemel en in ons harte.

In die Hemel:

ROM 8:34  Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.

HEB 4:14-16 
14 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.
15  Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
16  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

HEB 7:24-26 
24 maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ‘n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie.
25  Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.
26  Want so ‘n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het;

In ons harte:

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

GAL 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Groete,
Sakkie