LIEG NIE VIR MEKAAR NIE OMDAT JULLE DIE OUE MENS MET SY WERKE AFGELÊ HET

LIEG NIE VIR MEKAAR NIE,
OMDAT JULLE DIE OUE MENS MET SY WERKE AFGELÊ HET

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my, my siening oor leuentaal en dan veral oor ‘die wit leuen.’  Hy skryf onder andere:

“Ek het al so baie gewonder en die wit leuen bepeins.
Wat my pla is hoe regverdig mens of hoe nou met die vrou wat die mans versteek het, en toe moes jok en sê dat hulle nie in haar huis is nie.“

Die gedeelte uit die Woord waarna die persoon verwys, is die volgende:

JOS 2:1-5  Josua, die seun van Nun, het in die geheim twee verkenners van Sittim af uitgestuur.  Hy het vir hulle gesê:  “Gaan verken die land, veral Jerigo.”  Hulle is daar weg en het by die huis van ‘n prostituut uitgekom.  Haar naam was Ragab.  Hulle het daar tuisgegaan. 2Iemand het vir die koning van Jerigo gaan vertel dat daar gedurende die nag Israelitiese mans aangekom het om die land te verken. 3Hy het toe vir Ragab laat weet:  “Laat die mans wat na jou huis toe gekom het, uitkom.  Hulle het op die land kom spioeneer.” 4Ragab het die twee mans laat wegkruip.  Sy het vir die koning laat weet:  “Daar was mans hier by my.  Ek weet nie van waar af hulle gekom het nie.  5Toe die poorte teen skemer gesluit het, is die mans hier weg.  Ek weet nie waarheen hulle gegaan het nie.  As jy gou maak, kan jy hulle miskien nog inhaal.”

Daar is ook ‘n ander goeie voorbeeld waar mense ook gelieg het en ons Here dit nie teen hulle gehou het nie maar inteendeel hulle selfs soos in Ragab se geval beloon het.

EXO 1:15-21  Die verpleegsters wat die Israelitiese vroue gehelp het om geboorte te gee se name was Sifra en Pua.  Die koning van Egipte het vir hulle gesê: 
         16”Wanneer julle die Hebreeuse vroue help om geboorte te gee, moet julle elke seuntjie wat gebore word net daar doodmaak.  As dit ‘n dogtertjie is, mag sy maar bly lewe.”  17Omdat hierdie vroue die HERE gedien het, het hulle nie gedoen wat die koning van Egipte gesê het nie.  Hulle het die seuntjies laat bly lewe. 18Die koning het die vroue toe laat roep en vir hulle gevra:  “Hoekom maak julle so?  Hoekom laat julle die seuntjies bly lewe?”  19Meneer”, het die vroue geantwoord, “die Hebreeuse vroue is baie sterk.  Teen die tyd dat die kraamverpleegster by hulle kom, het hulle alreeds geboorte gegee.  Hulle is nie so stadig om geboorte te gee soos die vroue van Egipte nie.”  20God het dit goed laat gaan met kraamverpleegsters.  Die Israeliete het steeds al meer en al sterker geword.  21Omdat hierdie vroue in die HERE geglo het, het Hy vir hulle ook huisgesinne van hul eie gegee.

Hier is dan hoe ek hierdie saak sien en in my eie lewe probeer uitlewe:

Ek wil begin deur dan  die volgende te sê:

‘n Ware christen struikel dikwels, want ons is mense en in die hitte van die oomblik, want dit is ‘n ou trick van satan om ons onverhoeds te vang, sal ons soms lieg of dinge sê wat verkeerd is:

JAK 3:2-5
2 Ons maak almal baie foute. Maar ’n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry.
3 Net as ons stange in hulle bek gesit het, gehoorsaam perde ons en het ons die hele dier onder beheer.
4 En ’n klein roertjie maak dat ’n groot skip draai net waarheen die stuurman wil, selfs wanneer sterk winde waai.
5  So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek.

Hoe heerlik egter is dit om te weet:

1JOH 1:8-9
8 As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.
9 As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.

‘n Ware Christen is egter nie moedswillig  en doen met opset aanhoudend die verkeerde nie, want hy/sy weet hoe lewensgevaarlik, ewige lewens gevaarlik dit is om so te lewe:

HEB 10:-26-29
26 Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie.
27 maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.
28 As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie;
29 hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?

Daar is sover my kennis strek, nie een enkele plek in die Woord waar ‘n leuen, wit of wat ook al, goed gepraat word nie.
Glo my ook as ek vir jou sê die Woord is vol voorbeelde waar die leuen as iets baie verkeerd in die oë van ons Here uitgelig word en soos my gewoonte is probeer ek my by twee voorbeelde hou:

SPR 6:16-19 
16 Daar is ses dinge wat die HERE haat, nee, eintlik sewe dinge waarvan Hy ‘n afsku het:
17  oë vol hoogmoed, ‘n tong wat lieg, hande wat onskuldiges doodmaak, 
18  ‘n hart wat slegte planne beraam, voete wat agter kwaad aanloop,
19  ‘n valse getuie wat leuens verkoop, en iemand wat rusie veroorsaak tussen broers.

EFE 4:23-25 
23 Julle moet op ‘n nuwe, geestelike manier leer dink.
24  Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is:  iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is.
25  Gevolglik moet julle ophou leuens vertel en die waarheid teenoor mekaar praat.  Ons is tog lede van dieselfde liggaam.

Hoe nou?
In EXO 1:15-21 beloon ons Here selfs iets wat Hy verafsku, naamlik ‘n leuen.
Ek sien dit so –
Die mense in my voorbeelde aan die begin van hierdie skrywe, het ‘n paar dinge in gemeen.
Hulle is in ‘n hopelose situasie omdat hulle, hulle medemens gehelp het en nou, om hulle lewens te red, lieg hulle.
Natuurlik kon hulle op ons Here vertrou het en Hy sou hulle gered het maar die benarde omstandighede waarin hulle gewees het, was vir hulle op daardie oomblik, swak mense, net te veel.

Onthou jy wat ons Here by geleentheid vir Abraham gesê het?

GEN 18:14  Is daar enigiets wat te moeilik is vir die HERE?

Die 1933 Vertaling stel dit so:

GEN 18:14  Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? …

Wat ek nou sê, sê ek nie vir mense wat opsetlik moedswillig is nie.  Ek praat nou met belydende Christene, wat werklik hulle kruis opgeneem het en agter Jesus aan loop.  Mense wat na die beste van hulle vermoë ‘n getuie vir Jesus is.
Ons is feilbare mense in ‘n sondige wêreld en soms gaan ons onverhoeds in ‘n moeilike situasie beland waar ons op ons Here moet vertrou maar omdat ons dan swak is, gaan ons soms lieg.  Ek moet dit dan asseblief tog nie afmaak as ‘n wit leuen nie.
Ek het in ‘n oomblik van swakheid iets afskuwelik gedoen wat ons Here sê dat Hy haat.
Ek moet dan in opregtheid my sonde teenoor ons Here bely.  Gelukkig weet ek mos:

1JHN 1:9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

Dan behoort ek waar enigsins moontlik, die vuil leuen reg te stel.
Ek sê met opset ‘vuil leuen’ omdat daar vir ‘n belydende Christen soos ek dit sien, nie so iets soos ‘n wit leuen is nie.
Ek het Jesus Christus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker.  Ek is ‘n kind van ons Here.
Die feit dat Hy, om dit so te stel, my met ‘n haatlike vuil leuen laat wegkom het, omdat ek op daardie oomblik te swak gewees het om ten volle op Hom te vertrou maar my motief agter die leuen tog suiwer gewees het, is nie omdat dit ‘n wit leuen was en wit leuens nie sonde is nie maar is te wyte aan Sy wonderlike groot liefde vir my.  So ‘n groot wonderlike liefde, dat Hy wat leuens haat, by die haatlike afskuwelike leuen verby strek en my red.

Die 1933 Vertaling stel dit so:

SPR 6:16-19 
16 Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ‘n gruwel:
17  trotse oë, ‘n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
18  ‘n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,
19  een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.

So, laat ons strewe, wat hierdie vieslike vuil euwel aanbetref altyd wees –

PSM 119:29  Bewaar my van leuenagtige weë, wees genadig en leer my u gebooie.
PSM 119:30  Ek het die betroubare pad gekies;  ek lewe volgens U bepalings.

KOL 3:9  Moenie vir mekaar lieg nie.  Julle het mos die vorige mens en sy leefstyl soos klere uitgetrek
KOL 3:10  en die nuwe mens aangetrek.  Hierdie mens kry voortdurend nuwe insig en word só verander en nuut gemaak om al meer soos die Skepper te lyk.

Groete
Sakkie