MAAK DIT SAAK HOE EK BEGRAWE WORD?

MAAK DIT SAAK HOE EK BEGRAWE WORD?

Sakkie Parsons

LUK 16:22 “Die arm man is dood en is deur die engele geneem na die ereplek langs Abraham. Die ryk man is ook dood en is begrawe.

So ‘n ruk gelede was daar ‘n taamlike polemiek oor hoe ‘n Christen begrawe moet word.
Daar was mense wat dit wou hê dat jy nie veras mag word nie, ensovoorts.
Ek is van mening, dat ons Here ons hier wys dat dit nie vir Hom daaroor gaan  op welke manier ek begrawe word nie.
Laat ek verduidelik:
Die ryk man het volgens Jesus ‘n Begrafnis gehad.

LUK16:22…Die ryk man is ook dood en is begrawe.

Dit was ook seker ‘n groot begrafnis, want as jy ryk is het jy vriende en baie mooiweersvriende.
Lasarus, volgens Jesus se getuienis, het nie ‘n begrafnis gehad nie.

LUK16:22 “Die arm man is dood en is deur die engele geneem na die ereplek langs Abraham…

Jy sien, mense soos bedelaars wat gesterf het, is nie begrawe nie.  Hulle is uit die stad uitgeneem na die stad se, wat ons vandag in die volksmond die asgate noem, en daar gelos. Maar toe Lasarus sy oë aan die anderkant van sy oop asgat-graf oopmaak, toe is hy in die Hemel.

LUK16:22 “Die arm man is dood en is deur die engele geneem na die ereplek langs Abraham.

Onthou nou, dit is Jesus wat ons hierdie feite meedeel.

Die ryk man se begrafnis mag nou wel mooi en duur gewees het. Dit is maar ‘n afleiding wat ek maak.  Hoe dit ook al sy, sy begrafnis, van watter aard dit ook al gewees het, het hom nie uit die hel uit gehou nie.

Ek het vir my vrou gesê, dat as ek voor haar te sterwe kom, sy my tog so goedkoop moontlik moet begrawe, sonder om vir die mense aanstoot te gee.  Hoe sy dit doen maak vir my nie saak nie, want by daardie tyd “rejoice” ek al te heerlik in die Hemel.

Jy sien, dit is nie die manier wat ek begrawe word, wat bepaal waar ek die ewigheid gaan deurbring nie.  Dit is of ek my tot God bekeer en Jesus Christus aanneem as my Verlosser en Saligmaker en deur die doopbad my vereenselwig met Sy dood en opstanding.

ROM 6:3 Julle weet tog dat ons aan Jesus Christus verbind is toe ons gedoop is. Dit beteken dat ons ook met sy dood verbind is. Dit is net so goed of ons self gesterf het.

ROM 6:4 Ons kan sê dat ons by die doop saam met Hom gesterf het en saam begrawe is. Maar die wonderlike krag van die Vader het Christus weer lewendig gemaak, en net so is ons ook weer lewendig gemaak sodat ons elke dag ’n nuwe lewe kan lei.
               

So, uit eindelik is dit nie hoe ek gesterf en begrawe is wat saak maak nie maar hoe ek gelewe het en aan die anderkant van die graf gearriveer het wat die deurslag gaan gee, waar ek die ewige lewe gaan deurbring.
Anders gestel:

Of ek met Jesus aan die anderkant van die graf arriveer en die Hemel se poorte vir my oopgaan en of sonder Jesus aan die anderkant van die graf arriveer en die Hel se poorte vir my oopgaan.

As jy nog nie Jesus aangeneem het as jou Redder en Saligmaker nie, kan jy nou die volgende gebed bid net daar waar jy is:

Jesus Christus, ek weet dat ek ‘n sondaar is en dat U vir my gesterf het om my van sonde en dood te verlos.  Ek glo dat U as Seun van GOD die enigste weg is na die VADER.  Ek maak nou my hart oop en nooi U daarin om vir altyd my HERE te wees.  Dankie dat ek so bevoorreg is om U aan te neem HERE JESUS.  Amen.”

JOH 14:6 “Ek is die pad en die waarheid en die lewe.  Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

Groete,
Sakkie