Maak vir julle skatte bymekaar in die Hemel

Skrywer:  Sakkie Parsons

Ek het so ‘n e-pos of wat gelede vir jou vertel waarom ek volle sekerheid het dat ons ons geliefdes in die Hemel sal herken en dat ons en hulle mekaar sal liefhê.

Ons Here het daarna iets anders op my hart gelê om met jou te deel, wat eintlik in ‘n mate aansluit by daardie e-pos. Ek wil dít wat ek vandag met jou deel, met ‘n vraag begin:

Kan ek na iets hier op aarde kyk en besluit – ‘Dit neem ek saam Hemel toe’ – en dit dan doen?

Die antwoord is dan natuurlik soos ek dit sien, ‘n baie besliste nee.

God sê dan ook in Sy Woord:

1TIM 6:7  Alles in aanmerking geneem, het ons tog niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons sal ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie.

Tog kom Jesus en sê vir ons:

MAT 6:19   “Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar motte en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie.
MAT 6:20  Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie.
MAT 6:21  Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Jy sien, volgens wat ek in hierdie verband verstaan werk dit so:

Ek kan niks saam met my Hemel toe neem nie, máár ek kan tog vir my skatte in die Hemel vergader.

Aan elkeen aan wie jy en ek die evangelie van Jesus Christus alreeds verkondig het en nog gaan verkondig, en wie Jesus dan aanneem as Verlosser en Saligmaker en Hom dan die res van hul lewens volg tot in die Hemel, is ‘n skat waaraan ek en jy deel het.

Weet jy hoeveel vreugde veroorsaak ons in die Hemel wanneer ons ons Here help om ‘n ander mens tot bekering te lei, deur die evangelie aan hom/haar te verkondig?

Dit is Jesus wat hier praat:

LUK 15:10  “Net so is daar blydskap onder God se engele as net een sondaar tot inkeer kom.”

Al die engele in die hemel sien en deel in die blydskap van God oor ‘n siel wat hom/haar bekeer.

Dus, nie net gaan ons eendag al ons geliefdes wat die geloof behou het, sien, herken en deel in ons volmaakte liefde vir ons Here en mekaar nie, maar ons gaan ook die genot hê om lief te wees vir al die skatte wat ons bymekaar gemaak het toe ons die evangelie van Jesus verkondig het.
Al daardie geliefde skatte wat hul bekeer het en Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker en wat die goeie stryd tot die einde gestry het.
So, kom dat ek en jy volhard in die bymekaar maak van skatte in die hemel – Ek herhaal Jesus se woorde in die Ou Vertaling:

MAT 6:20  “…maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;
MAT 6:21  want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”

Terwyl ons terselfdertyd ook onthou:

JAK 5:20 Weet dan dat hy wat ‘n sondaar op sy dwaalweg laat terugdraai, hom uit die dood red en maak dat ‘n klomp sondes bedek (vergewe) word.

My groot held Paulus het ook uitgesien om hierdie grootse skat eendag in die Hemel te sien.
Hy stel dit so:

1THS 2:19-20
19 Immers, as ons met Jesus ons Here se terugkeer voor Hom moet staan, wie sal ons vooruitsig of blydskap of erekrans wees, as dit nie julle is nie?
20 Júlle is mos ons eer en ons blydskap!

Ander dagstukkies wat ek deur die genade van ons Here geskryf het, waarin jy dalk sou belang stel en wat ek met die grootste liefde aan jou op aanvraag sal stuur is:

  • Die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig
  • Het diere siele en kan hulle hemel toe gaan
  • Oor die derde Hemel en ons loon
  • Sal ons in die hemel mekaar herken
  • Want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele

Hierdie gedagte uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Groete,
Sakkie