MAAR TOE DIE VOLHEID VAN DIE TYD GEKOM HET

MAAR TOE DIE VOLHEID VAN DIE TYD GEKOM HET

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my, waarom ‘n God van liefde soveel verskriklikheid toelaat soos veral met klein kindertjies, die meeste van hierdie kindertjies kan nie eens bid om Hom om hulp te smeek nie.

Dit is dan hoe ek hierdie saak met die lig tot my beskikking sien:

Die oorsprong van my antwoord kry ek daar in GEN 1:26-27:

Gen 1:26-27 God sê toe:  “Laat Ons die mens maak volgens ons beeld, ‘n afbeelding van Ons.  Laat hulle soos konings heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor die mak diere, oor die wilde diere, oor alles wat op die aarde kruip.”  27God het mense geskep na sy beeld;  volgens sy eie beeld het God hulle geskep;  manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

Ons is na die beeld van ons Here geskape en daarom het ons ook eienskappe wat ons Here het.

Byvoorbeeld:   soos ons Here kan ons nie doodgaan nie.

Ons liggame gaan eendag dood ja, maar ons gaan vir ewig lewe óf in die Hemel, óf in die hel.

Nog ‘n voorbeeld van ‘n eienskap van ons Here wat in ons is, is die vermoë om te skep, soos skilderye, beelde, rekenaars, allerlei konstruksies ens. Kyk maar net om jou.

‘n Derde eienskap van ons Here wat in ons is en dit is die een waaroor ek wil praat, is, ons het ‘n wil van ons eie en weet jy, soos ek ons Here leer ken het, respekteer Hy ons wil, soos Hy verwag dat ons Sy wil respekteer.

Daar aan die begin byvoorbeeld sê Hy vir die mens:

Gen 2:16-17 Maar die HERE God het hom gewaarsku:  “Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet, 17behalwe van die boom van alle kennis.  As jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.” 

Toe, omdat Hy die mens se wil respekteer, kyk Hy, ek glo met ‘n verskriklike hartseer, omdat Hy weet waartoe die mens hom oopmaak, hoe die mens sy wil uitoefen en kies om ongehoorsaam te wees en in die proses, ons Here se pragtige skeppingsdroom, heeltemal opmors:

Gen 3:4-7  “Julle sal nie sterf nie!” sis die slang.  “God weet dat julle sekere dinge te wete sal kom wanneer julle daarvan eet.  Julle sal dan net soos God alle kennis hê.”  6Dit het die vrou oortuig.  Wanneer sy na die boom kyk, lyk die vrugte mooi en aanloklik, geskik om ‘n mens verstandig en slim te maak.  Sy pluk ‘n vrug, neem ‘n hap, en gee vir haar man by haar;  en hy het ook geëet.  7Toe dring die werklikheid tot hulle deur.  Skielik besef hulle dat hulle sonder klere is.  Hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle omgehang om hulleself toe te maak.

Ek glo ons Here was ontsettend hartseer oor wat die mens deur sy eie wil tot stand gebring het, maar God, omdat Hy ‘n God van liefde is, sal die slegte wat die mens gedoen het, gebruik en daarvan iets wonderlik maak. Dit is in elk geval hoe ek ons Here leer ken het.

Omdat ek net mens is, kan ek natuurlik nie sien hoe ons Here al die sleg neem en goed daaruit laat voortspruit nie, maar soos ek ons Here geleer ken het, doen Hy dit verseker áltyd. Vir dié wat Hom lief het, het Hy byvoorbeeld laat skryf:

Rom 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

As God sê alles, dan kan jy maar weet, dit is alles.

Rom 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

So, as ek met jou deel, dít wat ek met jou deel, deel ek dit teen die agtergrond van:

1KOR 13:12  Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees.  Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.

Nou wil ek graag ‘n paar gevalle uit die Woord met jou deel, waar ons Here ‘n verskriklike boosheid van die mens gebruik het om iets wónderliks tot stand te bring.

Die eerste geval wat ek met jou wil deel is die volgende. Jy ken mos die geskiedenis?

Die Goeie Farao is oorlede en ‘n slegte Farao heers en vir hom word die Hebreërs te veel en hy oefen sy eie wil uit en hy beveel:

Exo 1:22  Die farao het toe aan al sy mense opdrag gegee:  “Elke Israelitiese seuntjie wat gebore word, moet julle in die Nylrivier verdrink.  Julle kan die dogtertjies maar laat lewe.”

Hoe verskriklik, hierdie babas het net begin lewe. Gelukkig, so verstaan ek die Woord, gaan alle kinders Hemel toe, ten minste, die wat nog nie, wat hulleself persoonlik aanbetref, die ouderdom van toerekenbaarheid bereik het nie:

Mrk 10:14  Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê:  “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom.  Moenie hulle keer nie.  Want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.”

Ek dink ons Here was verskriklik hartseer oor dit wat Hy moes aanskou, maar ons Here, terwyl Hy al daardie kindertjies in die Hemel ontvang, gaan die verskriklike tragedie wat die mens veroorsaak het, gebruik om iets wonderlik tot stand te bring en toe lê Hy op ‘n vrou se hart om haar babaseun in ‘n mandjie in die Nyl te sit en Hy reël dat hierdie baba, in Farao se paleis as ‘n prins grootwoord, sodat, jare later toe hierdie prins uit die huis van Farao, met Farao onderhandel om sy volk uit Egipte te lei, die Farao na hom luister, omdat dit nie vir die Farao ongewoon was om met hom te onderhandel nie – Want, dit was nie met een van die Hebreeuse slawe met wie Farao moes onderhandel nie, dit was ‘n edelman uit sy eie paleis.

Jy kan die hele geskiedenis self gaan lees, daar vanaf EXO 2:1.

So het die mens maar voortgegaan en deur al die eeue sy eie, selfsugtige wil gebruik om die verskriklikste booshede oor sy naaste en die aarde, waarop hy lewe, te bring en God het na al hierdie gemors gekyk met, glo ek ‘n verskriklike hartseer, want dit was nie wat ons Here in Sy skeppingsdroom, in gedagte gehad het nie.

Toe, so glo ek, kyk ons Here so oor die gemors wat die mens van homself en almal en alles om hom maak, en HY het Sy voorbereiding gedoen vir wanneer die volheid van die tyd sou aanbreek maar selfs toe, vanweë die mens se bose uitlewe van sy eie wil, lê daar twee verskriklike hartseer gebeure in die volheid van die tyd en wag om te gebeur.

Daarom staan ‘n profeet honderde jare voor die gebeurtenis by geleentheid op en profeteer oor een van hierdie verskriklike hartseer gebeure wat gaan plaasvind:

Jer 31:15  Die HERE sê verder:  ‘Hoor die geluid van hartseer en droewige gehuil uit Rama.  Dit is Ragel wat huil oor haar kinders.  Sy laat niemand toe om haar te troos nie.  Haar kinders is dood.”

Daarna staan ‘n ander profeet honderde jare voor die gebeurtenis op en profeteer ook: (ek haal dit aan uit die Ou Vertaling)

Jes 53:5  “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”

Toe, toe breek die volheid van die tyd aan:

Gal 4:4  Maar toe, op die regte tyd, het God sy Seun gestuur.  Hy is uit ‘n vrou gebore, onder die wet, 5sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop, ja, sodat ons tot kinders aangeneem kan word.

God stuur Sy Seun om dié mens te red, wat so ‘n gemors van homself

gemaak het, deur sy eie wil uit te lewe en ook hierdie groot liefdesdaad van

ons Here, moes die mens, onder aansporing van die satan natuurlik, met ‘n

groot tragedie probeer besoedel.

Want toe Herodes nie weet watter seuntjie is die Seun van God nie, laat hy

sommer al die seuntjies in daardie omgewing wat naastenby die Seun van

God se ouderdom is, vermoor:

Mat 2:16  Toe Herodes agterkom dat die sterrekundiges hom uitoorlê het, was hy absoluut woedend.  Hy het soldate gestuur om in en rondom Betlehem al die seuntjies van twee jaar en jonger te gaan uitwis.  Hy het die twee jaar bereken volgens die tyd wat hy by die sterrekundiges vasgestel het.

Onthou jy wat het die profeet honderde jare van tevore geprofeteer?

Mat 2:17-18  Darmee is Jeremia se uitspraak vervul:  18”’n Smartkreet word gehoor in Rama, ‘n gesnik en ‘n bitter geklaag.  Ragel huil oor haar kinders.  Sy wil maar net nie vertroos word nie, want hulle is dood.”

God sal egter hierdie groot tragedie, terwyl Hy die kindertjies in die Hemel

ontvang, ook draai, en nou praat ek geestelik.

Almal wat kan sien, kan sien en almal wat kan hoor, as hierdie stukkie

geskiedenis vertel word, weet, dat hierdie gebeurtenis, wat al honderde jare

vantevore geprofeteer was, getuig dat satan met mag en mening probeer het

om ons Here se verlossingsplan te vernietig en dat Jesus presies is wie die

Woord sê, dat Hy is.

Wie, sê die Woord dat Jesus is?

JHN 1:1  Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.  Die Woord was by God, en die Woord was self God.

JHN 1:14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon.  Ons het Sy heerlikheid duidelik gesien, ‘n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

Toe stap die Seun van God vir net meer as drie jaar oor baie stofpaaie na Golgota en op pad daarheen, demonstreer Hy, deur woord en daad, wie Hy is en hoe Sy Evangelie verkondig moet word.

Hy stap toe na, wat my aanbetref, seker die wreedste daad wat die mens deur sy eie wil te gebruik nog ooit gedoen het.

Ja, ek weet daar was ander voor Jesus, en na Jesus, gekruisig en daar was al seker ander wreedhede aan mense gedoen, wat sommige mense sou sê, wreder as kruisiging is. In hierdie geval egter, moes, en dink nou aan jou eie kinders en of geliefdes. In hierdie geval moes God Almagtig toekyk hoe Sy Seun, die enigste persoon wat ooit op aarde geloop het wie geen sonde gedoen het nie, wat heeltemal onskuldig op so ‘n wrede manier vermoor word en al kon Hy ingryp, het Hy nie. Want, net ‘n volmaakte offer, Sy Seun, kon die mense, ja, ook hulle wat toe besig was om Hom te vermoor en al die ander mense oor die eeue heen, ook vir jou en my, van ‘n verskriklike ewigheid in die hel red, wanneer ons berou oor ons sondige lewe het en Hom, Jesus Christus aanneem as Verlosser en Saligmaker.

Daarom, hoe oneindig verskriklik, moes ‘n Vader staan en kyk hoe Sy geliefde

Seun op so ‘n  wrede manier vermoor word, en het nóg een van die profesieë

oor hierdie tydperk, toe die volheid van die tyd aangebreek het, ook in

vervulling gegaan:

Jes 53:4-6  Tog was dit ons swakhede wat Hy gedra het.  Hy het swaar gedra aan ons pyn.  Ons het al die tyd gedink Hy ly omdat God Hom straf.  5Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes.  Hy is gestraf sodat ons in vrede kon leef.  Hy is geslaan sodat ons gesond kon word.  6Almal van ons het weggedwaal soos ‘n klomp skape.  Ons het God se paaie verlaat om ons eie te volg.  En toe het die HERE ons almal se skuld en sondes op Hom laat neerkom.

Omdat dit nou maar die mens se natuur is, sal al hierdie wreedhede wat ons aan mekaar doen, nog voortgaan, maar, al sien ek dit nie altyd nie, nee – ek moet sê, al sien ek dit op die oog af, baie min, ek weet verseker dat ons Here, God Almagtig, dit altyd só sal draai, soos wat Hy dit in die verlede gedoen het, dat uit die slegte wat die mens met satan se aanhitsing oor homself en sy medemens bring, daar uiteindelik goed sal kom, wat baie meer is as die slegte.

So sal dit wees, tot op daardie dag, dat ons Here kom.

Want so seker soos wat die profesieë oor die volheid van die tyd in vervulling gegaan het, net so seker sal ook die vervulling van die profesieë oor Sy wederkoms ook in vervulling gaan:

Mat 24:27  “Want soos die weerlig teen die ooste uitslaan en sy lig tot in die weste laat skyn, so sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die Mens, kom.”

HAN 1:9  Hy het dit gesê, en is toe in die hemelruim opgeneem terwyl hulle toekyk.  Hy het in ‘n wolk verdwyn.  10Toe Hy wegraak en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.  11Die twee mans sê toe:  “Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk?  Jesus is van julle af weggeneem die hemel in.  Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”

Vir nou, totdat daardie heuglike dag aanbreek, hoe absoluut heerlik wonderlik is dit nie!

Die mens wat wil, kan midde-in die chaos om ons, haar/sy eie wil gebruik en deel wees van daardie heerlike triomfantlike terugkeer:

JHN 1:12  Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 

JHN 5:24  “Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe.  Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.”

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.