MAG EK AS CHRISTEN WELVAREND WEES EN DAARVOOR BID?

MAG EK AS CHRISTEN WELVAREND WEES EN DAARVOOR BID?

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en gevra wat hier op neergekom het:

Hy het ‘n dominee hoor praat en volgens die dominee het hy verstaan dat ‘n Christen nie vir materiale welvaart behoort te bid nie.

Na my mening is daar oorgenoeg bewyse in die Woord, dat ons Here baie van sy kinders uitermate met rykdom geseën het.
Dink maar aan Abram, Isak, Jakob en Josef, om maar net ‘n paar te noem. 
Daarom dink ek ‘n mens mag droom en jou drome, ook oor welvaart/rykdom, met ons Here deel.
‘n Mens moet egter baie, baie versigtig wees, as jy as kind van God daardie soort aspirasies het.

Die twee mense wat ek graag as voorbeelde wil gebruik in wat ek bedoel, is eerstens Dawid.

Hy was ‘n man na ons Here se hart en ons Here het hom, ten spyte van sy groot sonde waaroor hy werklik groot berou gehad het, ‘n skatryk koning van sy tyd gemaak. En hierdie groot koning van sy tyd deur wie ons Here so baie van sy Woord aan ons laat skryf het, skryf dan ook by geleentheid:

1KRON 29:11-12
11 Aan U, Here, behoort die grootheid en heerlikheid, mag, roem en majesteit.
Alles in die hemel en op die aarde behoort aan U, Here.
Aan U behoort die koninkryk.
U is verhewe bo alles.
12  Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles.
Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk.

So, dit is vir my ondenkbaar, dat ons Here nie wil dat ons vir materiale welvaart bid, as dit nie verkeerd in Sy oë is om dit vir ons te gee nie.

Dit gesê, moet ek ook noem, dat die welvaart-perd met sy rykdom-saal nie ‘n perd is wat deur enige mens opgesaal en gery kan word nie en ek sal jou ‘n bietjie verder in hierdie skrywe wys hoe ons Here hierna kyk.

Nou hoekom het ek Dawid as my eerste voorbeeld gebruik na al daardie ander groot name wat ek vir jou voorgehou het?  Wel, kom ons sê ek wou dit in die familie hou, omdat hulle albei sulke perfekte voorbeelde is van wat rykdom in ‘n mens kan vermag.

Eers is daar Dawid wat van ‘n skaapwagter gevorder het tot een van die magtigste konings van daardie deel van die wêreld met die mag en rykdom wat daarmee gepaard gegaan het.
Van Dawid het ons Here laat skryf:

1SAM 13:13-14
13 “Dit was dwaas van jou!” sê Samuel. (vir Saul) Jy het nie geluister na die bevel van die Here jou God nie. As jy geluister het, sou die Here jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het.
14 Maar nou sal jou koningskap nie voortduur nie, want die Here het reeds ’n man na sy hart gesoek. Die Here het hom (dit is Dawid) alreeds gekies om koning oor sy volk te wees, …

Dawid het van skaapwagter tot koning van Israel gevorder en baie rykdom vergader maar dit het nie na sy kop gegaan nie.

Na hom word sy seun Salomo koning en word die rykste koning in die wêreld  van sy tyd, maar dit gaan na sy kop al was hy ook die mees wyse koning van sy tyd en die magtige Salomo by wie God as ‘n sigbare persoon meer as een keer verskyn het.  Kan jy dit glo!  Hy sterf as iemand wat afgode gedien het:

1KON 11:7-11
7  Op die heuwel oos van Jerusalem het hy selfs ’n hoogte vir Kemos, die walglike god van Moab, gebou, asook een vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete.
8  Salomo het sulke hoogtes vir al sy buitelandse vroue gemaak sodat hulle daar wierook kon brand en offers aan hulle gode kon bring.
God oordeel Salomo
9  Die Here was baie ontevrede met Salomo omdat hy die Here, die God van Israel wat twee keer aan hom verskyn het, verlaat het.
10 Hy het Salomo uitdruklik gewaarsku om nie ander gode te dien nie. Nogtans het Salomo nie na die bevele van die Here geluister nie.
11 Die Here sê toe vir hom: “Aangesien jy die verbond met My verbreek het en ongehoorsaam was aan my opdragte, sal Ek sekerlik die koninkryk van jou afskeur en dit vir een van jou onderdane gee.

Nou wat wil ek nou eintlik met al hierdie skryf tot hier toe vir jou sê?
Net dit:
Omdat die mens is wat hy is, om dit so te stel, sit dit nie sommer in enige mens se broek om as kind van God ryk en welvarend te wees nie en omdat hierdie lewe maar baie, baie kort in vergelyking met die ewigheid is, moet jy baie goed dink voor jy daarna strewe om ryk en welvarend te wees en jou eerste groot rooilig in jou poging is, die oomblik wat jy, in jou poging om welvarend  te wees iets moet doen, wat Jesus nie sou gedoen het nie.
Die veiligste vir ‘n kind van God om wat aardse goed aanbetref te lewe is:

HEB 13:5-6
5  Hou julle lewe vry van die honger na geld. Laat wat julle het, vir julle genoeg wees. Onthou dat God die versekering gegee het: “Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.”
6  Daarom kan ons moed skep en antwoord:
“Die Here is my hulp;  daarom sal ek nie bang wees nie.  Wat kan ’n blote mens my aandoen?”

Baie mense, ek sal selfs met die getuienis uit die Woord tot my beskikking beweer, die meeste mense wat die welvaart-perd opgesaal het, het in die hel opgeëindig en die meeste wie dit nog vandag doen gaan daar opeindig en as jy nou dink ek oordryf, wel kom ons kyk wat sê die Woord alles in hierdie verband.

Ek het gesê, dat die eerste rooilig vir jou, as jy die welvaart-perd opsaal is, wanneer jy iets moet doen wat Jesus nie sou gedoen het nie, want dan begin jy klaar op ‘n sondige wyse jou welvaart-perd opsaal en elke keer daarna wat jy so iets doen en dit gaan al hoe makliker vir jou raak om dit te doen en so kom dit dan, dat die welvaart-perd met sy pragtige rykdom-saal met jou op loop gaan en die meeste mense dan in die hel opeindig.

So kom ek begin dan met Jesus se woorde oor rykdom en of dan welvaart wat die aardse aanbetref en onthou as jy dit lees – Dit is God in ‘n mens se gestalte wat dit gesê en vir ons laat opteken het:

MAT 19:23-24
23 Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Ek verseker julle dit is bitter moeilik vir ’n ryke om in God se koninkryk in te gaan.
24 (Dan sê God die almagtige wat mens geword het) Ek wil dit beklemtoon, dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te gaan as wat dit vir ’n ryke is om in God se koninkryk in te gaan.”

Kom ons kyk na wat die Woord nog verder in hierdie verband sê.

Jesus, in sy verduideliking van die gelykenis oor die saaier, sê onder andere die volgende:

MAT 13:22  Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, is hulle wat die boodskap hoor, maar die bekommernis van hierdie lewe en die verleidelikheid van die rykdom verstik die boodskap en dit bly sonder vrug.  (want die rykdom-saal sit net te lekker op hierdie welvaart-perd.)

Nog verder op ‘n ander plek en dit is weer Jesus wat praat, lees ons:

LUK 16:13  “Niemand kan twee eienaars dien nie. Want jy sal die een haat en die ander liefhê, of die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én geld dien nie.”

Dan lees ons dat die Woord sê van mense, ryk mense wat ryk geword het maar nie volgens ons Here se beginsels nie natuurlik:

JAK 5:1-3
1 Kom nou, julle ryk mense, huil en treur oor al die swaar wat vir julle voorlê.
2 Julle rykdom sal definitief vergaan en julle klere deur motte gevreet word.
3 Julle goud en silwer sal beslis oproes. Hierdie einste roes sal soos vuur julle vleis wegvreet. Só sal die goud en silwer wat julle opgegaar het, op die oordeelsdag teen julle getuig.

Jy sien die gemiddelde mens en kyk eerlik na jouself, is nou maar net so:

Hoe meer ek het, hoe meer wil ek hê en hoe minder kan ek armoedige mense verdra en hoe meer ek het, hoe meer mense wat minder as ek het, raak vir my minderwaardig en benede my.  Ja, hoe minder kan ek armoede en selfs die armes regtig deel van my vriendekring maak omdat hulle te arm volgens my lewenstandaard geword het en mag ek myself nog ‘n Christen noem maar dan is ek ‘n Christen sonder Christelikheid.

As iemand nou vir my sou vra wat is die resep wat ‘n Christen moet volg om welvarend wat aardse goedere aanbetref behoort te wees, sonder om in die gevaarlike posisie te beland van ‘n kameel wat nie deur die oog van ‘n naald kan gaan nie, dink ek om dit so eenvoudig as moontlik vir my en jou te hou, hoef ek maar net die volgende gedeeltes uit die Woord te kwoteer en daarmee sluit ek dan ook af:

MAT 6:33  “Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg.

Want eers moet ek die rykdom wat ons Here wil dat ek in oorvloed moet besit myne maak en dit is waarna ons eerstens moet strewe:

EFE 6:16-19
16 Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid (Geen aardse rykdom kan hiermee vergelyk word nie) aan julle die krag gee om innerlik sterk te word.
17 Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees.
18 Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is.
19 Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word.

Met hierdie rykdom in my lewe, kan ek dan MAT 6:33  … al hierdie ander dinge … wat ek begeer, hanteer.

So, as jy regtig aardsgewyse ryk en welvarend wil wees – Ja, as jy regtig dink jy kan daardie perd ry en hy gaan jou nie in die hel afgooi, omdat jy nie goed genoeg kon ry om selfs, as dit moet deur die oog van ‘n naald te gaan nie, werk daarna altyd in eerlike opregtheid voor ons Here maar tot dan – en laat dit sommer jou maatstaf wees van hoe ‘n goeie welvaart ruiter jy is:

HEB 13:5  Hou julle lewe vry van die honger na geld. Laat wat julle het, vir julle genoeg wees. Onthou dat God die versekering gegee het: “Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.”

Groete,
Sakkie