MAG EK OOR EN OOR VIR GOD DIESELFDE DING VRA

MAG EK OOR EN OOR VIR GOD DIESELFDE DING VRA?

Sakkie Parsons

Iemand het vir my ‘n e-pos gestuur, waarin die persoon vra of ek weer vir God iets mag vra, as ek alreeds dit vir God gevra het.
Is dit nie dalk sonde om vir God oor en oor aste ware te “nag” omdat God ons dan nie antwoord nie.

Ek gee hier vir jou ook my antwoord aan die persoon, miskien kan dit iemand anders  ook help.

Natuurlik mag jy vir God vra, inteendeel Hy wil hê jy moet vir Hom vra.

Dit was en is ook vir my lekker as my kinders vir my hulp, raad of bystand van enige aard vra, want dit is vir my lekker om te weet dat my kinders soveel van my dink dat hulle weet hulle kan op my reken en Jesus sê dat as ons wat sleg is, so optree, dink dan net hoe wonderlik sal God nie optree nie.

MAT 7:7 “Vra, en God sal vir julle gee wat julle vra. Soek, en julle sal kry wat julle soek. Klop, en Hy sal vir julle die deur oopmaak. 8Want vir elkeen wat vra, sal Hy gee, en elkeen wat iets soek, sal dit kry, en vir elkeen wat klop, sal Hy die deur oopmaak.
9“Is daar een van julle wat vir sy kind ’n klip sal gee as hy brood vra? 10Of sal jy vir jou kind ’n slang gee as hy vis vra? 11Al is julle sleg, probeer julle tog om vir julle kinders die beste dinge te gee. Sal julle Vader wat in die hemel is dan nie nog baie meer gewillig wees om die beste te gee vir die wat Hom vra nie?

Meer duidelik as dit kan dit eintlik nie gestel word nie
Daar is egter ‘n gedeelte wat jy nou gelees het, wat party mense laat dink dat God hulle nie hoor nie, of dat daar dalk nie ‘n God is wat kan hoor nie.

MAT 7:7 “Vra, en God sal vir julle gee wat julle vra. Soek, en julle sal kry wat julle soek. Klop, en Hy sal vir julle die deur oopmaak. 8Want vir elkeen wat vra, sal Hy gee, en elkeen wat iets soek, sal dit kry, en vir elkeen wat klop, sal Hy die deur oopmaak.

Daar is baie dinge wat ek vir God vra, wat hy nog nie geantwoord het nie en van die dinge wat ek Hom gevra het, gaan Hy dalk nooit antwoord nie maar ek bly vra en wat dit aanbetref, weet ek ‘n paar dinge.
Ek mag (en ek sê dit met groot respek) God maar “nag.”

Ek het al vir my Vader gesê, dat ek weet, dat ek nou “nag” maar asseblief, hier kom dit al weer.

Lees gou hier:

LUK 18 Jesus wou sy dissipels wys dat hulle moet aanhou bid sonder om moed op te gee. Daarom het Hy vir hulle hierdie gelykenis vertel:
2“Die regter van ’n sekere stad was ’n man wat vir God geen respek gehad het nie en ook nie vir mense omgegee het nie. 3 In daardie stad was daar ’n weduwee wat elke keer na hom toe gekom het en hom gevra het: ‘Gee my tog wetlike beskerming, want daar is iemand wat my te na kom.’
4 “Eers het die regter geweier om iets aan die saak te doen maar later het hy begin dink: ‘Ek het vir God geen respek nie en vir mense gee ek nie om nie, 5 maar hierdie weduwee val my so aanhoudend lastig dat ek haar wetlike beskerming sal gee anders gaan sy my nog gedaan maak!’ ”
6 Die Here sê toe: “Let op wat daardie oneerlike regter gesê het. 7 As hy so iets kon sê, sal God dan nie doen wat reg is vir sy mense wat Hy uitgekies het as hulle dag en nag na Hom roep nie? Sal Hy baie lank wag voor Hy dit doen? 8 Ek sê nou vir julle, Hy sal gou aan hulle saak aandag gee. Maar die vraag is: as Ek, die Redder, terugkom, sal Ek nog mense kry wat so op God vertrou?” 

Om net gou weer terug te kom na die gedeelte waar Jesus sê:

MAT 7:7 “Vra, en God sal vir julle gee wat julle vra. Soek, en julle sal kry wat julle soek. Klop, en Hy sal vir julle die deur oopmaak. 8Want vir elkeen wat vra, sal Hy gee, en elkeen wat iets soek, sal dit kry, en vir elkeen wat klop, sal Hy die deur oopmaak.

Nie als wat ek God vra, is dinge wat ek behoort te vra nie, of dinge wat ek nou al moes gevra het nie.

Ek kan byvoorbeeld nie verwag dat God my gebed gaan antwoord, as ek Hom vra dat Piet en sy vrou asseblief tog moet skei nie, want ek is dan so lief vir Piet se vrou en ek weet sommer ons sal beter by mekaar pas as sy en Piet.

Ek sal ook nie vir my seun, as hy huilend by die huis ingestorm kom en my vra om my rewolwer te leen om Jannie te gaan skiet nie, want Jannie is baie groter as hy en Jannie het hom nou net geslaan en hy kan nie vir Jannie gaan slaan nie, want Jannie is baie sterker as hy.  Al is ek hoe lief vir hom en al kry ek hom ook baie jammer omdat hy huil.

As my dogter kort voor ete vir my vra of sy groot asseblief ‘n roomys kan kry, gaan ek sê nee maar na ete gaan ek dit met ‘n groot lekker in my hart vir haar gee maar voor ete het ek gesê nee, want ek wou nie, soos ons dit noem, haar maaltyd breek en sy dan nie haar kos gaan eet nie.
God antwoord my gebede maar nie altyd wanneer en hoe ek wil nie.

Ook, toe my dogters klein was, het ek hulle in die warm son laat tennis oefen en baie keer het hulle gekla maar hulle het albei vir hul skool se eerste span tennis gespeel.
Jy sien, nie net wou ek hulle help om hul potensiaal te bereik nie, ek wou ook so ‘n bietjie met my kinders spog.

Ek dink dat God partykeer ons deur dinge laat gaan, om as voorbeeld te gebruik, om vir al wat leef om ons, ja, selfs vir die satan, Sy wonderlike kinders  te wys en sommer ter selfde tyd ons te help om ons volle potensiaal van kindskap hier op aarde te bereik.

JOB1:6  Op ’n dag het die inwoners van die hemel hulle voor die Here kom aanmeld, en die Satan was ook tussen hulle. 7 Die Here vra toe vir Satan: “Waar kom jy nou vandaan?”
“Ek kom van die aarde af,” antwoord Satan, “wat ek kruis en dwars deurreis het.”
8 Die Here vra hom toe: “Wat dink jy van my dienskneg Job? Hy is ’n eerlike en ’n goeie mens wat My aanbid en niemand kwaad aandoen nie. Daar is beslis nie nog so ’n mens op die aarde nie.”
9 Die Satan se antwoord was: “Ja, maar is Job nie maar net godsdienstig omdat dit vir hom so voordelig is nie? 10 U het hom en sy huisgesin en sy besittings van alle kante af beskerm en hom voorspoed gegee in alles wat hy aangepak het. Kyk net wat besit hy nie vandag alles nie! 11 Maar vat net daardie rykdom van hom weg, en kyk dan wat hy doen—hy sal U in u gesig vloek!”
12 Die Here sê toe vir Satan: “Nou goed, jy kan met sy besittings maak wat jy wil, maar aan hom self mag jy nie raak nie.” So is die Satan toe weer van die Here af weg.

Met groot respek wil ek sê, jy kan van wat God hier gedoen het, niks anders noem as ”brag” met Job nie.

Jy sien kind van God.  Elke keer as ek met my God gesels en met Hom iets bespreek en iets vra, wag ek met heerlike afwagtend, oor wat Hy gaan doen, want ek het hierdie heerlike wete, wat my ook volkome vrede gee as ek klaar gebid het.

ROM 8:28  Ons weet dat God alles wat gebeur, laat saamwerk tot ons voordeel as ons Hom liefhet, want God het ons geroep omdat Hy vooraf so besluit het.

So kind van God, gaan met groot vrymoedigheid na ons Here toe.

FIL 4: 6  Julle moet julle nie oor enigiets bekommer nie. Bid daaroor en sê vir God duidelik wat julle wil hê. Vra Hom om dit vir julle te doen en sê vir Hom dankie!

7 Dan sal God julle sy wonderlike vrede gee wat ’n mens nooit met jou verstand kan verklaar nie. Sy vrede sal wag hou oor julle hart en julle gedagtes omdat julle aan Christus Jesus behoort.

Onthou kind van God –
God antwoord altyd, God antwoord net nie altyd wanneer en soos ons wil hê nie.

Groete,
Sakkie