MAG EK WEER TROU AS EK GESKEI IS

MAG EK WEER TROU AS EK GESKEI IS?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en ek som die persoon se vraag aan my as volg op:

“Mag ek weer trou as ek geskei is?”
Dan voeg die persoon by:
“Gee my die Bybelse perspektief soos jy dit sien.”

Nou goed.
Daar is twee onbetwisbare feite wat ek dadelik onthou, as ek aan my antwoord in hierdie saak dink.
Die eerste onbetwiste feit is dit:
God haat egskeiding:

MAL 2:16  Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, …

Die tweede feit is dit:
In die hele heelal is daar niemand wat eens kan begin om jou lief te hê soos wat ons Here jou lief het nie en ek deel met jou net twee voorbeelde uit die Woord uit die menigte wat ek kon kies om dit aan jou te wys:

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het,  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

JHN 15:13  Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. (soos wat Jesus deur die wrede kruisdood Sy lewe vir jou gegee het.)

Nou is dit vir my so wonderlik, dat juis in die antwoord van die vraag wat aan my gestuur is, die onderskrywing van bogenoemde onbetwisbare feite gesien kan word.
Kom ek lig dit gou vir jou uit.
Onthou jy?
Die eerste onbetwisbare feit, dat God haat egskeiding:

MAL 2:16  Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, …

Dan kom ons wonderlike liefdevolle God, as ons, ons sonde – watter groot sonde dit ookal is – bely, buiten die een teen die Heilige Gees, en Hy sê vir ons:

1JHN 1:9  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Want dan lees ons ook, dat hierdie liefdevolle God wie egskeiding haat, by geleentheid – terwyl Hy as mens hier op aarde Sy liefde evangelie gevestig het – met mense wat Hom wil vasvra die volgende sê:

MAT 19:4-8 
4 En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie,
5  en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees;
6  sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. (want God haat egskeiding)
7  Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om ‘n skeibrief te gee en van haar te skei?
8  Hy antwoord hulle: Omdat Moses (onder die leiding van ons Here natuurlik) weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af (dit is van die skepping af) was dit nie so nie.

Die gedeelte waaroor die Fariseërs hier met Jesus redeneer is die volgende:

DEU 24:1-4 
1 As ‘n man ‘n vrou neem en met haar trou, en as sy dan geen guns in sy oë vind nie, omdat hy iets skandeliks aan haar ontdek het, en hy haar ‘n skeibrief skrywe en in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur,
2  en sy uit sy huis uittrek en weggaan en ‘n ander man s’n word,
3  en dié laaste man haar haat en haar ‘n skeibrief skrywe en in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur, of as dié laaste man sterwe wat haar vir hom as vrou geneem het—
4  dan mag haar eerste man wat haar weggestuur het, haar nie weer neem, dat sy sy vrou word nadat sy onrein geword het nie; want dit is ‘n gruwel voor die aangesig van die HERE, …

So.
God haat sonde maar tog kyk Hy in sy grootse groot liefde soms by egskeiding verby.
Mag jy skei?
Ek kan daardie vraag nie vir jou antwoord nie, want ek ken gewoon nie, soos ons Here, al die omstandighede nie.
Mag jy weer trou nadat jy geskei is?
Vir dieselfde rede kan ek ook nie vir jou sê of jy weer mag trou nie maar ek weet verseker, dat ons Here groot deernis het met ons en dat Hy weet:

GEN 2:18  Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.

Daarom –  Dit is ‘n saak tussen jou en ons Here.

Wat ek wel vir jou kan sê is die volgende:
As jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, geld die volgende vir jou:

As jy in opregtheid jou sonde, ook die sonde vanweë jou egskeiding, teenoor Hom bely het, het Hy jou vergewe en ek herinner jou net weer aan dit wat jy reeds gelees het en hoor hoe mooi lees dit uit die Nuwe Lewende Vertaling:

1JHN 1:9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

So, as jy nie weet wat jy in die geval van egskeiding in jou omstandighede behoort te doen nie, praat dan openhartig in die geloof met jou liefdevolle Vader, terwyl jy onthou:

JAK 1:5  En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.
JAK 1:6  Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

Wandel al die tyd in die weë van ons Here, want dan hoe wonderlik:

PSM 37:4  en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.

Groete,
Sakkie