MAG ONS DAN NOU DIE SONDE MEER MAAK

MAG ONS DAN NOU DIE SONDE MEER MAAK

Sakkie Parsons

Ek wil graag met jou deel oor ‘n onderwerp wat deesdae baie ter sprake kom en wat weer in ‘n gesprek wat iemand met my gevoer het, ter sprake gekom het.

Voor ek egter enige iets verder sê, wil ek dit baie duidelik stel dat ek nie “Gay” mense veroordeel nie. As kind van God mag en sal ek dit nooit doen nie. Ons veroordeel myns insiens te maklik die mens, terwyl ons met die mens deernis en liefde moet hê en die sonde haat.

Jesus sê:

MAT 7:1  “Hou op om ‘n oordeel oor ander uit te spreek.  Dan sal God ook nie ‘n oordeel oor julle uitspreek nie.
MAT 7:2  Hy sal julle beoordeel soos julle ander beoordeel.  Die kriterium waarmee julle oordeel, sal ook vir julle self gebruik word.”

Hier dan is hoe ek dit uit die Woord van ons HERE vind:

Ten spyte daarvan dat die mens sê dat iemand wat “gay” is, nie kan verander nie, stem ek nie saam nie. Hulle sê ook dat ‘n alkoholis altyd ‘n alkoholis sal wees.

Om bogenoemde te suggereer, is na my mening om ons Here te beperk in dit wat Hy kan en nie kan doen nie.

My pa was ‘n alkoholis in “spades.” Hy het verskriklik gedrink. Hy het so gedrink dat ons altyd gebrek gely het, maar toe die Here sy siel gered het, het hy nooit weer drank gekoop nie. Die enigste kere wat hy nog iets gedrink het, was wanneer hy by ons kom kuier het en ek en hy ‘n glasie port saam geniet het.

Daar is niks wat God nie kan reg maak nie.

Ek deel nou met jou uit die Woord van ons HERE:
Kom ons kyk wat die Ou Testament oor hierdie saak sê. Ek weet mense redeneer dat dit deel van die wet is en ons is nie meer onder die wet nie en dit is reg. As ons egter na die wet kyk, kry ons darem ‘n idee van hoe God se hart klop:
(1953 Vertaling)

LEV 18:22  “Met ‘n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ‘n
      mens met ‘n vrou het nie. Dit is ‘n gruwel.
LEV 20:13  En as ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het soos ‘n mens met ‘n vrou het, het hulle al twee iets gruwelikste gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle.”

Weereens wil ek sê dat ek nie die mens oordeel nie maar ek deel met jou wat ek in die Woord lees.  Dit is God wat gesê het wat jy gelees het.

Nou ‘n gedeelte uit die Nuwe Testament:

ROM 1:26  Dit is daarom dat God hulle oorgegee het aan hulle eie skandelike drifte.  Selfs die vroue het die natuurlike seksuele verkeer verruil vir wat teen die natuur is, naamlik dié met ander vroue.  
ROM 1:27  Op dieselfde manier het die mans die natuurlike manier om seksueel te verkeer prysgegee en ‘n brandende begeerte na mekaar begin koester.  Mans het skandelike dade met mekaar bedryf.  Gevolglik moes hulle in hulle eie persoon die duur prys vir hulle perversiteit betaal.

Daar was vir my in die koerant gelees, kort voor ek hierdie gedagte uit die Woord geskryf het, dat een van die Kerk Genootskappe ‘n Sinode besluit geneem het dat “gay” mense ook nou leraars kan word, terwyl hulle daardie leefwyse uitlewe.
Die gevolge is dat indien dit toegelaat word, moet dit dan ook konsekwent wees met dieselfde kriteria teenoor alle mense.  Vrae kan dan opduik: Vir watter rede kan ‘n sekswerker dan nie ook ‘n pastoor word nie? Of: Hoekom kan ‘n sekswerker nie sy beroep as ‘n tentmakersbediening in ‘n gemeente beoefen nie? 

Onthou ek sê, dat ons deernis met die mens moet hê, maar die sonde moet haat.
Dus –  byvoorbeeld: ‘n sekswerker wat hom van daardie weg bekeer het, kan natuurlik byvoorbeeld ‘n herder van ‘n gemeente word maar verseker nie terwyl hy nog steeds die praktyke beoefen nie en dit geld natuurlik vir alle leefwyses waarteen ons Here, volgens die Woord is.

Mense wat sê dat ons moet onthou dat tye verander het, sê dat God nie in die toekoms kon sien dat tye gaan verander nie en daarom is dit wat daar in dié verband geskryf is, net vir die mense van daardie tyd. Mense wil met allerhande slim redenasies kom oor hoekom ons sus of so moet redeneer, maar ek kyk onder die leiding van die Heilige Gees na die Bybel soos Jesus gesê het dat ons na Sy evangelie moet kyk:

MRK 10:15  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

MAT 11:25  In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.
MAT 11:26  Ja, Vader, want so was dit u welbehae
.

Ek sal liewer nooit probeer om slim te wees en allerhande konnotasies aan verse in die Bybel gee nie. Ek glo die Bybel soos ‘n kind daarin sal glo. Elke keer wat die satan vir Jesus versoek het, het Hy vir die satan gesê: “Daar is geskrywe…”

Ek sê altyd dat ek net die Bybel het as my hoogste Gesag en ek kan net die Bybel kwoteer as my opinie gevra word.

So, as iemand my, my opinie vra wat betrekking het op hoe ek die evangelie van Jesus Christus verkondig, onderstreep ek altyd dit wat ek sê met aanhalings uit die Woord.
So, ek sê dan soos wat Jesus vir my die voorbeeld gestel het:
“Daar is geskrywe …”

Ek het natuurlik nie al die antwoorde nie.  In baie, baie gevalle sê ek soos my groot
held Paulus:

1KOR 13:12  Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees.  Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.

Een ding staan egter in my lewe soos ‘n paal bo water. Die Woord van God, soos ek dit ontvang het toe ek tot bekering gekom het, is my padkaart Hemel toe:

GAL 3:22  Maar die Skrif getuig die teendeel:  Alles is vasgevang in die greep van sonde sodat die belofte op grond van geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee sou kon word.

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe.  Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl.
2TIM 3:17  Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen.

2TIM 4:1-5 
1 Ek wil jou dus ernstig aanspoor voor God en voor Christus Jesus, wat die lewendes en dooies gaan oordeel wanneer Hy verskyn om sy koningsheerskappy te vestig:
2 Verkondig die woord van God.  Hou daarmee vol, of die tyd daarvoor geleë is of nie.  Jy moet jou mense met geduld reghelp, weerlê en bemoedig met gesonde onderrig.
3  Want daar kom ‘n tyd wanneer mense nie meer na die regte onderrig sal luister nie.  Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle wil hoor.
4  Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg.
5  Maar jy moet in elke situasie jou teenwoordigheid van gees behou.  Moenie bang wees om vir die Here te ly nie.  Werk daaraan om ander na Christus te bring.  Voltooi die bediening wat God jou gegee het.

Die Woord van God wat Jesus kwoteer het en wat Sy Gees Sy Apostels laat kwoteer
het, is goed genoeg vir my. Weer sê ek dat ons vir die sondaar, met ander woorde, vir mekaar moet lief wees maar dat ons die sonde moet haat en glad nie moet verdra nie.

Ons moet beslis nié maak soos ‘n prediker eendag vir my gesê het nie. Sy woorde aan my was dat hy glad nie meer sonde preek nie. In dié verband kan ek weer my groot held Paulus kwoteer:

ROM 6:1-4 
1 Beteken dit nou dat ons in die sonde moet voortlewe sodat die genade steeds oorvloediger kan word?
2  Hoegenaamd nie!  Ons is immers dood vir die sonde.  Dis tog onmoontlik dat ons nog langer daarin kan voortlewe!
3  Of het julle vergeet dat ons met ons doop een geword het met Christus Jesus en so saam met Hom gesterf het?
4  Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood.  En nou kan ons, net soos Christus wat deur ‘n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ‘n totaal nuwe lewe leef.

Jesus sê van die huwelik en die verhouding in die huwelik tussen man en vrou, die volgende:

MAT 19:4-6 
4 Hy antwoord hulle:  “Het julle nie in die Skrif gelees dat die Skepper die mens van die begin af man en vrou gemaak het nie?
5  En die Skrif sê verder:  ‘Daarom sal ‘n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg.  So sal hulle tot een liggaam verenig word.’
6  Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam.  Wat God so saamgevoeg het, mag ‘n mens nie uitmekaarskeur nie.”

Volgens Jesus het God van die begin af bedoel dat die huwelik vir man en vrou moet wees.  Soveel so, dat in God se oë die man en vrou soos een sal wees.

Verseker praat Jesus nie van man en man nie en ook nie van vrou en vrou wat een vlees sal wees nie.

Omdat ek alles glo wat in die Woord geskryf is, is dit natuurlik ook nie vreemd, of selfs ‘n verrassing, dat sommige Christelike genootskappe die besluite neem wat hulle neem nie.  Ons Here sê dan in Sy Woord dat dié soort ding sal gebeur in die laaste dae – hoor hoe stel die 1953 Vertaling 2TIM 4 verse 3 en 4:

2TIM 4:3  “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
2TIM 4:4  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

2TIM 3:1-5 
1  Jy moet ook dít weet, Timoteus, dat daar gedurende die laaste dae moeilike tye sal kom.
2  Want mense sal net hulleself en hulle geld liefhê.  Hulle sal grootpraterig en arrogant wees, met God spot, ongehoorsaam aan hulle ouers en ondankbaar.  Hulle sal niks (met ander woorde ook nie die huwelik) as heilig beskou nie.
3  Hulle sal liefdeloos en onvergewensgesind wees;  hulle sal ander mense belaster en geen selfbeheersing hê nie;  hulle sal wreed wees en geen belangstelling hê in wat goed is nie.
4  Hulle sal hulle vriende verraai, roekeloos wees, hooghartig, en hulle sal plesier liewer hê as vir God.
5  Hulle sal optree asof hulle godsdienstig is, maar dit wat aan die Christelike godsdiens sy innerlike krag gee, ignoreer.  Jy moet wegbly van sulke mense af.

Klink hierdie omstandighede vir jou bekend?
Hoe hartseer dit ook is dat daar ongelukkig mense is wat deur hierdie valse leer mislei sal word, maak dit my ook opgewonde, want dit sê vir my Jesus se koms is op hande:

MAT 24:11-14 
11 Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense op ‘n dwaalspoor bring.
12  Die sonde sal sodanig toeneem dat baie se liefde sal afkoel.
13  Maar elkeen wat enduit volhard, sal gered word.
14  Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.

Gee tog asseblief ag op dit wat jy nou gelees het, sowel as die volgende – voordat die einde kom – want as die einde gekom het, sal dit te laat wees:

1KOR 6:9-10  Besef julle dan nie dat mense wat ‘n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie?  Moenie julleself bluf nie.  Mense wat ‘n onsedelike lewe lei, afgodsdienaars, egbrekers, manlike prostitute en die mans wat met hulle omgaan, diewe, gierigaards, drinkers, kwaadpraters, swendelaars – nie een van hierdie mense sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Lees asseblief verder tot vers 20.

As ek so om my na dit kyk wat sommige kerkgenootskappe besig is om te doen, lyk
dit vir my dat in sekere “Christelike” kringe die volgende wet geld:

“Kom nou mense, laat ons die sonde vertroetel en selfs meer maak, sodat die
genade groter kan word.”

Ook dáárteen het ons Here wat in die toekoms kon sien ons gewaarsku –
Onthou jy wat jy so ‘n bietjie vroeër in hierdie skrywe gelees het?
Die 1953 Vertaling stel dit so:

ROM 6:1-4 
1 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?
2  Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?
3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”

As ons die Woord van God glo, laat ons lewe dan ‘n weerspieëling wees van dít wat ons bely dat ons glo.

Groete,
Sakkie