MAG ONS WILLENS EN WETENS MOEDSWILLIG SONDIG?

MAG ONS WILLENS EN WETENS MOEDSWILLIG SONDIG?

Sakkie Parsons

Met Getrouheid Sal Hy Die Reg Uitbring

Iemand skryf aan my as volg:

“Ek wil jou n snaakse vraag vra:
As mens iets verkeerd doen,en vra vir God om jou te vergewe maar jy doen dit weer.
Vergewe Hy jou nog steeds?“

Hier is hoe ek die antwoord op hierdie vraag sien:

Wat ek nou skryf geld vir almal wat waarlik Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker.

Elke keer wanneer jy in opregtheid na ons Here gaan en om vergifnis vra, word jy vergewe en wat meer is, ons Here dink nooit weer aan daardie sonde nie want as Hy jou vergewe dan is jy vir altyd vir daardie sonde van daardie spesifieke keer vergewe.

PSM 103:11-13 
11 Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.
12  So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.
13  Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.

Ons lees in die Nuwe Testament:

1JHN 1:9  As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
1JHN 1:10  As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar.

Dan –
Ons Here sal nooit vir jou iets sê om te doen, wat Hy nie in volmaaktheid doen nie en hy sê aan Petrus en aan jou en my:

MAT 18:21  Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?
MAT 18:22  Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe. (Elke keer)

Ons moet altyd as iemand ons om vergifnis vra, die persoon vergewe en presies dit doen ons Here ook, as ons Hom werklik in opregtheid om vergifnis vra.

Die verskil tussen jou en my vergifnis en ons Here se vergifnis is egter dit:
Ons neem soms nog ‘n tyd om vrede met ons gevoelens te maak al het ons werklik vergewe omdat ons maar net mens is maar soos ek die Woord verstaan, is dit vir ons Here, nadat jy Hom om vergifnis gevra het, as of jy nog nooit daardie sonde gedoen het nie.
Dit alles is as gevolg van die Bloed van Jesus wat op Golgota vir jou en my gevloei het.

Daarom nooi ons Here ons uit:

JES 1:18  Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.

So laat jy en ek dit ons strewe maak om nadat ons, ons Here om vergifnis gevra het, daaraan te werk om nie weer daardie sonde te doen nie, sodat ons al meer heilig voor ons Here kan lewe deur ons getuienis teenoor die mense om ons.
Dit kan ons doen, omdat, en hoe heerlik om te weet, ons Paaslam is vir ons geslag.

1KOR 5:7  Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.
1KOR 5:8  Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.

Daar is egter twee ander aspekte van hierdie saak wat ek graag net met jou wil deel.
Die eerste is dit:

Beteken dit nou dat ek maar moedswillig kan sondig?

Soos die getroude man van wie ek weet wat vir ‘n getroude vriendin van my laat verstaan het dat hy vir haar lief is en ‘n verhouding met haar wou begin en toe sy vir hom vra wat die Here daarvan gaan dink, hy vir haar sê: “Ons vra die Here net om verskoning en dan is alles reg.”
Dit werk nie so nie.
God, met groot respek gesê, is nie swaksinnig of misleibaar nie.
Nee !
Juis omdat Hy God Almagtig is, behoort so ‘n gedagte nie eens in ons harte op te kom nie.
Vir die gene wat so ‘n dwase gedagte wel wil oorweeg, kan ek maar net herinner wat in die Woord geskryf staan.

GAL 6:7  Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.
GAL 6:8  Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.

Ons sal ook goed doen deur te onthou dat as ons wil sê: “Dat ek nie geweet het dit is regtig verkeerd vir ‘n Christen/dissipel/volgeling van Jesus om dit te doen nie” en dit terwyl jy die Heilige Gees inwonend  in jou het om jou te lei, dat daar ook geskryf staan:

SPR 24:12  As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! —sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk.

Vir diegene wat dink dat hulle die verkeerd wat hulle doen en vertroetel, hulle met goeie dade ensovoorts tot niet kan maak, wil ek net op die volgende wys:

1SAM 15:22  Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.
1SAM 15:23  Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. …

SPR 21:3  Om geregtigheid en reg te doen, is vir die HERE verkiesliker as offers.

Die laaste aspek in verband met hierdie saak wat ek met jou wil deel, is die volgende:

Wat nou as ek verslaaf is aan die een of ander verdowingsmiddel?
Ek weet dit is verkeerd en as ek dit gedoen het, soms terwyl ek dit doen, is ek baie
ongelukkig omdat ek my God teleurstel maar ek kan myself nie help nie.

Ek kan maar net met groot deernis aan jou sê dat ek weet waarvan jy praat, want ek
was daar.
Ek het ‘n gemiddelde van 20 sigarette per dag gerook, nadat ek Jesus aangeneem het
as my Verlosser en Saligmaker.
Wat ek aan jou verseker kan sê:  As jy opreg is in jou vergifnis vra is, vergewe Jesus
jou, hy het my vergewe maar dit mag nooit maar nooit nou maar die norm in jou lewe word:

“Dit is nou maar my swakheid.  Ek sal maar net elke keer ekskuus sê.”

Jy moet aanhoudend daarteen veg en in sommige gevalle van professionele hulp gebruik maak en op ‘n dag, soos dit met my gebeur het, kom jy amper met ‘n skok agter:
“My wêreld!  Ek doen dit nie meer nie!”
Dit geld natuurlik vir alle verslawings, afwykings, of wat jy dit wat verkeerd in jou
lewe is ook al wil noem.

Onthou jy wat Jesus vir die vrou wat in owerspel betrap was gesê het?

JHN 8:10  En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie?
JHN 8:11  En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.

Sien jy?
Jesus het haar nie veroordeel nie maar Hy het ook aan haar gesê:

JHN 8:11   … Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.

Ek laat jou dan nou ten slotte met die volgende 3 gedeeltes uit die Woord aangaande
ons Almagtige, Alsiende God.

SPR 15:11  Die doderyk en die plek van vertering lê oop voor die HERE, hoeveel te meer die harte van die mensekinders!

PSM 33:14  Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde,
PSM 33:15  Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hul werke.

Terwyl ons al hierdie dinge weet, hoe heerlik om by dit alles, nog dit ook te weet:

JES 42:3  Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.

Groete
Sakkie