MELGISÉDEK

MELGISÉDEK

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra:  “Vertel my bietjie meer van Melgisédek asseblief !“

Melgisédek is, wat my persoonlik aanbetref, om dit so te stel – ‘n taamlike misterieuse persoon. Melgisédek maak persoonlik sy eerste en ook sy laaste verskyning in

Genesis 14:18-20:

Gen 14:18-20 

18En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring

19  en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde.

20  En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.”

Daar is, wat ek al gehoor het, allerlei – ek noem dit spekulasies – wat mense oor Melgisédek maak.  Oor byvoorbeeld wie hy was, maar uiteindelik, soos ek dit sien, is dit maar net mense se spekulasie en ongelukkig soms ook, soos ek dit sien, mense wat Melgisédek wil gebruik om te probeer bewys dat ‘n Christen verplig/gedwing, of is dit nou geboelie word om ‘n tiende, en dan gewoonlik net van haar/sy geld natuurlik, moet gee.

Hier moet ek net noem dat ek uit die Woord verstaan dat ‘n Christen behoort te gee, maar soos sy/hy in hulle harte hulle voorgeneem het.  Met ander woord, as jy nie geld kan gee nie het jy jou tyd of jou talente, om maar net twee voorbeelde te noem, wat jy vir die werk van ons Here kan gee.  Beslis mag niemand ‘n Christen op ‘n subtiele, of enige ander wyse dwing/boelie  om ‘n tiende van geld of wat ookal te gee nie:

2KOR 9:5-7 

5Ek het dit dus noodsaaklik geag om die broeders te versoek om vooruit te gaan na julle toe en julle vroeër aangekondigde dankoffer vooraf in orde te bring, sodat dit gereed kan wees as ‘n dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie.

6  Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.

7  Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.”

Terug dan by Melgisédek:

Wat weet ek verseker van Melgisédek?

Ek weet Melgisédek beteken “koning van geregtigheid.” Ek weet hy was ‘n koning in Salem.

Gen 14:18  “En Melgisédek, die koning van Salem, …”

Volgens van wat ek as baie betroubare bronne beskou, beteken Salem “vrede”.

Dan ook, Salem is ‘n ander naam vir “Jerusalem.”

Ek weet ook hy was ‘n priester van die een en enigste waaragtige God. Met ander

Woorde, ek weet ook dat Abram en sy huis nie die enigste was wat destyds ons Here

gedien het nie:

Gen 14:18  “wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, …

Baie teoloë glo, soos dit gestel word, dat  Melgisédek ‘n tipe van Christus is. Melgisédek se naam word twee keer in die Ou Testament genoem en 9 keer in die Nuwe Testament.

Ek kyk na Melgisédek en ek moet, wat myself aanbetref, daardie beroemde woorde van my groot held Paulus op myself van toepassing maak:

1KOR 13:12  “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”

Ek sou baie graag al die antwoorde op alles in die Woord wou hê, maar ek het dit nie en weet jy – uiteindelik gaan dit nie saak maak of jy en ek byvoorbeeld alles van Melgisédek, of wie, of wat ook al af weet nie. Wat ons uit die Hel uit gaan hou en die Hemel se poort vir ons gaan laat oopswaai is: Of ons, eerstens, ons harte vir Jesus Christus oopgemaak en Hom aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker:

OPG 3:20  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

OPG 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op My troon, soos Ek ook oorwin het en saam met My Vader op Sy troon gaan sit het.”

Tweedens, of ek Jesus enduit in hierdie lewe gevolg het en aan die anderkant van die graf met Jesus, wie in my woon, gaan arriveer.

JHN 14:6  “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

JHN 3:18  “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”

MAT 24:11  En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.

MAT 24:12  En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.

MAT 24:13  Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.