MENSE SAL SOOS ENGELE IN DIE HEMEL WEES

MENSE SAL SOOS ENGELE IN DIE HEMEL WEES

Sakkie Parsons

Iemand het na aanleiding van ‘n skrywe van my, waarin ek verduidelik het hoekom ek weet dat ons, ons geliefdes in die hemel sal herken, vir my die volgende vraag gestuur.
Ek plaas die vraag presies soos ek dit gekry het:

“Wat ek graag sal wil weet is dit:  As ons dan nou eendag in die hemel kom en mekaar wel herken en die blydskap so groot is dat ons vir dae (en jare miskien?) sal rejoice, wat gebeur as ons dan opmerk dat 2 van jou kinders byvoorbeeld daar is en die ander een is nie daar nie?  Of dat jou Ma daar is, maar nie jou Pa nie? Is daar dalk 'n skrifgedeelte wat jy van weet wat dit kan opklaar?  Ek weet ons sal nooit nou als weet en 100% verstaan van dit wat hierna kom nie, maar as jy dalk 'n antwoord het, sal ek bly wees.”

Hier dan, is my antwoord aan die persoon:

Ek kan ongelukkig nie vir jou sê hoé ons Here al daardie komplekse probleme opgelos het nie, want verseker het Hy dit lankal reeds opgelos.

Probleme soos byvoorbeeld:
Wat gaan gebeur, as ons Here my vrou voor my kom haal en ek sal dan weer trou en ook vir daardie dame baie lief wees en ek kom in die Hemel en hier is hulle albei.

Al wat ek vir jou in hierdie verband kan sê is dat dit glad en geheel nie ‘n probleem gaan wees nie.  Want, of daar, om dit so te stel, te veel van my geliefdes, of te min van my geliefdes gaan wees, van een ding is ek baie seker, ons gaan baie gelukkig wees en niks anders nie.

Jy en ek weet, dat as ons Here iets doen dan, om dit so te stel, bly dit baie goed gedoen en ek lees in die Woord:

OPG 7:17  Die Lam wat in die middel by die troon staan, sal hulle soos ‘n herder lei en hulle na die fonteine van lewende water bring:  en God sal elke traan van hulle oë afdroog.”

‘n Bewys vir my, dat ons Here die probleem van nie al ons geliefdes in die Hemel by ons nie, of soos die voorbeeld wat ek jou hierbo genoem  het, dat daar dalk selfs, so met die tong in die kies, ‘n geliefde of wat te veel mag wees al lankal opgelos het, is die volgende:

MAT 22:23-30 
23 Daardie selfde dag kom die Sadduseërs na Hom toe.  Hulle is ‘n groep Jode wat die opstanding uit die dood ontken.  Hulle vra Hom toe die volgende: 
24  “Leermeester, Moses het gesê: ‘As ‘n man kinderloos sterf, moet sy broer met die weduwee trou en so vir hom ‘n nageslag verwek.’
25  Nou was daar by ons sewe broers.  Die oudste een het getrou en omdat hy kinderloos gesterf het, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat.
26  Dieselfde ding het gebeur met al die broers tot die sewende een toe.
27  Laaste van almal is die vrou ook dood.
28  Sê nou vir ons – wie van hierdie sewe se vrou sal sy by die opstanding wees?  Hulle was tog almal met haar getroud.”
29  Jesus het hulle geantwoord:  “Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie.  Julle besef ook nie hoe magtig God is nie.
30  Want ná die opstanding uit die dood sal daar nie meer huwelike bestaan nie.  Mense sal soos engele in die hemel wees.

Terwyl ek hier vir jou skryf, dink ek daaraan –

Hoe heerlik om te weet, ons Here het al ons menslike probleme klaar uitgesorteer voordat ons in die Hemel aanland.  Want, dink net met watter vrees sou die ouens na die Hemel moes uitsien as hy al so ‘n drie of meer keer getroud gewees het.  Besluit maar self, hoe jy sou voel met die vooruitsig, van 3 of meer skoonma’s.

Gelukkig vir die wat dalk benoud word met die gedagte, om die Hemel met hierdie of daardie persoon te moet deel, is daar die heerlike troos van Mat 22:30  wat sê, dat hulle so sag soos engeltjies sal wees en gelukkig vir die wat jou benoud maak, het hulle ook die troos dat dieselfde vir jou ook geld.

Hoe heerlik die wete –

OPG 21:4 Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie.  Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie.  Die ou dinge het eenvoudig verbygegaan.”

OPG 21:5 Hy wat op die troon sit, het toe gesê:  “Kyk, Ek maak alle dinge nuut.” En Hy sê verder:  “Teken dit aan, want hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar.”

Groete,
Sakkie