MOEDSWILLIGE SONDE PAS NIE BY ‘N WARE CHRISTEN NIE

MOEDSWILLIGE SONDE PAS NIE BY ‘N WARE CHRISTEN NIE

Sakkie Parsons

Ek wil vandag met jou iets deel wat by my opgekom het nadat ek weer iemand hoor gesels het.
Ek het al iemand iets soos die volgende hoor sê:

Hy luister net na ‘n prediker as die prediker liefde preek.

Daar is herders wat verklaar dat hulle nie meer sonde preek nie.

Nou, ek sê nie, dat die rede wat ek noem die enigste rede is nie maar ek wonder of dit nie die vernaamste rede is waarom die meeste Christene leef soos wat hulle leef nie en daarom byvoorbeeld hierdie Christenland waar 80% (dit is die laaste syfer wat ek gehoor het) van die bevolking bely dat hulle Christene is, in die toestand is wat hy is nie maar ek kon ook ander Christennasies as voorbeeld voorgehou het.

Omdat die tyd waarin ons leef, nou maar die tyd is waarin ons lewe en baie herders, amper skryf ek die meeste herders, terwille van mammon – en nie terwille van Jesus nie – bang is die getalle verminder en so ook die tiendes wat (wat nié op ‘n Christen van toepassing is nie) moet betaal word, verkondig hulle net die mooi wat die mense wil hoor.

Natuurlik is dit wat gebeur nie ‘n verrassing vir ons wat glo dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is nie.  Die Woord sê, vir almal wat die Woord glo, dit is presies wat in die laaste dae sal gebeur:

2TIM 4:3  Want daar kom ’n tyd wanneer mense nie meer na gesonde onderrig sal luister nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle graag wil hoor.
2TIM 4:4  Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg.

Jy kry na my mening twee hoofstroom tipe Christene:

Jy kry Christene en dan kry jy ware Christene.

Toe ek eendag met iemand van “ware Christene” praat, noem hy my ‘n Christen “snob.”
Besluit jy nou maar self, as jy klaar gelees het of ek ‘n Christen “snob” is.
Die eerste soort Christen sal jou iets soos die volgende in een of ander variasie antwoord as jy hulle vra wat Christenwees vir hulle beteken:
“Jesus het op Golgota vir my sondes gesterwe. My sonde is vergewe.”
Dit is natuurlik reg en ek deel met jou ‘n voorbeeld uit die baie wat ek kon gebruik het:

1JOH 1:9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.

Dit is nou so wonderlik waar maar dit is daarby waar die meeste predikers deesdae by bly.
Die kerk begin al hoe meer in baie – en ek voel om te skryf – die meeste gemeentes, ‘n wat ek ‘n ‘pamperlang evangelie’ noem te verkondig.
Jy weet?
Omtrent alles gaan, selfs dit wat in die Woord uitdruklik as sonde en of verkeerd verklaar word.  Solank dit in liefde uitgeleef of gedoen word.
Ons lees op ‘n plek in die Woord:

JAK 2:19  Jy glo dat daar net een God is. Die demone glo dit ook – en hulle sidder, so bang is hulle!

As ek nou van dieselfde skryfwyse gebruik mag maak:
Jy getuig dat jy ‘n Christen is omdat Jesus vir jou sonde gesterf het.
Jesus het vir die hele wêreld se mense se sonde gesterf en die meeste mense gaan hel toe.

JOH 3:16  “God het die mensdom (dit is alle mense in die wêreld) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Dus –
Wat, volgens hoe ek die Woord verstaan, onderskei ‘n wáre Christen van ‘n Christen?
Wel, vir my is dit uit die Woord so duidelik soos daglig:
‘n Christen kan in waarheid getuig dat Jesus vir sy/haar sonde gesterf het en hoeveel keer het jy al daardie belydenis van ‘n Christen wat jy ken gehoor?
‘n Ware Christen getuig, dat Jesus vir sy/haar sonde gesterf het en dat hy/sy nou dood is vir die sonde.  Hoeveel Christene het jy al gehoor wat dit in opregtheid teenoor jou getuig?

ROM 6:3-13
3 Of het julle vergeet dat ons met ons doop een geword het met Christus Jesus en so saam met Hom gesterf het?
4  Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ’n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ’n totaal nuwe lewe leef.
5  Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons ook saam met Hom opgewek word tot ’n nuwe lewe.
6  Ons weet dat ons ou, sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.
7  Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde.
8  Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan sy lewe.
9  Ons weet dit omdat Christus uit die dood opgewek is en nooit weer sal sterf nie. Die dood het geen mag meer oor Hom nie.
10 Hy het eens en vir altyd vir die sonde gesterf en nou leef Hy vir God.
11 Julle moet dus ook vir seker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle met Christus Jesus één is.
12 Julle moet dus nie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie.
13 Julle is betrokke in ’n geestelike oorlog. Moenie langer julle liggaamlike vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir die sonde beskikbaar stel nie, maar stel julleself voortdurend vir God beskikbaar omdat julle uit die dood weer lewendig geword het. Stel al julle liggaamlike vermoëns tas wapens van geregtigheid tot God se beskikking.

Beteken dit nou, dat ware Christene nie sondig nie?
Nee, natuurlik beteken dit nie dat ware Christene nie sondig nie.  Ware Christene sondig verseker nog, want ons is vanweë die sonde wat die wêreld ingekom het, van nature sondige wesens – maar ware Christene sondig nie met opset nie.  Met ander woorde, ware Christene werk daaraan om nie moedswillig te sondig nie.

Sommige ware Christene sal byvoorbeeld nog ‘n kragwoord los as hy/sy sy/haar toon seer stamp.   Van hulle mag selfs in die hitte van die oomblik op ‘n taxi wat iets ongeoorloof gedoen het en amper ‘n ongeluk veroorsaak het, skreeu en selfs dalk meer – Want ons is mense en die God van die bose het ‘n manier onder andere in sy aanvalle op ons, om ons ook soms geestelik te bekruip en onverhoeds aste ware te bespring – maar ons sal dan ook dadelik berou hê en dit teenoor ons Here bely.

Wat ‘n ware Christen nié sal doen nie (en hier praat ek nie van verslawing nie), is om wetende dat wat ek nou wil doen sonde is en dan moedswillig dit in elk geval doen.  Want ons is dood vir die sonde.
Ek het genoem, dat ek nie van verslawing praat nie maar selfs in die geval van verslawing, ek weet, ek was daar.  Ek het gerook maar selfs dan, as ek my rookverslawing as voorbeeld kan gebruik, kla jou gewete jou elke keer so aan, dat soos in my geval, die rook later so onaangenaam is, dat dit – prys die Naam van ons Here – jy later in gehoorsaamheid teenoor die Heilige Gees wat in jou is, ook daaroor oorwinning kry maar omdat jy dood vir die sonde is, is moedswilligheid, as dit by sonde kom, om dit so te stel, net nie meer ‘n opsie nie.

Onthou jy wat jy gelees het:

ROM 6:11-13
11 Julle moet dus ook vir seker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle met Christus Jesus één is.
12 Julle moet dus nie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie.
13 Julle is betrokke in ’n geestelike oorlog. Moenie langer julle liggaamlike vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir die sonde beskikbaar stel nie, maar stel julleself voortdurend vir God beskikbaar omdat julle uit die dood weer lewendig geword het. Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking.

Omdat ons vir die sonde dood is, werk dit as volg:
‘n ware Christen mag deur satan omkant gevang word maar omdat Christus in ‘n ware Christen man/vrou woon, en die ware Christen vir die sonde dood is, sal hy/sy nie besluit; dit is sonde maar ek gaan dit doen nie.
Met ander woorde, om dit nog beter te stel:
‘n Wáre Christen sal nie met voorbedagte rade die verkeerd, nee dat ek dit sterker stel, die sonde, nee dat ek dit nog sterker stel, want uiteindelik is dit presies wat dit is:  ‘n Ware Christen sal nie met voorbedagte rade besluit om boos te wees nie – maar laat my groot held Paulus verduidelik wat ek nou net geskryf en probeer verduidelik het:

FIL 3:7-8
7 Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ’n wins beskou het, beskou ek dit ter wille van Christus nou as ’n verlies.
8 Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry.

Weer wil ek net beklemtoon:

‘n Ware Christen is nie iemand wat nooit sonde doen nie. Inteendeel.

Dit is juis vir ons vir wie satan nie met rus laat nie.  Want ons stap nie op die breë weg in die rigting wat hy wil dat ons moet stap nie maar ons is ook nie wat die sonde aanbetref moedswillig deur met ons optrede aste ware vir ons Here te sê nie:

“Here, ek weet wat ek nou gaan doen is verkeerd in U oë maar dit is nou maar hoe dit is.”

Nee!
Sodra ons besef satan wil – en ja soms, het ons al klaar gevang, begin ons daadwerklik werk van die sonde in ons lewe maak.  Ons ploeter nie maar voort in die sonde nie:
Nee, ons veg daarteen, al moet ons ook ons hele lewe hier op aarde teen ‘n spesifieke tipe aanval van satan veg.  Want ons weet:

FIL 3:12-15
12 Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!
13  Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.
14  Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.
15  Almal van ons wat geestelik volwasse is, behoort hierdie doel te hê. As daar enigiets is waaroor julle anders dink, sal God ook dít vir julle duidelik maak.

Lees wat sê die Woord van byvoorbeeld mense wat sê dat hulle Christene is maar lewe soos die wêreld om hulle en nie waarlik Christene is wat dood vir die sondige dinge in die wêreld is nie:

2PET 2:20-22
20 En as mense ontsnap het van die besmettings van die wêreld deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en hulle weer daarin vasgevang en daaraan verslaaf word, dan is hulle aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin.
21 Dit sou definitief vir hulle beter gewees het as hulle die pad van geregtigheid nie leer ken het nie, as dat hulle dit wel leer ken het en toe afgewyk het van die heilige voorskrif wat aan hulle oorgelewer is.
22  Van hulle is dié spreekwoorde waar:
“’n Hond gaan terug na sy braaksel toe.”
en:
“’n Vark word gewas, net om weer in die modder te rol.”

Ek sluit af met die volgende gedagte wat ek vra dat jy, wat tot hier gelees het, net weer moet oor nadink:

Na Jesus se kruisiging en Hy begrawe is, het daar twee weergawes van wat verder gebeur het deur die wêreld versprei en albei word nog vandag verkondig ook in die Christendom deur Christene se lewens
Omdat hierdie skrywe al klaar lank is gaan ek nie die hele gedeelte hier kwoteer nie.  Ek gaan net hier en daar relevante gedeeltes uitlig maar gaan lees asseblief MAT 28.
Die eerste weergawe begin as volg en hoe wonderlik word dit nie as jy dit verder lees nie:

MAT 28:5-7
5 Daarop het die engel die vroue aangespreek met die woorde: “Julle hoef nie bang te wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.
6 Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood, presies soos Hy gesê het. Kom kyk, hier het sy liggaam gelê.
7 En gaan sê nou dadelik vir sy dissipels: ‘Jesus is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle solank vooruit Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien.’ Julle kan reken op wat ek vir julle sê.”

Die tweede weergawe begin so:

MAT 28:11-15
11 Terwyl die vroue op pad was, het sommige lede van die wag in die stad ingegaan en vir die priesterhoofde alles vertel wat gebeur het. (wat jy self kan lees in MAT 28)
12 Hulle het toe saam met die familiehoofde beraadslaag.
13 Hulle het vir die soldate ’n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: “Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel.’
14 As die goewerneur hiervan hoor, sal ons hom gerusstel. Ons sal sorg dat julle julle nie hoef te kwel nie.”
15 Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is. Hierdie storie is toe onder die Jode versprei en word oorvertel tot vandag toe.

Albei hierdie groepe het gesien en weet verseker dat Jesus gesterf en begrawe is.

Wat ek myself vandag moet afvra is die volgende:
Leef ek as Christen die tweede weergawe van wat van daardie dag af verkondig word uit, soos ons dit vind in MAT 28:13: naamlik, Christus het vir my sonde gesterwe?:

MAT 28:13  … (maar) ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel.

Met ander woorde;  Leef ek my Christenstatus uit wat die sonde aanbetref soos wat 2PET 2:22 dit uiteen sit?

2PET 2:22  Van hulle is dié spreekwoorde waar:
“’n Hond gaan terug na sy braaksel toe.”
en:
“’n Vark word gewas, net om weer in die modder te rol.”

Of: Leef ek met sekerheid die eerste weergawe van wat destyds gebeur het uit, dat Jesus tot vergifnis van my sonde gesterf en begrawe is en uit die dood opgestaan en so die dood en die sonde vir my doodgemaak het – en ek nou as ‘n nuwe mens in oorwinning tot eer en verheerliking van Sy heilige Naam Sy opdrag aan my in een of ander wyse, al is dit net deur die wyse wat ek lewe, uitvoer?

MAT 28:18-20
18 Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels: “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou.
19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Hoe wonderlik, as ek uiteindelik in my lewe dit soos my groot held Paulus kan uitjubel – terwyl ek wat die sonde aanbetref, nog sal struikel maar nie moedswillig is nie:

GAL 2:20  Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

ROM 6:6  Ons weet dat ons ou, sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.

Groete,
Sakkie