MOENIE JULLESELF BLUF NIE

MOENIE JULLESELF BLUF NIE

Sakkie Parsons

So ‘n ruk gelede het iemand my gevra of daar werklik so ‘n plek soos die hel is.

In reaksie op dit wat ek geskrywe het, het ‘n persoon vir my geskryf en my duidelik laat verstaan dat hy nie saam met my stem nie en onder andere die volgende geskryf:

“Ek kan aan gaan maar kom ons sê wat die Bybel sê.  Die Bybel sê

God is liefde.  Nou vra ek dink ons rêrig daar is n hel?  Ek twyfel.”

My eerste gedagte toe ek lees wat hy vir my skryf was:

“Sjoe, die man het seker maar ‘n bietjie vergeet van al die regverdige oordele van ons Here wat ons in die Woord van lees.

Die voorbeelde wat ek nou noem is werklik net twee van ‘n menigte wat ek kon noem:

GEN 19:24-28 

24 Toe het die HERE vuur en brandende swael uit die hemel op Sodom en Gomorra laat neerreën.

25  Hy het hulle totaal verwoes, en ook al die ander stede en dorpe van die vlakte.  So is alle lewe, mense, plante en diere uitgewis.

26  Agter hom het Lot se vrou omgekyk en in ‘n soutpilaar verander.

27  Dié oggend het Abraham vroeg opgestaan en hom gehaas na die plek waar hy by die HERE gestaan het.

28  Hy het oor die vlakte uitgekyk in die rigting van Sodom en Gomorra.  Daar sien hy net rookkolomme optrek oor die hele gebied, soos rook uit ‘n steenoond.

Het jy gesien nie eens Lot se vrou was oorgesien nie, omdat sy ongehoorsaam gewees het.

GEN 19:26  Agter hom het Lot se vrou omgekyk en in ‘n soutpilaar verander.

EXO 12:29  Teen middernag het die HERE al die Egiptiese seuns wat eerste gebore is, laat sterf, vanaf die farao wat oor die land regeer se oudste seun tot by die oudste seun van die gevangene wat in die tronk sit.  Selfs die vee wat eerste gebore is, het gevrek.

EXO 12:30  Die farao, sy amptenare en al die mense van Egipte het in die nag wakker geword en opgestaan.  Deur die hele Egipte kon gehoor word hoe mense droewig huil.  Daar was nie ‘n enkele huis waarin daar nie iemand dood is nie.

Het jy gesien?

Nie eens die eersgeborenes van die gevangenes, of selfs die van die diere het vrygekom nie.

EXO 12:29   … tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere.

Want ons Here straf sonde met die volle oordeel van ‘n regverdige God.

In die Bybel wat ek lees, praat niemand so baie oor die Hel soos Jesus nie – maar om terug te keer na die aanhaling uit die skrywe aan my wat soos volg lui:

“Ek kan aan gaan maar kom ons sê wat die Bybel sê.  Die Bybel sê

God is liefde.  Nou vra ek dink ons rêrig daar is n hel?  Ek twyfel.”

Ek wil begin om iets oor ‘God is liefde’ wat die man genoem het te sê.

O ja!  Ons Here ís liefde.

1JHN 4:8  Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God die liefde self is.

Kyk net na die volgende vers en sien wat ‘n geweldige groot liefde is dit wat ons hier

van praat.

1JHN 4:9  Op hierdie manier het God sy ware liefde aan ons bekendgemaak toe Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan ontvang.

Ons Here is Liefde.  Sy liefde is so groot soos wat Hy is en dit is oneindig groot.

In wat ek nou gaan sê, dink aan jou eie kind.

Ons Here is volmaak.  Daarom kon net ‘n volmaakte offer jou en my red en die enigste volmaakte offer wat ons Here in die heelal kon vind was – Sy Seun.

Hoe groot, hoe oneindig groot is die liefde vir jou en my, wat ons Lewende God gedwing het om Sy seun te stuur om in ons plek te sterf.

Ek dink nie dat almal altyd besef wat ons sê, as ons sê dat Jesus vir ons gekruisig is nie.

As ek vir jou sê dat Jesus vir ons gekruisig is, sê ek vir jou:

Dat ons Here wat Liefde is, Sy Seun gestuur het om wreed vermoor te word en dat Hy geweet het, dat Hy sou moes toekyk hoe dit gebeur en toe dit gebeur, uit liefde vir jou en my toegekyk het hoe hulle Sy seun vermoor sonder om iets daaraan te doen, sodat jy en ek vlekkeloos voor Hom kan staan.

Ja, sodat jy en ek wat Sy Seun aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, vry sal wees van ons Here se  regverdige maar verskriklike oordeel.

JHN 3:16  God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

JHN 3:17  God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.

JHN 3:18  Die persoon wat aanhou om in Hom te glo, word nie veroordeel nie.  Die een wat egter nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.

As jy en ek, wat Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, nie veroordeel word nie, en by Christus in die Hemel gaan wees – maar diegene wat dit nié gedoen het nie, nié by Christus gaan wees nie – waar gaan hulle dan wees, as jy nie glo in die Hel waarvan die Woord deurgaans praat nie?

1KOR 6:9-10  Besef julle dan nie dat mense wat ‘n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nieMoenie julleself bluf nie.  Mense wat ‘n onsedelike lewe lei, afgodsdienaars, egbrekers, manlike prostitute en die mans wat met hulle omgaan, 10diewe, gierigaards, drinkers, kwaadpraters, swendelaars – nie een van hierdie mense sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Hoe absoluut heerlik wonderlik om te weet –

ROM 5:18  Ja, Adam se een oortreding het God se veroordeling oor almal gebring, maar net so het Christus se een daad van gehoorsaamheid vryspraak en lewe vir almal gebring.

Rom 5:19  Omdat een persoon aan God ongehoorsaam was, het baie mense sondaars geword.  Net so sal baie deur die gehoorsaamheid van hierdie één, ánder Mens tot regverdiges verklaar word.

Ons Here sal eendag na jou en my sy kinders kyk, en met daardie oneindige groot goddelike liefde waarmee Jesus vir ons aan die kruis gaan hang het, uitnooi in Sy Koninkryk in.

MAT 25:34  Daarop sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê:  ‘Kom julle, want my Vader het julle geseën.  Kom ontvang julle erfenis – die koninkryk wat my Vader reeds van voor die begin van die wêreld af vir julle gereed hou.

Hy sal egter ook met ‘n oneindige groot regverdige maar verskriklike oordeel vir die wat Hom, dit is Jesus, nié wou aanneem en volg nie wegstuur na die hel.

MAT 25:41  Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê:  ‘Gaan weg van My af, want God het julle vervloek!  Gaan na die ewige vuur wat gereed is vir die duiwel en sy bose engele!’

Ek sluit hierdie skrywe aan jou af met die volgende aanhaling uit die Woord:

2PET 2:9  Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red, maar om dié wat ‘n verkeerde lewe lei, te straf en vir die oordeelsdag te bêre.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.