MOENIE RONDGESLINGER WORD DEUR ALLERHANDE EN VREEMDE LERINGE NIE

MOENIE RONDGESLINGER WORD DEUR ALLERHANDE EN VREEMDE LERINGE NIE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende en ek het die persoon se woorde net so oorgeplaas in hierdie skrywe aan jou:

“Ek wil net weet of dit die waarheid is wat ons leraar verkondig dat sommige gawes nie meer bestaan nie. Hy het 'n preek gelewer uit 1 Kor 12. Hy vertel dat Apostels en profete nie meer bestaan nie want Mattheus, Lukas, ens is reeds dood.
Kan jy asb kommentaar lewer hieroor.“

Omdat ek die hoogste agting vir die teoloë van hierdie denominasie het, was my eerste gewaarwording toe ek hierdie skrywe aan my gelees het, dat daar iets radikaal met hierdie spesifieke leraar se denke verkeerd moes gegaan het voordat hy op die kansel verskyn het.
Byvoorbeeld die soort ding wat met jou denke kan verkeerd gaan as jy in die konsistorie eers gou ‘n paar diep teue van die Nagmaalswyn neem voordat jy jou verskyning op die preekstoel maak.
Ek kan nog met groot moeite probeer verstaan hoe iemand wat verseker ‘n deeglike teologiese opleiding gehad het, anders sou hy nie in daardie denominasie as predikant bekend kon staan nie, foutiewelik Dokter Lukas die amp van ‘n apostel en of profeet kan gee, maar om te sê dat die Heilige Gees, – net omdat sekere mense nie meer leef nie, – ook nie meer sekere gawes van die Heilige Gees uitdeel nie, moet na my mening die leraar ten minste tydelik, die klits heeltemal kwyt gewees het. 

‘n Mens kan maar net hoop dat sy probleem nie veel groter is nie, soos byvoorbeeld sommige groot teoloë s’n wat Jesus se maagdelike geboorte ens. bevraagteken.

Ek kan nie aan een gedeelte in die Woord dink wat ‘n mens kan gebruik om te suggereer, dat die Christene van die Bybelse tyd ‘n gawe of enige ander wat ook al ontvang het, wat ons liefdevolle Here nie meer vandag vir ons wil gee nie.

Kom ons kyk byvoorbeeld of die gawe van om in ‘n vreemde taal te spreek, wat maar een van die gawes van die Heilige Gees is, destyds van ‘n apostel en of profeet afhanklik was.

In HAN 10 sê ons Here vir Cornelius in ‘n gesig, dat hy na Joppe moes stuur en Petrus moet laat haal, om aan hom die Evangelie van Jesus duidelik te maak.

Dan lees ons onder andere:

HAN 10:5  “Stuur daarom nou dadelik mans na Joppe toe en laat daar ‘n sekere Simon haal.  Sy noemnaam is Petrus.
HAN 10:6  Hy is ‘n gas by ‘n ander Simon, ‘n leerlooier, Sy huis is by die see.”

HAN 10:23  Petrus nooi hulle toe vir die nag in.  Die volgende dag het hy saam met hulle vertrek, en ‘n paar van die medegelowiges in Joppe het saam met hom gegaan.

Nou is Petrus en die ander gelowiges by Cornelius en terwyl Petrus die Evangelie met Cornelius en sy familie deel gebeur die volgende:

HAN 10:44-47  
44 Terwyl Petrus nog hierdie dinge sê, het die Heilige Gees op almal gekom wat sy boodskap gehoor het.
45  Die Joodse gelowiges (wat besny is) wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die Heilige Gees ook op nie-Jode as geskenk uitgestort is.
46  Hulle het geen twyfel daaroor gehad nie, want hulle het hulle ongewone tale hoor praat, en hoe hulle God se grootheid besing.  Petrus het toe gesê:
47  Wat kan verhinder dat hulle met water gedoop word noudat hulle net soos ons die Heilige Gees ontvang het?”

Let nou op –
Petrus was met niks anders besig, as om net die Evangelie te verkondig, toe gebeur het, wat gebeur het:

HAN 10:44  Terwyl Petrus nog hierdie dinge sê, het die Heilige Gees op almal gekom wat sy boodskap gehoor het.

Later verdedig Petrus sy optrede om in ‘n onbesnedene se huis die Evangelie te verkondig en dan sluit hy af met die volgende:

HAN 11:16  “Toe dink ek aan die woorde van die Here toe Hy gesê het:  ‘Johannes het wel met water gedoop, maar júlle sal met die Heilige Gees gedoop word.’
HAN 11:17  Aangesien God dan dieselfde geskenk aan die nie-Jode gegee het as aan ons toe ons tot geloof in die Here Jesus Christus gekom het, watter reg het ék om God te keer?”

Sien jy?
Dit was nie Petrus of sy apostelskap wat die oorsaak was van wat daar gebeur het nie.

Prys die Naam van ons Here!
Dit was ons HERE wat Hom nie laat verhinder deur enige iemand nie.

Hy het Hom nie toé laat verhinder nie en Hy sal Hom ook nie vandág laat verhinder
nie. 

Al is daar teoloë, wat weens hulle eie ongeloof, allerlei – wat ek booshede noem –
      van kansels af verkondig.
Dit is hiérdie soort teoloë wat vanweë hulle ongeloof en in sommige gevalle, om
      mense te paai, groot gedeeltes in die Woord afmaak, asof dit nie meer vandag van
      toepassing is nie.
Soos ook byvoorbeeld die volgende uit die Woord:

JAK 5:14-17 
14 Is daar van julle wat siek is?  Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom.  Nadat die ouderlige die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid.
15  En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word;  die Here sal hom laat opstaan.  En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word.
16  Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid soat julle gesond kan word.  Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige werking.
17  Elia was ‘n mens net soos ons.  Nogtans, toe hy ernstig gebid het dat dit nie moes reën nie, het daar drie jaar en ses maande lank nie ‘n druppel geval nie!

Jakobus sê dat Elía ‘n mens, soos Jakobus en die mense van sy tyd was.
Jakobus, Elía en al die gelowiges van sy tyd, was mense net soos ons vandag is.

Ek moet nie die werking van die Heilige Gees afwater om my kleingelowigheid te verberg nie.
Onthou ook wat die Woord van ons Here sê:

HEB 13:8  Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!
HEB 13:9  Pas op dat julle nie meegesleur word deur die bekoring van allerlei vreemde idees nie.  …

Jou en my Here is vandag nog dieselfde Here wat destyds gewerk het en ons Here werk nog vandag soos Hy gister, eergister en al die eeue daar voor gewerk het.

Ons onveranderlike Here het in verband met die werking van die Heilige Gees laat skryf:

1KOR 12:4-11 
4 Daar is ‘n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees.
5  En daar is ‘n hele verskeidenheid bedienings, maar ons dien dieselfde Here.
6  Daar is talle aktiwiteite in die gemeente, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge kragtig in ons almal aktiveer.
7  Elkeen van ons ontvang ’n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel.
8  Aan die een gee die Gees die bekwaamheid om goddelike wysheid te verkondig, aan ’n ander gee Hy die gawe van spesiale kennis.
9  Aan iemand anders gee hierdie selfde Gees ’n heel besondere geloof, aan nog een gee Hy gawes van genesing,
10  aan ’n volgende een die vermoë om wonders te verrig, aan ’n ander die gawe van profesie, aan nog een die vermoë om te onderskei tussen geeste, aan iemand anders die gawe van praat in tale, aan nog een die bekwaamheid om die tale uit te lê.
11  Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind.

Hoe heerlik om hierdie skrywe aan jou af te sluit terwyl ek dit in my hart uit jubel!

1TIM 1:17 Heerlikheid en eer kom God toe vir ewig en atyd.  Hy is die ewige Koning, die onsienlike Een wat nooit sterf nie;  Hy alleen is God.  Amen.

Groete,
Sakkie