MOET EK DAN OMVERSKONING VRA?

MOET EK DAN OMVERSKONING VRA?

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra of, as jy iets teen iemand anders verkeerd gedoen het, jy altyd selfs al weet die persoon nie eens daarvan nie, dit teenoor die persoon moet bely.

Om die vraag te antwoord, wil ek soos so baie in my lewe dit doen in navolging van my groot held Paulus.  Hy sê dan ook:

1KOR 11:1 –2
1 Julle moet my voorbeeld volg, want ek volg die voorbeeld van Christus.
2 Ek is bly dat julle altyd aan my dink en dat julle doen wat ek vir julle geleer het.

Vir wat ek nou gaan sê, het ek nie Skrif nie, of as daar is dan kan ek nie nou daaraan dink nie maar ek het die kennis van die mens se geaardheid wat God my gegee het.
So ek sal nou ook my eie opinie gee.
Paulus het by geleentheid oor ‘n ander saak vir sy mense dit so gestel:

1KOR 7:12 Oor die geval van ’n Christen wat ’n vrou het wat nie ’n Christen is nie, het die Here nie ’n bevel gegee nie. Maar ek sal my eie opinie daaroor gee.

Hier is dan nou my opinie en hoe ek dit sien en uitlewe.

As jy vir ons Here om verskoning vra en onderneem om dit nie meer te doen nie, dan het God jou vergewe en dit is soos ‘n nuwe ooreenkoms tussen jou en ons Here wat dit aanbetref.

Ek sê,  As jy enigsins dink dat die persoon die belydenis nie sal kan hanteer nie en jy het waaragtig berou en jy het opreg om verskoning vir ons Here gevra, dan is dit verby en nie net is dit verby nie, wat ons Here aanbetref bestaan dit nie meer nie.

HEB 10:15-18
15 Die Heilige Gees verseker ons ook dat dit so is, want in die Skrif het Hy gesê:
16 “Die Here sê: ‘Ek sal later met julle ’n nuwe verbond maak. Ek sal my wette in julle harte gee sodat julle dit graag sal wil doen en Ek sal dit in julle gedagte skrywe sodat julle dit sal onthou.
17 Ek sal nooit weer dink aan die sonde en die kwaad wat hulle gedoen het nie’ .”
18 As God dan die sondes vergewe het, is dit nie nodig om weer daarvoor offers te bring nie.

Vertrou op Jesus en hou vas aan Hom!

Nou moet ek egter nie dink dat ek dit maar weer kan doen en net weer vir ons Here om verskoning vra en die saak is reg nie.
Dan is ek besig om van die kruis ‘n bespotting te maak en hoe verskriklik is dit nie!  Ek maak dan van God my Vyand.

HEB 10:26-27
26 As ons die waarheid leer ken het en dan aanhou om opsetlik sonde te doen, is daar nie meer ’n offer om sulke sonde te vergewe nie.
27 Al wat dan oorbly, is om te wag totdat God sy vreeslike straf stuur en sy vyande met vuur vernietig.

Onthou nou – ek praat hier van iets wat jy teen iemand anders verkeerd gedoen het en waarvan die persoon nie weet nie en as hy of sy daarvan geweet het, seergemaak sou gevoel het, of dalk nie reg sou kon hanteer het nie en dit ook hierdie persoon se sielevrede sou wegneem.

Dus, alles wat ek gesê het, moet teen hierdie agtergrond gesien word.

As die persoon bewus is van dit wat jy verkeerd gedoen het, moet jy egter altyd bely en ekskuus sê – teenoor die persoon sowel as teenoor ons HERE.

Ek het nog meer hieroor geskryf wat ek met liefde aan jou sal stuur indien jy dit aanvra naamlik:

1. Bely sover dit in die liefde is
2. Sondebelydenis –  Deel 1,2,3

Groete,
Sakkie