MOET EK EERS MY SONDE BELY VOORDAT EK GERED KAN WORD?

MOET EK EERS MY SONDE BELY VOORDAT EK GERED KAN WORD?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my dat hy my skrywe gelees het waar ek verduidelik ‘hoe om ‘n Christen te word’ en dat hy sien ek praat nie in my skrywe oor sonde belydenis nie en sonder sonde belydenis is daar geen redding nie.

Ek deel met jou in kort my antwoord aan die persoon:

Ek wil my skrywe aan jou begin met die volgende, dat jy darem kan sien, ek is nie ‘n groentjie nie.

Hierdie jaar, 51 jaar gelede, so ‘n klompie maande na die 25ste April 1973 nadat ek gedoop is, het ek vir ons Here begin werk en verkondig ek al die evangelie van Jesus Christus vir 51 jaar en ek verkondig die evangelie soos wat Jesus Christus dit verkondig en vir Sy dissipels geleer het om dit te verkondig.

Die eerste wat ek vir jou wil noem is die volgende.

Jy skryf:

“Ek sien nie dat oom sê dat ons die sonde moet bely en laat staan nie.

Daar sonder kan geen mens n kind van God word nie!

Sonder sonde belydenis, is daar geen redding nie.“

Nou, dit is gewoon net nie waar nie en onthou, as iets nie waar is nie, is dit ‘n leuen en as dit ‘n leuen is, kom dit direk van satan af.

Jesus sê by geleentheid vir kerkleiers, die destydse godsdienstige pastore van die kerk:

JHN 8:44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Nou sê ek groot asseblief nie, dat satan jou vader is nie.

Wat ek vir jou probeer sê is om baie versigtig te wees voor ‘n mens ‘n, kom ons noem dit maar, ‘n sambreel-stelling maak.

Kom ek wys jou net gou in liefde wat ek bedoel wat onwaar in jou stelling is.

Net voor ek dit doen ook net die volgende:

(Jy kan dit gaan Google, as jy dalk dink my syfer is verkeerd.)

Daar is meer as 30,000 Christen gelowe in die wêreld en daar is ‘n paar redes daarvoor en nie een is Bybels nie, al gebruik, eintlik moet ek sê misbruik, die meeste van hulle die Bybel om hulle eie grille en giere te pas.

Daar is meer as 30,000 Christen gelowe want:

Sommige haal hier iets uit, of sit daar iets by, sodat hulle, hulle soort evangelie kan verkondig.

Sommige beklemtoon hierdie of daardie, om hulle soort evangelie te verkondig.

Sommige doen dit uit onkunde.

Sommige doen dit uit oorywerigheid.

Sommige doen dit om by hulle eie ego te pas en so kan ek aan en aan en aan gaan maar ek verkondig, soos daar deesdae baie min is en soos wat dit op my banier op my webtuiste gesien kan word en soos die eerste hervormers dit verkondig het en dit ook hulle leuse gemaak het:

“Die Woord, net die Woord en niks anders as die Woord nie.”

Terug by jou stelling.

Ek verkondig die evangelie soos Jesus dit verkondig het en Sy dissipels geleer het om dit te verkondig en dan sien ek, wat jou stelling aanbetref, jy dit nie by Jesus vind nie – maar wat vind jy dan by Jesus?

MAT 9:2  En hulle het ‘n verlamde man wat op ‘n bed lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy aan die verlamde (sonder dat daardie man of enige iemand anders om hom enige iets van watter aard ook al bely het) : “Seun, hou goeie moed, jou sondes is jou vergewe.”

Dan sommer vir die interessantheid daarvan, dit het nie eintlik iets te doen met wat ek nou aan jou skryf nie, is dit weer die pastore die kerkleiers van daardie tyd wat Jesus aanval:

MAT 9:3  En sommige van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: Hierdie man praat godslasterlik.

En soos ek dit al so baie in my lewe gesien het.

As die meeste mense wie hulleself Christene noem, eers hulle geloof om ‘n sekere siening gebou het, is dit nie moontlik om hulle iets anders te laat sien nie, al wys jy dit vir hulle op wit en swart uit die Woord.

Jesus beskryf mense met daardie soort geloof as volg:

MAT 13:14  En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

MAT 13:15  Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Paulus onderstreep en bewys in die praktyk wat Jesus gesê het in Handelinge 28:25-27.

My volgende voorbeeld:

MRK 5:33  Die vrou, wat gevrees en gebeef het omdat sy wis wat met haar gebeur het, kom toe en val voor Hom neer en vertel Hom die hele waarheid.

MRK 5:34  En Hy (Jesus) sê vir haar: Dogter, jou geloof het jou gered. (sy was deur haar geloof gered en het geen sonde bely nie) Gaan in vrede en (toe is sy sommer gesond ook) wees van jou kwaal genees.

Nog ‘n voorbeeld:

LUK 7:47  Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, (en sy het nie enige sonde daar bely nie maar sy het iets baie wonderliker as sonde belydenis gehad…) want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.

LUK 7:48  En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe.

Ag en dan kan ek nog die een moordenaar langs Jesus aan die kruis ook maar noem.

Onthou jy?

MAT 27:44  En op dieselfde manier het die rowers (meervoud) wat saam met Hom gekruisig was, Hom ook beledig.

MRK 15:32  Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo! Ook die wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.

Een egter, het êrens tussen die begin van sy kruisiging en toe hy met Jesus gepraat het in sy hart tot ander insigte gekom en Jesus, wie God is wie mens geword het, het dit in sy hart gesien.

Dan lees ons:

LUK 23:40-43 

40  Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? —

41  ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.

42  En hy sê vir Jesus: (let op, geen sonde belydenis nie) Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.

43  En Jesus (wie in elke mens se hart kan sien) antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. (sonder dat hy enige sonde bely het.)

Let hierop:

Jesus het alles, absoluut alles gedoen wat gedoen moet word om jou en my van die hel te red.

Al wat jy en ek moet doen, is om Hom in alle opregtheid aan te neem as ons Verlosser en Saligmaker.

Die Heilige Gees sal verder doen wat gedoen moet word.

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

Die vyand met sy leuens wil ons wysmaak:  ‘Word eers heilig en dan kan jy gered word” Iemand hoor die leuen en dink dan: “Ek moet eers heilig, sonder sonde leef en wees, voordat ek Jesus kan aanneem.”  En is dit nie ‘n geweldige vangnet van satan nie – want dan gaan jy nooit by Jesus uitkom nie!  Want Jesus is jou Heiligmaking:

1KOR 1:30 “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” 

Ons kan nie roem in ons sondebelydenis tot redding nie, want die volgende vers lees:

1 KOR 1:31 “Daarom soos geskrywe is:  Die wat roem, moet in die HERE roem.”

Wanneer ek my bekeer het, sal die Heilige Gees my in alle waarheid lei, soos byvoorbeeld, om my sonde te bely en dit is alles genade, louter genade:

EFE 2:8-10 

8  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: (soos byvoorbeeld deur my sonde te bely of so iets nie) dit is die gawe van God; (wat ek net deur die geloof uit Sy deurboorde hand moet neem en myne maak.)

9  nie uit die werke nie, (soos byvoorbeeld belydenis van sonde nie) sodat niemand mag roem nie.

10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke (wat ek, omdat ek gered is uit liefde vir my Here doen, soos om my sonde te bely) wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Ek sê altyd, dat as jy nie ‘n stelling wat jy maak, soos ‘n goue draad deur die Woord kan trek, dat die Woord nie volgens jou stelling homself weerspreek nie, want God praat nie uit twee monde nie, moet jy besef, daar is fout met jou stelling.

Onthou ook, dat om jou te bekeer is nie om jou sonde te bely nie. Dit is om om te draai.  Jou rug op die lewe te draai wat jy geleef het en nou as ‘n gelowige kind van God volgens Sy weë te lewe en ek kwoteer een van die gedeeltes wat jy aan my gestuur het omdat Jesus dit gesê het:

MAT 4:17  Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.

As ek hierdie lewe uittree, gaan dit nie saak maak hoeveel keer ek my sonde bely het nie.

Dit gaan nie saak maak op hoeveel rade ek in die kerk gedien het nie.

Dit gaan nie saak maak by hoeveel gemeentes ek pastoor gewees het nie, en so kan ek aan en aan en aan gaan.

Wat saak gaan maak, is of ek aan die anderkant van die graf saam met Jesus arriveer.

Want al was ek hoe ‘n goeie mens en al het ek hoeveel goeie dinge gedoen.  As ek sonder Jesus aan die anderkant van die graf arriveer, gaan ek met my goeie werke en my goeie lewe ‘n goeie tyd, dit is verewig in die hel deur bring:

Nou sê ek natuurlik nie, dat ek nie byvoorbeeld my sonde moet bely nie.  Natuurlik moet ek dit bely maar ek moet, om dit so te stel, die evangelie van Jesus rondom die kruis van Jesus Christus verkondig en dan verkondig ek nie aan onbekeerde mense, dat hulle eers ‘n lys moet maak van al die verkeerd in hulle lewe en dit bely nie.

Ek verkondig:

HAN 2:38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

HAN 2:39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

1KOR 2:2  want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Die Heilige Gees sal hulle dan lei in goeie werke en wat hulle met die verkeerd in hulle lewe moet doen.

Ek sluit dan hierdie skrywe aan jou af deur die volgende uit ons Here se kosbare Woord te kwoteer:

MRK 16:15  En Hy (dit is Jesus) het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.

MRK 16:16  Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, (maak nie saak wat hyself goed of sleg gedoen het nie) sal veroordeel word.

HEB 11:6  En sonder geloof (maak nie saak wat jy doen of nie doen nie) is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en n beloner is van die wat Hom soek.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.