MOET ONS JESUS VOLGENS JOODSE GEBRUIKE AANBID?

MOET ONS JESUS VOLGENS JOODSE GEBRUIKE AANBID?

“Nou in Christus Jesus het julle wat vroeër vêr was, naby gekom”

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Hoop jy kan vir ons meer duidelikheid gee.
As Jesus ‘n Jood was, hoekom aanbid ons hom dan nie op die Joodse manier nie maar as Christene?”

Hier is dan hoe ek hierdie saak sien:
Daar is darem geen twyfel, om dit so te stel, dat Jesus wat Sy mensheid aanbetref, ‘n Jood gewees het nie. 
Daarom dan ook, dat Jesus self vir ons in Sy Woord sê:

JHN 4:22  Júlle aanbid wat julle nie ken nie;  ons aanbid wat ons ken, want die verlossing is uit die geledere van die Jode.

Vir my is die eerste wat uitstaan, as ek uit die hoek wat die vraag aan my gestel is na hierdie saak kyk, dat die Jodese manier van aanbidding deur ons Here net vir die Jode bedoel was.
Die heidene, met ander woorde ook jy en ek, was uitgesluit:

EFE 2:11-13 
11 Dink daarom aan die tyd toe julle wat as nie-Jode gebore is, “onbesnedenes” genoem word – al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam.
12  Dink daaraan dat julle toe sonder Christus was, nie burgers van God se volk nie, (vervreemd van die burgerskap van Israel) uitlanders wat nie deel gehad het aan die beloftes van die verbonde nie.  Julle was sonder toekomsverwagting en sonder God in die wêreld.
13  Maar nou het julle, wat toe ver weg was, deur julle verhouding met Christus naby gekom.  Dit is moontlik gemaak deur Christus se dood aan die kruis (Christus se bloed).

Ek sien die Jode se manier van aanbidding as ‘n tipe aanbidding wat ons Here destyds net vir die Jode bedoel het, om ‘n intieme verhouding tussen ons Here en die Jode te bewerkstellig, totdat die Jode – maar ook die hele mensdom – se Messias sou kom.
As jy EXO 19 tot en met EXO 24 gaan lees sal jy ‘n goeie insig oor dit wat ek nou met jou deel kry.
Ons lees byvoorbeeld:

EXO 19:4-7 
4 “’Julle het gesien wat Ek met die Egiptenaars gemaak het en hoe Ek julle as’t ware op die vlerke van ‘n arend opgelig het en hier na My toe gedra het.
5  As julle regtig gehoorsaam is aan My en vashou aan My verbond met julle, sal julle my persoonlike volk wees tussen al die nasies van die wêreld.  Die hele wêreld behoort aan My, maar julle sal in besonder die nasie wees wat aan My toegewy is.
6  Julle sal My koninkryk van priesters wees, ‘n nasie wat die HERE dien.
      ’Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê.’”
7  Moses het toe van die berg afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep.  Hy het vir hulle alles vertel wat die HERE hom beveel het.

Toe – deur hulle aanvaarding van wat ons Here gesê het – is die verbond gesluit, of as jy wil, die ooreenkoms beklink.

EXO 19:8  Die volk het toe soos uit een mond gesê:  “Ons sal alles doen wat die HERE vir ons gesê het.”  Moses het aan die HERE gaan rapporteer hoe die volk op sy opdrag gereageer het.

EXO 24:3  Moses het na die volk toe gegaan en vir hulle alles gesê wat die HERE beveel het.  Hulle het soos een man geantwoord:  “Ons sal alles doen wat die HERE gesê het!”

EXO 24:5-8 
5 Daarna het hy jong Israeliete laat kom en hulle beveel om bulle vir die HERE te offer.  Dit was brandoffers en vredeoffers vir die HERE.
6  Hy het ‘n deel van die offerdiere se bloed in houers opgevang.  Die ander helfte het hy oor die altaar gesprinkel.
7  Daarna het Moses die Boek van die Verbond gevat en vir die volk daaruit gelees.  Hulle het weer almal soos een man geantwoord:  “Ons sal alles doen wat die HERE gesê het!  Ons sal daarna luister!”
8  Moses het toe van die bloed in die houers gevat en oor die volk gesprinkel.  Hy het gesê:  “Hierdie bloed bevestig die verbond wat die HERE met julle gesluit het toe Hy hierdie woorde vir julle gesê het.”

Toe, toe die volheid van die tyd aan gebreek het, het die Jode en die hele mensdom se Messias Sy verskyning gemaak!

GAL 4:4  Maar toe, op die regte tyd, het God sy Seun gestuur.  Hy is uit ‘n vrou gebore, onder die wet,
GAL 4:5 sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop.  Ja, sodat ons tot kinders aangeneem kan word.

Onthou jy wat die profeet geprofeteer het?

JES 9:5   Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee.  Hy sal die Heerser wees met die koninklike titels:  Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
JES 9:6   Sy heerskappy sal voortdurend uitbrei en nooit ophou nie.  Vanaf die troon waarop sy voorouer Dawid gesit het, sal Hy regverdig en reg regeer.  Die toewyding van die HERE die Almagtige sal dit waarborg.

Ons is nou, om dit so te stel, vry van die Mosaïese verbond (wet van Moses).  Of soos my groot held Paulus dit so mooi stel:

GAL 3:23-26
23 Voordat die geloof gekom het, is ons deur die wet bewaak. Ons was   gevange gehou totdat God se plan van geloof geopenbaar sou word.
24 Die wet het ons soos 'n kinderopvoeder opgepas totdat Christus gekom het. Ons is opgepas sodat ons deur te glo God se vryspraak kon ontvang.
25 Noudat die tyd van geloof gekom het, staan ons egter nie langer onder die toesig van 'n kinderopvoeder nie.
26 Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo.

Nou, omdat ek Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker, het daar twee “moets” in my hart kom groei en hierdie twee “moets” maak al die honderde moets en moenies van die Mosaïese verbond (wet van Moses) vir my heeltemal oorbodig.

Wat is hierdie twee “moets?”

MAT 22:36-40
36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”
37 Jesus se antwoord was:  ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38 Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39 Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40 Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoof gebooie.”

Ek sê, dat ek niks meer as hierdie twee “moets” in my lewe nodig het nie.
Kyk net hoe mooi som my groot held Paulus hierdie twee ”Moets” in ‘n Christen se
lewe op:

ROM 13:8-10 
8 Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê.  As jy  jou naaste liefhet, vervul jy die wet.
9  “Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: "Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself."
10 Die liefde doen niemand kwaad aan nie.  Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.

Iemand sal nou dalk probeer om vir my daarop te wys, dat in ROM 13:8-10 wat ek nou kwoteer het net oor die liefde vir my naaste gepraat word.
Wat dan nou van die eerste van die twee “moets” waarvan ek die hele tyd praat,
Naamlik die liefde vir ons Here.
Paulus, so lyk dit vir my, sê maar net op sy manier vir my wat Johannes vir my, om
dit so te stel, in baie sterker taal sê:

1JHN 4:19  Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het.
1JHN 4:20 As enigeen beweer:  “Ek het God lief,” maar ‘n broer of suster haat, is só ‘n persoon ‘n leuenaar, want as ons ‘n medegelowige wat ons elke dag sien, nie liefhet nie, kan ons mos nie vir God liefhê wat ons nie kan sien nie.

1JHN 3:15  Elkeen wat sy broer of suster haat, is ‘n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar deel het aan die ewige lewe nie.

Hierdie “broeder” sluit natuurlik soos ek die Woord verstaan ook my suster en my broeder in wat nie uit dieselfde volk as ek is, of dieselfde kleur as ek het nie, wat persoonlik Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Redder.

Groete,
Sakkie