MY ANTWOORD OP IEMAND SE PROBLEEM MET DIE SABBAT

MY ANTWOORD OP IEMAND SE PROBLEEM MET DIE SABBAT

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra, of Saterdag dan nie die Sabbatdag is nie en of dit nie heeltemal verkeerd is om Sondag die Sabbat te maak nie, aangesien ons Here ook op die sewende dag gerus het.

Persoonlik pla hierdie soort van ding my nie eintlik nie, omdat, soos ek dit stel, dit nie ewigheidswaarde het nie, want my hoofdoel met my bediening is om mense te help om ‘n liefdesverhouding met Jesus te begin.

Soos Paulus, het ek met my bediening in alles wat ek skryf, die volgende doel in die oog:

1KOR 2:2  “Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.”

Dit is dan hoe ek hierdie saak sien:

Alhoewel dit soos baie ander onderwerpe in die teologie interessant kan wees, het dit nie ewigheidswaarde nie. Wat ek hiermee bedoel is dit – ons Here gaan nie toelaat dat iemand hel toe gaan nadat Sy Seun aan die kruis vir hom/haar gesterf het net omdat hy/sy dalk nie dieselfde dag as ek/jy as ‘n sabbat hou nie. Vir die Jode onder die Wet, is ons Saterdag die sabbat.

Vir die meeste Christene, onder andere omdat ons Verlosser daardie dag opgestaan en so die dag in ons harte besonder gemaak het, het die eerste dag van die week ons sabbat geword en op daardie dag hou ons dan in die meeste gevalle, wat ons ere dienste aan Hom noem; maar eintlik volgens die wet, is dit die eerste dag. Kom ons kyk hoe het Jesus na die wet se sabbat gekyk:

LUK 6:1-5 
1 “En op die tweede eerste sabbat het Hy deur die gesaaides geloop, en Sy dissipels het die are gepluk en met hulle hande uitgevrywe en geëet.
2  Toe sê sommige van die Fariseërs vir hulle: Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie?
3  En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het nie — toe hy honger gehad het, hy en die wat by hom was —
4  hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geneem en geëet het, en ook aan die wat by hom was, gegee het, wat hulle nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen?
5  Toe sê Hy vir hulle: Die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.”

Hier is nou soos ek die sabbat sien. Die sabbat, soos baie mense die dag verstaan, is deel van die wet en ek is nie meer onder die wet nie:

GAL 3:23-26 
23 “Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.
24  Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
25  Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.
26  Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;”

Ek persoonlik sal skynheilig voel as ek op Sondae anders lewe as wat ek op die res van die dae van die week lewe. Vir my is elke dag die dag van ons Here. Daar is ‘n koortjie waarvoor ek baie lief is en dit begin so:

“This is the day that the Lord has made,
We will rejoice and be glad in it.”

Hy het natuurlik sy ontstaan gehad in PSM. 118.

PSM 118:24  “Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”

Ons Here is nie minder in my lewe teenwoordig op Maandae, as sê nou maar Saterdae en Sondae nie.

Diegene wat Saterdae as die sabbat wil heilig omdat dit so onder die wet in die Woord voorkom, moet natuurlik dan ook onthou dat hulle al die ander feesdae onder die wet ook moet hou as hulle konsekwent wil wees. Terwyl hulle ook moet onthou, dat as hulle net die Saterdag as die sabbat erken en nie die ander feesdae onder die wet hou nie, hul ‘n groot probleem het.

JAK 2:10  “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.”

Gelukkig is dit nie op my van toepassing nie, want ek is vry van die wet.

GAL 5:1-4 
1 “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.
2  Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie.
3  En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou.
4  Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.”

Vanwaar ek staan en kyk, geld wat vir die besnydenis geld, vir al die ander dinge onder die wet.

Vir my is elke dag die dag van ons Here, en ek streef om elke dag ons Here voluit te dien.  Nie dat ek dit altyd regkry nie, maar dit is my strewe.

Wat die dag aanbetref waarop ons Here gerus het, en of dit ‘n dag van 24 uur was, weet ek nie, maar vir my maak dit nie regtig saak nie.  Wat ek wel weet, is dat daar in die Woord geskryf staan:

2PET 3:8  ”Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.”

In die tussentyd is dit vir my heerlik om maar net gehoorsaam te wees:

LUK 9:23  “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.”

Om dan op te som hoe ek dit sien en ook verkondig:

Vir my is nie een dag minder heilig as, sê nou maar Sondag nie. Of anders gestel – Sondag is vir my net so heilig soos al die ander dae van die week.

Groete,
Sakkie