MY ANTWOORD VIR IEMAND WAT NIE KAN SWANGER RAAK NIE

MY ANTWOORD VIR IEMAND WAT NIE KAN SWANGER RAAK NIE

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra vir raad omdat sy nie kon swanger raak nie.

Ek deel graag met jou my antwoord aan haar.

Ek wil begin, deur jou eers iets uit die Woord te wys.
Lees net gou hierdie paar voorbeelde:

GEN 11:30  En Sarai was onvrugbaar, sy het geen kind gehad nie.

Tog nadat sy baie jare moes wag, word sy die moeder van ‘n hele volk, naamlik Israel.

GEN 25:21  Rebekka was kinderloos.  Daarom het Isak by die HERE gepleit vir ‘n kind.  Die HERE het sy gebed verhoor en sy het swanger geword.

Toe na verloop van ‘n lang tyd, word Rebekka die Moeder van die vader van die 12 stamme van Israel. Terloops Isak was 60 jaar oud toe hulle kinders gebore was.

GEN 30:22  Uiteindelik het God aan Ragel gedink en haar gebede verhoor deur vir haar ‘n kind te gee. 

Toe word sy die moeder van Josef, die man wat die hele bekende wêreld van destyds van hongersnood sou red.

LUK 1:7  Hulle het nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was.

Toe word sy die moeder van Johannes die doper van wie Jesus die volgende gesê het:

MAT 11:11  “Ek verseker julle, onder al die mense wat ooit geleef het, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie. …”

Glo my as ek vir jou sê ek kan vir jou nog meer sulke voorbeelde uit die Woord uitwys.

Persoonlik as ek die Woord lees, dink ek dat ons Here ‘n besondere dink en doel met veral godvresende vroue het wat nie swanger raak nie.

Ek sou as jy my dogter gewees het, voorgestel het, dat julle oorweeg om ‘n kindjie aan te neem.
So ‘n babatjie word werklik ook in jou hart, jou eie.

Ons het ‘n bediende gehad.
Haar dogtertjie was gebore terwyl sy in ons diens gewees het.  Klein Alta het in ons huis groot geword en menige kere tussen ons geslaap.
Die bediende is toe later weg van ons af en ons verlang nou nog na baie jare, na wat ons, ons kindjie genoem het.

Dink net hoe sal die band tussen julle en ‘n babatjie ontwikkel wat julle aanneem.
Dan gaan die angstigheid ook sommer iets van die verlede wees en dan soos in Sarai en Ragel se gevalle byvoorbeeld, wat ook kinders aangeneem het en soos ander gevalle wat ek ook al van gehoor het, het julle dalk later meer as een kindjie.

Daar is so baie wonderlike babatjies en kindertjies wat ‘n Pappie en ‘n Mammie en ‘n normale lewe en ‘n kans in die lewe wil hê.

Wat julle ook al doen, hou julle oë biddend op ons Here.  Verseker sal dan vir julle gebeur,wat net die heel beste vir julle is.

Want jy sien, ons Here is almagtig en alwetend en julle is Sy kinders en Hy sal vir julle net die heel beste in julle omstandighede gee.

ROM 11:33  Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie!  Sy beslissings gaan ons begrip te bowe;  sy manier van doen kan ons nie deurvors nie.
ROM 11:34  Wie van ons kan regtig verstaan hoe God dink?  Of wie sou as Sy raadgewer kon optree?
ROM 11:35  Of wie sou ooit aan Hom ‘n guns kon bewys vir wie Hy dit sou moes vergoed?
ROM 11:36  Hy is die bron van alles.  Alles bestaan deur sy krag, en alles is op Hom gerig.  Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd.  Amen.

U kan ook die skrywe “Kinderloosheid” bestel wat hierby aansluit. 

Groete,
Sakkie