MY BEGEERTE OM VAN JESUS CHRISTUS TE VERTEL – DEEL 1

MY BEGEERTE OM VAN JESUS CHRISTUS TE VERTEL – DEEL 1

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my ‘n pragtige brief en vra my dan:

“Hoe kan ek, sonder om dweepagtig voor te kom, maklik met mense oor Jesus praat?
Ek brand om met mense oor Jesus te praat maar ek weet nooit hoe om te begin nie.”

Hierdie is dan die eerste van drie gedagtes uit die Woord waarin ek hierdie vraag antwoord soos wat ek dit uit die Woord verstaan.
Ek wil dan begin deur te sê:
Ai!
Dit is darem heerlik om ‘n skrywe te ontvang waar jy kan sien dat hiér iemand is wat werklik die mense na Jesus toe wil lei.

Nou wil ek ‘n stelling maak:
Na my mening, is dit onmoontlik vir iemand wat ‘n wáre liefdesverhouding met ons Here het, om nie ‘n brandende begeerte te hê om self op die een of ander wyse Jesus Christus se evangelie te verkondig nie. Of om op die een of ander wyse by die bevordering van die evangelie van Jesus Christus betrokke te raak nie.
Ons lees:

MAT 28:19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

MAT 28:20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis."

Sien jy?
Ons kry ‘n opdrag en as ek werklik ‘n liefdesverhouding met ons Here het, sal ek sorg dat ek op die een of ander wyse deel is van die uitvoering van daardie opdrag.
Nog verder lees ons:

HAN 1:8 Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde."

Sien jy wat jy nou gelees het?
As die Heilige Gees werklik in my woon, sal ek op die een of ander wyse Jesus aan die
mense verkondig.  Al kan ek nie self preek of goed in die openbaar getuig nie maar passief kan ek nooit, nooit wees nie.
Íets sal ek kry om te doen om te help dat die evangelie bevorder word.

HAN 1:8 Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – …

Daar is wel sommige mense wat in die kerk sit wat passief oor die evangelie van Jesus is maar daardie mense het hoogstens ‘n ontsag vir God Almagtig, of dalk ‘n vrees vir Hom maar ‘n liefdesverhouding met ons Here het hulle volgens wat ek in die Woord sien verseker nie.
Dit is net nie moontlik vir ‘n mens wat Jesus se Heilige Gees inwonend in hom/haar het om nie op die een of ander wyse teenoor die wêreld uiting oor daardie liefde in sy/haar hart te gee nie.
Onthou as jy die volgende lees, dat hierdie mense volgens Petrus en Johannes se kennis van hulle, die twee kon laat doodmaak het.  Hulle het immers vir Jesus gekruisig.
Onthou ook dat Petrus, voordat die Heilige Gees in hom gewoon het, by geleentheid ontken het dat hy Jesus ken maar wat het gebeur nádat hy Heilige Gees vervuld geraak het?
Ons lees:

HAN 4:16 "Wat gaan ons met hierdie mans aanvang?" het hulle gevra. "Dit is vir almal wat in Jerusalem woon, duidelik dat 'n onmiskenbare teken deur hulle plaasgevind het, en ook ons kan dit nie ontken nie.
HAN 4:17-20
17 Maar om te keer dat dit nog verder onder die volk versprei, kom ons dreig hulle om nie weer met iemand in die Naam van Jesus te praat nie."
18 Hulle roep toe die apostels weer in en beveel hulle om glad nie verder iets in die Naam van Jesus te verkondig of te leer nie.
19 Petrus en Johannes het egter in reaksie vir hulle gesê: "Dink julle God wil hê dat ons eerder aan júlle gehoorsaam moet wees as aan Hom?
20 "Ons kan nie anders as om te praat oor die wonderlike dinge wat ons gesien en gehoor het nie."

Nou sit jy met hierdie groot liefde vir ons Here in jou hart en jy brand om uiting daaraan teenoor die wêreld te gee maar jy weet nie presies wat ons Here wil dat jy moet doen nie.

Die eerste wat jy moet doen, is om dit gereeld ‘n dringende saak van gebed te maak.
Onthou ook dan met vrede in jou hart, dat dit nie net jy is wat ‘n behoefte het om sekerheid te kry oor wat ons Here in die verkondiging van Sy evangelie van jou verwag nie.
My groot held Paulus aan wie ons Here die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het, het ook soms daardie behoefte gehad om sekerheid te kry oor wat ons Here van hom verwag.  Daarom skryf hy by geleentheid:

EFE 6:19 Bid ook vir my, dat wanneer ek moet praat, woorde aan my gegee sal word om met vrymoedigheid die geheime plan van die Goeie Nuus bekend te maak.
EFE 6:20 As ambassadeur van hierdie Goeie Nuus is ek in boeie.  Bid dat ek, soos dit hoort, die Goeie Nuus met vrymoedigheid sal verkondig.

Daarom lees ons ook in die Woord in hierdie verband:

JAK 1:5 Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie.
JAK 1:6 Maar, as 'n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag
en heen en weer gedryf word.
JAK 1:7 So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

In my volgende opvolg skrywe oor hierdie saak, deel ek met jou verder oor hierdie baie belangrike onderwerp.

Groete
Sakkie