MY BEGEERTE OM VAN JESUS CHRISTUS TE VERTEL – DEEL 2 VAN 3

MY BEGEERTE OM VAN JESUS CHRISTUS TE VERTEL
Deel 2 van 3

Sakkie Parsons

In my vorige skrywe het ek begin deur te antwoord op iemand wat aan my die volgende vraag gestuur het:

“Hoe kan ek, sonder om dweepagtig voor te kom, maklik met mense oor Jesus praat? Ek brand om met mense oor Jesus te praat maar ek weet nooit hoe om te begin nie.”

Ek wil dan met die deur in die huis val en aangaan waar ek laas opgehou het.

Wat jy baie seker van moet maak as jy met vrymoedigheid ‘n goeie getuie vir Jesus wil wees, is dat jy ‘n goeie kennis van die Woord het om mense te help, of dat jy gereed sal wees, net ingeval jy met ‘n persoon te doen kry wat deel is van die een of ander vals godsdiens

Onthou, dat die Woord/Bybel ‘n Christen se wapen/swaard is waarmee ons onsself in ons stryd teen satan se aanslae verdedig.

EFE 6:17 Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord.
EFE 6:18  Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

Onthou ook terwyl jy die Woord bestudeer:

2TIM 3:16 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek.
2TIM 3:17 Dit is God se manier om sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.

Omdat ons mense is, is dit goed om onder leiding van die Heilige Gees te werk aan ‘n aanknopingspunt wat jy met gemak teenoor mense kan gebruik.

As voorbeeld deel ek met jou wat ekself met groot sukses doen:
Ek het ‘n standaard antwoord wat ek altyd gee.
Of iemand my nou per foon kontak en of daardie persoon dalk die verkeerde nommer geskakel het, as iemand my na my welstand vra is my antwoord altyd dieselfde.
Of ek nou betaal by ‘n kasregister, geld trek in die bank by ‘n teller, ‘n afspraak maak by ‘n ontvangsdame by die dokter.  Dit maak nie saak wat die omstandighede is nie maar as iemand my na my welstand vra is my standaard antwoord:
“God is op die troon en alles is wel.”
Of wat ek ook soms antwoord:
“God is op die troon en die saak loop mooi.”
Talle kere het dit dan gebeur dat die persoon met wie ek op daardie oomblik kommunikeer, met my oor ons Here begin gesels of, met ‘n positiewe kommentaar reageer wat dan weer vir my ‘n opening gee om verder te reageer.

Onthou ook, dat wanneer jy vir mense vertel van jou redding en wat ons Here vir jou doen en waarmee Hy jou alles help, met ander woorde jou daaglikse wandel met Hom en hulle sien dit ook deur jou lewe, kan geen mens sê jy lieg of met jou oor jou getuienis argumenteer nie.  Daarom is dit so belangrik om uit te leef wat jy getuig.

Dan moet ek ook die volgende noem:

Baie Christene wil mense oortuig en gebruik dan lang redenasies oor baie dinge in die Christelike lewe wat dan in hewige argumente ontstaan, veral omdat daardie Christene nie self uitleef wat hulle verkondig nie.
Terwyl al wat ons mense hoef te vertel by die voorbeeld wat ons lewe, is die volgende 7 punte en die res aan die Heilige Gees oor te laat:

Dat God die Vader Sy enige gebore Seun na die aarde gestuur het om die mensdom te red:
JOH 3:16  “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Dat Jesus Christus uit ‘n maagd gebore is.
MAT 1:23 “Die maagd sal swanger word!
Sy sal aan ’n Seun geboorte gee.
En die mense sal Hom Immanuel noem.”
(Hierdie naam beteken: God is by ons.)

Dat Hy vir ons sonde aan die kruis gesterf het.

1PET 2:24  Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Só is ons vry van die sonde. Nou kan ons lewe omdat God ons verhouding met Hom herstel het. Deur sý wonde is julle genees!
1PET 2:25  Vroeër was julle soos verdwaalde skape. Nou het God julle egter teruggebring na julle Herder, die Bewaker van julle lewe.

Dat hy uit die dood opgestaan het.

ROM 14:9  Dít is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewendig geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes.

Dat Hy opgevaar het na die Hemel.

HAN 1:9  Hy het dit gesê, en is toe in die hemelruim opgeneem terwyl hulle toekyk. Hy het in ’n wolk verdwyn.
HAN 1:10  Toe Hy wegraak en hulle nog stip die hemelruim inkyk,
het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.
HAN 1:11 Die twee mans sê toe: “Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk? Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”

Dat Jesus weer gaan kom:

HAN 1:11  … Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”

Dat Jesus Christus die énigste Deur / Weg na die Vader en die Ewige Lewe is.

JOH 14:6  Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.

My groot held Paulus som na my mening dit wat ek nou met jou gedeel het pragtig op as hy skryf:

1KOR 2:1  Broers en susters, toe ek destyds vir die eerste keer na julle toe
gekom het, het ek nie 'n stortvloed woorde of indrukwekkende wysheid gebruik
om aan julle God se groot geheim, naamlik die Goeie Nuus, te verkondig nie.
1KOR 2:2  Want ek het besluit om as ek by julle is, net op Jesus Christus te
konsentreer en veral op sy kruisdood.

Ek deel graag met jou die derde en laaste Gedagte uit die Woord oor hierdie saak oor ‘n paar dae.

Groete,
Sakkie