MY BEGEERTE OM VAN JESUS CHRISTUS TE VERTEL – DEEL 3

MY BEGEERTE OM VAN JESUS CHRISTUS TE VERTEL
DEEL 3

Sakkie Parsons

Hierdie is die laaste skrywe op iemand se vraag aan my, wat die volgende vraag gevra het:
“Hoe kan ek, sonder om dweepagtig voor te kom, maklik met mense oor Jesus praat?
Ek brand om met mense oor Jesus te praat maar ek weet nooit hoe om te begin nie.”

Ek wil dan begin deur te sê:

Een saak moet ek weer baie duidelik stel –
Iemand wat ‘n wáre liefdesverhouding met Jesus Christus het, volgens wat ek uit die Woord verstaan, kan nooit maar nóóit ‘n passiewe volgeling van Jesus wees nie.

Miskien kan jy nie goed praat nie maar jy kan dalk by jou gemeente of by die een of ander Christelike liefdadigheidsorganisasie betrokke raak en só help dat die liefdesevangelie van Jesus bevorder word.  Of, en ek sê dit met ‘n glimlag.
Miskien kan jy net ‘n tjek uitskryf.  Maak dan net ‘n goeie “job” daarvan.

Vervolgens deel ek dan met jou, by alles wat jy in die vorige twee gedagtes uit die Woord gelees het, ook die volgende uit die Woord om te staaf wat ek reeds gesê het en nou nog steeds sê:

1PET 3:14 Maar as dit inderdaad gebeur dat julle swaarkry omdat julle doen wat reg is, sal God sy seën op julle laat rus.  Moet dus nie dat mense julle bangmaak of afskrik nie.
1PET 3:15 Inteendeel, eerbiedig net Christus as die heer van julle lewe.  As julle dit doen, en iemand vra julle it oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer.

ROM 10:9 Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.
ROM 10:10 Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons verlos.

Hoekom het jy en ek hierdie heerlik brandende begeerte in ons harte om oor ons God en Verlosser Jesus Christus te getuig?
Omdat ons wérklik lief vir ons Here is en weet:

JOH 3:16 "God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

JOH 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.

Met hierdie wete in gedagte maak dit net vir ons, Jesus se volgelinge, goeie sin om te redeneer:

ROM 10:13 Want "elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word".
ROM 10:14 Maar hoe sal hulle Hom aanroep as hulle nie in Hom glo nie? En hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe sal hulle van Hom hoor sonder dat daar iemand is wat die boodskap bring?

Ek noem ook net weer die volgende:

Daar is baie slim mense, wat met allerhande slim teorieë kom en hierdie sus en daardie so in die Christelike godsdiens wil verduidelik.

Jy en ek hoef nie te probeer slimmighede uitwerk, of wat hulle dit ook al noem nie.

Sorg dat jy vertroud raak met die volgende 7 punte wat ek al met jou gedeel het, en laat die res aan die heilige Gees oor.

Glo my.

As die Heilige Gees wil dat jy meer ingewikkelde dinge moet weet, sal Hy sorg dat jy weet, wat jy moet weet, wanneer jy moet weet, wat jy moet weet:

Vir nou, vertel die mense:

Dat God die Vader Sy enige gebore Seun na die aarde gestuur het om die mensdom te red:

JOH 3:16  “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Dat Jesus Christus uit ‘n maagd gebore is.

MAT 1:23 “Die maagd sal swanger word!  Sy sal aan ’n Seun geboorte gee.  En die mense sal Hom Immanuel noem.”

(Hierdie naam beteken: God is by ons.)

Dat Hy vir ons sonde aan die kruis gesterf het.

1PET 2:24  Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Só is ons vry van die sonde. Nou kan ons lewe omdat God ons verhouding met Hom herstel het. Deur
sý wonde is julle genees!
1PET 2:25  Vroeër was julle soos verdwaalde skape. Nou het God julle egter teruggebring na julle Herder, die Bewaker van julle lewe.

Dat hy uit die dood opgestaan het.

ROM 14:9  Dít is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewendig geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes.

Dat Hy opgevaar het na die Hemel.

HAN 1:9  Hy het dit gesê, en is toe in die hemelruim opgeneem terwyl hulle toekyk. Hy het in ’n wolk verdwyn.
HAN 1:10  Toe Hy wegraak en hulle nog stip die hemelruim inkyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.
HAN 1:11 Die twee mans sê toe: “Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk? Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”

Dat Jesus weer gaan kom:

HAN 1:11  … Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”

Dat Jesus Christus die énigste Deur na die Vader en die Ewige Lewe is.

JOH 14:6  Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.

As hulle dan meer wil weet, of jou vra wat hulle moet doen om deel van hierdie groot waarheid te word, sê jy vir hulle:

HAN 2:38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

So my vriendin/vriend.
Onthou en doen dit altyd met Jesus liefde en onder leiding van die wysheid wat die Heilige Gees ons gee:

2TIM 4:1-5
1 Ek wil jou dus ernstig aanspoor voor God en voor Christus Jesus, wat die lewendes en dooies gaan oordeel wanneer Hy verskyn om sy koningsheerskappy te vestig:
2 Verkondig die woord van God. Hou daarmee vol, of die tyd daarvoor geleë is of nie. Jy moet jou mense met geduld reghelp, aanspreek en bemoedig terwyl jy hulle geduldig onderrig.
3 Want daar kom 'n tyd wanneer mense nie meer na gesonde onderrig sal luister nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle graag wil hoor.
4 Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg.
5 Maar jy moet in elke situasie jou teenwoordigheid van gees behou. Moenie bang wees om vir die Here te ly nie. Vervul jou taak as evangelis (of in watter hoedanigheid ons Here jou ook al wil gebruik) . Voltooi die bediening wat God jou gegee het.

Groete,
Sakkie