MY GELIEFDE IS GEDIAGNOSEER MET DIMENSIE

MY GELIEFDE IS GEDIAGNOSEER MET DIMENSIE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my ‘n brief waarin sy noem van haar moeder wat ver gevorderd is met dimensie en dit vir haar baie moeilik is om dit te hanteer.

Ek deel graag my antwoord aan haar met jou:

Ek wil eers net noem dat wanneer ons ons geliefdes, wat aan dimensie of enige ander siekte ly, met ons liefde en liefdesdade troos en dien, ons dan ook die opdrag van ons Here uitvoer en uitleef soos wat jy kan oplees in Matteus 25 vanaf vers 31-40 met die opskrif soos uit die NLV:  “Ons sal geoordeel word volgens die ontferming wat ons bewys het” en waaruit ons ook leer dat dit wat ons vir ander in nood of siekte doen, ons dit vir ons HERE self doen.

Ek dink persoonlik het ek ‘n idee wat in jou gemoed omgaan want ek is, wat my vrou aanbetref, omtrent presies in dieselfde omstandighede as wat jy met jou moeder is.

Daarom wil ek in my antwoord aan jou as volg begin:

Onthou net, hoe onverstaanbaar dit vir jou en vir my ookal lyk, want ons is mense – Vir die kind van God werk alles, álles ten goede mee.

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Kom ek deel gou met jou een voorbeeld uit die verlede wat jy baie goed ken en as jy wil, stel jouself nou in die plek van die ma van wie ek jou nou gaan vertel en gebruik jou kind vir wie jy die liefste is, as die voorbeeld van die kind in hierdie voorbeeld.

Daar staan Maria.
Dit is haar oudste Kind wie hulle nou net op die kruis neergelê en vasgespyker het en nou het hulle die kruis staangemaak en sy moet staan en kyk hoe haar geliefde Seun die vreeslikste marteldood sterf.
Sy weet dat sy ‘n maagd was toe sy met Hom swanger geraak het.
Sy onthou dat die engel nogal vir haar gesê het, dat hierdie Seun van haar, die Verlosser van die wêreld is, en daar hang Hy nou aan die kruis en Hy het nou net sy laaste asem uitgeblaas.
Sy het toe ook dalk so na die lyk aan die kruis gekyk en gesien hoe daar nog ‘n laaste paar druppels bloed op die stof op die grond onder die kruis drup. En vir haarself dalk met ‘n verskeurde hart die volgende vraag gevra:

“Hoe is dit moontlik, dat daar iets goed uit hierdie wrede tragedie wat nou voor my oë afgespeel het kan kom?”

Later sou sy toe uitvind, dat daar nog nooit in die hele skepping van die mens iets só wonderlik groots wat die hele mensdom aanbetref gebeur het nie.

As jy dalk eendag, wanneer jy as jy wil haar self sou vra, wat van die mooiste woorde in haar lewe was wat sy ooit gehoor het, sal sy dalk vir jou sê die dag toe sy gehoor het:

LUK 1:31  En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.

Destyds egter in die ultra konserwatiewe kultuur wat sy op aarde gelewe het, was dit seker (plaas jouself vir ‘n oomblik in haar skoene) die verskriklikste ding om vir die man te sê vir wie sy lief is, wetende, dat hy verseker gaan weet, dat hy nie die pa is nie:
“Ek is Swanger.”
Ek dink as jy haar dan verder sou vra, wat die volgende mooiste woorde was na dit wat die engel destyds aan haar gesê het wat sy al ooit in haar lewe op aarde gehoor het sou wees?
Sou dit wees:
(Maar Onthou egter haar omstandighede destyds op aarde toe haar Seun gesterf het en sy dit gehoor het en gesien het wat toe gebeur het):

JOH 19:30  En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring!  En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.

So, jy sien.
Jy en ek is ons Here se kinders vir wie Jesus aan die kruis gaan hang het en God lieg nie.
So ons kan vir seker weet, dat as God Almagtig vir ons, Sy kinders laat skryf het, dat niks met ons kan gebeur, as dit nie uiteindelik die heel beste vir ons is nie, dan is dit onteenseglik, dat dit wat op hierdie oomblik met jou of my gebeur, wat menslik gesproke net eenvoudig nie sin maak nie – soos wat dit destyds seker vir Maria ook nie sin gemaak het nie –  verseker steeds die heel beste wat met ons gebeur.
Daarom kan ons dan met groot sekerheid saam met my groot held Paulus getuig:

2KOR 4:8-9 
8 Op elke manier word ons onder druk geplaas,
maar ons is nie verpletter nie;
ons is verward,
maar nie wanhopig nie;
9  ons word vervolg,
maar nie in die steek gelaat nie;
platgeslaan,
maar nie vernietig nie.

Natuurlik verstaan ons nie alles nou nie.  Om die waarheid te sê, soms verstaan ekself baie min.  Nee, eintlik verstaan ek die meeste van die tyd niks van dit wat op die oomblik my padlangs kom nie, maar dan onthou ek  die volgende uit ons Here se kosbare Woord:

1KOR 13:12  Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ’n dowwe spieël,maar eendag sal alles vir ons glashelder wees.
Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.

Met hierdie wete, onthou ek dan nog ook Jesus se woorde aan jou en my. Dit is dieselfde Jesus vir wie Maria Sy moeder aan die kruis sien hang het en vir wie sy  die kruisiging marteldood sien sterf het, sodat jy en ek die liefdevolle genade van God almagtig kon ontvang om vlekloos die hemel in te stap:

MAT 10:29-31 
29 Julle weet dat twee mossies vir ’n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarby betrokke is nie.
30  Wat julle betref, is elke haar op julle kop getel.
31  Wees daarom nie bang nie. Julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies.

Met hierdie sekere wete in ons harte, kan ons dan in die gees die rugsak op ons rug weer reg skuif met dit wat ons moet dra en ons kom weer heeltemal regop, trek ons skouers terug en ons stap met vaste tred omdat ons hierdie sekere wete het: 

Aan die einde van hierdie pad wag en wie weet, dalk is dit net oor die horison maar verseker wag die hemel se oop poort vir jou en my.

Daarom sluit ek my skrywe aan jou af met  die volgende:

LUK 21:18-19
18  Maar selfs nie ’n haar op julle kop sal verlore gaan nie.
19 Deur julle volharding sal julle julle lewe behou.

Groete,
Sakkie