MY GELOOF EN VOLLE VERTROUE OP ONS HERE

MY GELOOF EN VOLLE VERTROUE OP ONS HERE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en ek gee ‘n verkorte weergawe van die vraag aan my:

“Hoe kan ons sê ons geloof bestaan uit:

HEB 11:1 Wat is geloof dan? Dit is 'n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.

As die Christene wat dit sê nog steeds sorg vir byvoorbeeld versekering, mediese fondse en pensioenfondse?”

Ek wil begin deur iets te vertel wat jare terug gebeur het waar ek betrokke gewees het en wat ‘n groot indruk op my gemaak het.

Saam met my het ‘n man gewerk, wat homself as ‘n Christen deurgegee het en hy het dit duidelik laat verstaan, dat hy nie in dokters glo nie.
“Nee, hy gaan na die Here.”
Hyself was ‘n baie gesonde mens.
Toe word sy vrou en twee kinders baie siek van griep en natuurlik neem hy hulle nie dokter toe nie.  Nee hulle moet bid en ons Here vertrou.
By geleentheid in hierdie siekte van sy gesin, bel my vrou my en vra ek moet tog met, kom ons noem hom Jan, praat want sy gesin is werklik baie siek.
Ek begin toe met hom praat en dit loop op ‘n redenasie uit en later word die man kwaad vir my en ek sien ek gaan nie iets hier regkry nie en hou toe maar op praat oor die saak.
‘n Bietjie later die dag maak hy toe ‘n telefoon oproep en omdat ons saam in dieselfde kantoor is, hoor ek natuurlik alles.
Blykbaar het sy motor twee vergassers probleme gegee en die twee moes, soos ek dit toe uit die gesprek verstaan, gesinkroniseer word en hy kan dit nie regkry nie so hy wil net ‘n afspraak maak om sy motor in te bring dat hulle dit vir hom kan doen.

Toe praat die Heilige Gees in my hart en toe hy die foon neersit sê ek vir hom:
“Jan, weet jy wat ‘n goor getuienis jy nou aan die wêreld uitgedra het?”
Hy vra my toe waarvan ek praat.
Ek sê toe aan hom:
“Al was ek nie in die kantoor nie.  Om ons is die geeste, die bose magte in die lug en hulle rol nou soos hulle lag.
Want, jy het nou net deur jou optrede getuig:
God is ‘n goeie dokter, daarom vertrou ek my gesin aan Hom toe en nie aan ‘n gewone dokter nie maar God is ‘n vrot motorwerktuigkundige, so ek sal maar liewer my motor na ‘n gekwalifiseerde motorwerktuigkundige neem.”

Baie keer sal mense sê ek vertrou net op die Here om vir my te voorsien maar as sy motor se tenk leeg raak vertrou hy liewer die petroljoggie by die garage.
Baie Christene is soos die Engelse dit stel “hypocrites“
Baie Christene, omdat hulle eintlik huigel in hulle soort geloof, maak dat die mense daar buite maar net hulle koppe glimlaggend vir ons skud.

Jesus praat by geleentheid oor wat dit mag kos om Hom te volg en dan gebruik Hy ‘n baie praktiese voorbeeld wat natuurlik vir alles geld om te demonstreer wat Hy sê:

LUK 14:27 En jy kan nie my dissipel wees as jy nie jou eie kruis dra en My volg nie.
LUK 14:28 "Moenie eers begin voordat jy die koste bereken het nie. Want wie sal met die oprigting van 'n gebou begin sonder om eers kwotasies te kry en te sien of daar genoeg geld is om die rekeninge te betaal?

‘n Ander voorbeeld wat pragtig vir ons demonstreer hoe ons as kinders na die hedendaagse hulpmiddele om ons moet kyk kry ons in GEN 41:33 en verder waar Josef onder die leiding van ons Here vir die Farao sê wat hy moet doen as gevolg van die drome wat die Faro gehad het:

GEN 41:33-36
33 “My voorstel is dat u ’n wyse en verstandige persoon kry en hom aanstel oor die hele Egipte.
34 Die farao moet dan beamptes oor die hele land aanstel sodat hulle een vyfde van die oeste gedurende die sewe voorspoedige jare kan invorder.
35 Laat hulle al die kos en graan van hierdie goeie jare in koninklike skure stoor en daaroor toesig hou sodat daar kos sal wees in die verskillende stede.
36 Op hierdie manier sal daar genoeg wees om te eet wanneer die sewe jaar van hongersnood aanbreek. Indien dit nie gedoen word nie, sal ’n ramp die land tref en al die mense sal omkom.”

As ek op ‘n lang reis gaan, bid ek oor die saak en ek sorg met die verstand wat ons Here my gegee het, dat my motor padvaardig en vol petrol is.

As ek mediese hulp nodig het, vertrou ek op ons Here dat Hy my by die regte dokter gaan uitbring, want hy het die dokters daar gestel.

Ek het ook op ons Here vertrou en vandag is ek ‘n pensionaris met ‘n goeie mediese fonds.

Ek sluit af met nog ‘n verhaal van hoe ons soms kan huigel en onsself en ja ook die Evangelie van Christus belaglik maak:

Ek luister eendag hoe ‘n man in ‘n diens vir eers vir mense met hierdie siekte bid en dan weer vir mense met daardie siekte bid.
By geleentheid sê hy toe dat hy nou vir mense met oogprobleme gaan bid en hy rek toe daardie uitnodiging so ‘n bietjie uit, seker omdat daar nie baie mense gereageer het nie.
Toe kom dit in my hart en ek vra my vrou:
“Dra die man ‘n bril?”
Sy antwoord toe:
“Ja maar hoe weet jy dit?”
Ek het haar nie toe geantwoord nie maar so gesit en luister na die man.
Daarna, toe hy klaar vir die mense met hulle oogprobleme gebid het, neem hy sy Bybel en stap met sy bril op sy oë, van die verhoog af.

As ek destyds ‘n bril gedra het, wat ek nie het nie, omdat ek te blind vir een is en hy het vir my gebid en ek het my bril afgehaal en in my sak gesteek en daar stap hy met sy bril op sy oë van die verhoog af, sou ek maar seker my kop geskud het, my hand in my sak gesteek het, my bril uitgehaal, die lense blink gevryf het en weer opgesit het.

My persoonlike uitkyk in die lewe is, en ek gebruik ‘n geval uit my eie lewe:

Toe die dokter vir my in 1997 sê ek het melanoom kanker en as hulle dit nie kan keer nie, het ek 3 tot 6 maande om te lewe, het ek ons Here vertrou, dat hy die kundiges die regte ding sal laat doen en ek het 5 Desember 1997 met die behandeling begin.
Toe, êrens in daardie Desember sit ek in ‘n diens en ‘n pastoor sê hy wil vir my bid en ek het na sy gebed geweet ek is genees maar ek het nog steeds alles gedoen wat die kundiges gesê het dat ek moet doen.  Want, ons Here het hulle daar gestel met presies daardie doel, om mense soos ek leiding en hulp te gee in dit waar ons onkundig is.
Vandag is dit baie jare later en wat ek te heerlik oorhet is die waardevolle lesse wat ek uit daardie gebeure geleer het.

So het ek in alles waar ek nie kundig is nie nog altyd ons Here vertrou.

Net so het ek byvoorbeeld, as my motor probleme gegee het, ons Here vertrou en dan my motor na ‘n gekwalifiseerde motorwerktuigkundige geneem.

As ek elektriese probleme in my huis gehad het, het ek ons Here vertrou en ‘n elektrisiën laat kom om die probleem vir my op te los.

As my tand ‘n probleem het, vertrou ek ons Here dat Hy my sal genees en ek gaan na ‘n tandarts, wat deur die Here daar gestel is.

Ons moet nou nie soos so baie mense huigel soos Jan hier bo nie en nou sê:
“Ek vertrou net op die Here en dan selektief in ons lewens te werk gaan nie.

As ek nou so ‘n bietjie van my groot held Paulus se skryfstyl mag gebruik maak..

“Of wat sal ons dan van al hierdie dinge sê, is al die kundiges wat daar deur ons Here in die wêreld gestel is, dan net vir die ongelowiges daar gestel?”

As jy in ‘n sekere situasie beland –

Bid oor die saak, kyk na die kundigheid om jou, volg die leiding van ons Here en gebruik dan die kundige na wie ons Here jou in daardie saak op daardie stadium lei.

As hier nou iemand lees en jy wil dit anders doen, wel doen dit dan so, maar moet nie van die Evangelie en van jouself ‘n bespotting maak, deur soos byvoorbeeld my voorbeelde hierbo, met jou bril op jou oë met jou motor na ‘n garage gaan nie.

Met ander woorde, ek moet nie soos ‘n huigelaar selektief in dit wat ek verkondig met die Woord omgaan nie.

Ek myself weer, bid oor ‘n saak en dan volg ek verder met my gesonde verstand wat ons Here my gegee het in die geloof Sy leiding en hoe lyk hierdie geloof waarmee ek Hom volle vertroue dan volg?

HEB 11:1 Wat is geloof dan? Dit is 'n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.

Die bewys daarvan dat dit werk vir my is byvoorbeeld, dat ek nou soveel jare later hier kan sit en hierdie skrywe aan jou skryf.

Groete,
Sakkie