MY GETUIENIS RONDOM DIE 21.1 KM WALLY HAYWARD WEDLOOP OP 1 MEI 2026

MY GETUIENIS RONDOM DIE 21.1KM WALLY HAYWARD WEDLOOP OP 1 MEI 2026

Sakkie Parsons

Ek deel graag met jou my ondervindings en gedagtes rondom hierdie baie spesiale wedloop:

Dit was soos al my Wally wedlope oor die jare ‘n baie wonderlike ondervinding en omdat ek blind is, ook ‘n heerlike avontuur op 1 Mei 2026, ‘n dag  na my 79ste verjaarsdag.

Nou moet ek eers iets verduidelik.

By verre die moeilikste gedeelte van die wedloop vir my gids, so het ek dit oor die jare ervaar, is die begin met duisende mense wat almal net een gedagte het, om te hardloop en die kilometers agter die rug te kry en dan die ergste vir my gids en vir my, om net te heerlik aan die gang te wees in die spoed en ritme wat vir ons albei gerieflik is en dan kom iemand van agter af by my verby en sny dadelik voor my in, sodat ek in hom/haar vas hardloop en soms baie hard val.

Dit was hierdie keer net na die 16 kilometer merk en ons was te heerlik besig om in ons gerieflike ritme en spoed voort te gaan met niemand naby ons nie.  Of so het ons gedink.

Toe kom daar iemand aan my linkerkant verby en sny dadelik weer voor my in en ek stamp teen hom/haar en verloor my balans en ek val hard en my gids val bo op my.

Dit was vir my ‘n harde val, want onthou, ons het nou al 16 kilometer agter ons en jy het nie meer regtig die krag om nog so ‘n gebeurtenis ook te hanteer nie.

Dit was egter soos blits.  Ek weet nie waar hulle vandaan gekom het nie maar toe is daar omtrent 5 of 6 ander deelnemers om ons en help ons op ons voete en bly by ons, om te sien of ons reg is.

Ek wil nou met jou deel wat daardie een atleet wat voor my ingeswaai het, my weer geleer het – en wat die ander 5 of 6 atlete wat daarna aste ware gekompeteer het om ons te help, my ook weer geleer het.

Ek praat nou nie oor mense wie sê dat hulle Christene is en dit nie werklik is nie, gewoon omdat hulle nog nooit werklik vir Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker nie – en ongelukkig in die tyd wat ons leef, is dit die grootste gros mense wie hulleself Christene noem.

Ek deel met jou eers oor Christene wat wérklik glo en bely dat hulle Christene is, soos daardie atleet wat dadelik voor my ingesny het, wérklik ‘n atleet was, anders sou hy/sy nie in ‘n 21.1 kilometer wedloop, oppad na 17 kilometer van 21.1 gewees het nie en hy/sy het ook geweet, dat dit nie lekker is as jy in ‘n wedloop heerlik jou ritme en jou spoed het en iemand sny direk voor jou in nie.

Ja, ek weet, dat die lewe is deesdae vir ons almal amper ‘n stryd van oorlewing en die lewe op die oomblik is so geweldig vinnig en daar is so ‘n enorm dinge waaraan ons gedurig aandag moet gee, dat ek wil vra, dat jy saam met my spesiaal in jou lewe sal oplet, dat satan jou nie in daardie strik van selfsugtigheid sal vasvang nie en ons dan ‘n belediging is juis, vir dít waarvoor Jesus staan.

Daardie atleet, was vanweë die druk waaronder hy/sy op daardie tydstip in sy/haar lewe was, geheel en al selfsugtig en self gesentreerd.

Selfsugtigheid en self gesentreerd is iets wat eenvoudig nie in ‘n ware kind van ons Here gevind behoort te word nie.

Ons lees in die geval en ek deel net ‘n paar van die so baie wat ek kon gebruik het met jou:

FIL 2: 3-7

3 Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.

4 Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. (die atleet wat voor my ingesny het, het net nodig gehad om vir nog ‘n paar treë dieselfde lyn te hou maar wou nie)

5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.

Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, (want Hy is God)

7 maar het Homself ontledig (van God die Almagtige, tot ‘n mens, ja, ‘n dienskneg) deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;

8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself (nog verder) verneder deur gehoorsaam te word (as versoening vir ons sonde) tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

JAK 3:13-17

13 WIE is wys en verstandig onder julle? (laat die mense Jesus in en deur jou sien) Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid toon.

14 Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, (werk daar aan om nie ‘n bespotting te maak van dit wat Jesus geleer en gedoen het nie) moenie roem en lieg teen die waarheid nie.

15 Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels;

16 want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.

17 Maar die wysheid van bo is (hier volg waarna ons moet strewe teenoor ons gemeenskap met die mense om ons) ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.

Nou wil ek met jou deel wat gebeur het toe ons geval het:

Soos ek genoem het –

Onmiddellik, ek weet nie waar hulle vandaan gekom het nie, want ‘n paar sekondes gelede was dit doodstil om ons, buiten vir die voete val van ons en die persoon wat my verby gegaan het wat ek gehoor het – en skielik was daar 5, 6 of dalk nog meer mens en hande om ons op te help.

Nou moet jy iets verstaan van daardie mense wat ons gehelp het.

Elke oomblik wat hulle spandeer het om ons te help, is tyd wat hulle verloor in wat hulle tyd gaan wees as hulle by die einde oor die lyn gaan – en hulle het net ‘n sekere tyd om te kwalifiseer vir hulle medalje.  As hulle na die afsnytyd oor die lyn gaan, het hulle, as jy dit afsny tot op die been, ‘n klomp geld en maande se oefening opgeoffer om twee mense wat geval het te help maar hulle was, wat ek, wáre pad-atlete sal noem gewees – en ons Here het hulle gebruik om my weer te laat onthou wat ons Here vir ons in Sy Woord sê, oor Sy wáre volgelinge en hoe Hy ons sien en wat Hy van ons verwag.

Ek noem ook weer, dat ek baie, baie voorbeelde kon gebruik het maar ek volstaan met die volgende:

MATTEUS 25:34-40

34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.

35 Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee;

36 Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.

37 Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?

38 En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?

39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?

40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.

Ek wil ook net noem, dat as gevolg van daardie mense se hulp, kon my gids en ekself ook binne die afsnytyd die eindstreep oorgesteek het en ons medaljes gekry het.

Wil jy nie weer vandag opnuut besluit – en miskien leef jy eintlik so – maar ek vra tog of jy nie weer vandag opnuut ‘n besluit wil neem nie:

“Ek wil nie ‘n bespotting maak van dit wat Jesus vir my deur Sy Woord leer en wat Hy op Golgota met Sy bloed onderteken het nie.

Ek gaan van vandag af doen wat Hy in Sy woord vir my vra en van my verwag – en so help om die wêreld ten minste om my ‘n beter plek maak.”

GAL 6:2  Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.

Ek sluit af om jou net weer te herinner hoe lees die wet van Christus en hoe ons daardie wet vervul:

MATTEUS 22:36-40 

36  Meester, wat is die groot gebod in die wet?

37  En Jesus antwoord hom: Jy moet (dit is ‘n opdrag, nie ‘n opsie nie) die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

38  Dit is die eerste en groot gebod.

39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: (dit is nie ondergeskik aan die eerste nie maar word net tweede genoem, omdat jy nie albei gelyk kan noem nie) Jy moet (dit is ‘n opdrag, nie ‘n opsie nie) jou naaste liefhê soos jouself.

40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete. (Met ander woorde – Dit maak nie saak wat anders jy aan kan dink nie, dit is ondergeskik aan hierdie twee)

Ons kan en moet hierdie Liefdes-wet van Christus vervul en ons Here sê ook presies in Sy woord vir ons hoe ons dit moet doen:

ROM 13:8-10

8  Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat n ander liefhet, het die wet vervul.

9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

10  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.

So, ek herinner net weer wat jy ook reeds gelees het:

GAL 6:2  Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus. (wat jy weer vandag in Matteus 22:36-40 gelees het.

Groete,

Sakkie