MY KIND IS GEMOLESTEER

MY KIND IS GEMOLESTEER

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my raad wat om vir ‘n kind te sê wat oor ‘n tydperk seksueel gemolesteer en misbruik is in hulle familie. 

Ek deel met jou my antwoord aan haar en ek wil hier ook net noem dat daar verskeie gevalle en grade van seksuele aanranding en molestering is en elke geval word diensooreenkomstig behandel.  Hier noem ek net ‘n paar dinge wat vir my belangrik is en hoe ons Here jou kan help om daaroor te kom – ook as volwassene.

Ek het natuurlik al baie van kindermolestering in my volwasse lewe gehoor en dit is hoe ek daaroor dink:

Om mee te begin, die heel belangrikste in elke mens se lewe is dat jy JESUS CHRISTUS as jou HERE en jou Redder aanneem en jou hart aan Hom gee.  Van daardie oomblik af is jou hele lewe nuut. 

Praat dus met hierdie kindjie oor Jesus wat ons liefhet en dat Hy sy lewe vir ons gegee het om ons van ‘n ewige hel te red en lei hom/haar na ons Here toe as hy/sy nog nie Sy kind is nie. 
Verduidelik aan hom/haar dat ons as Sy kinders nou ‘n toekomsverwagting het om vir ewig by Hom te wees waarna ons uitsien en streef en voor leef en baie baie dankbaar voor is. 
Leer hom/haar om alles in jou lewe met Jesus te bespreek, Sy Woord lief te hê en Hom jou beste Vriend te maak.
Sodoende ontwikkel jy ‘n innige verhouding met ons Here. 
In jou daaglikse lewe saam met Hom, help Hy jou om enige iets negatiefs agter jou te laat want dit is wat ons Here wil dat ons moet doen: 

FIL 3:14  Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

Daar is nou seker baie sielkundiges wat met baie antwoorde vorendag sal kom maar ek kan maar net met jou deel hoe ek ervaar het van mense wat dit kon verwerk het en wat ek met so ‘n persoon sou deel.

Nommer een:

Dit is nie jou skuld dat dit gebeur het nie.  Dit is die eerste ding wat ‘n mens op die beste moontlike wyse onder leiding van die Heilige Gees aan die persoon moet tuisbring.

Die tweede is:

Laat dit nou agter jou, dit is satan wat jou kort-kort daaraan herinner, want hy wil jou verhoed om ‘n normale lewe te lewe.
Deur dit nou agter jou te plaas, gee jy satan geen geleentheid om jou lewe op daardie gebied te beïnvloed nie en kan jy werklik ‘n normale lewe lewe, ook op seksuele gebiede.

Dit volgens my is die twee belangrikste idees wat jy onder die leiding van die Heilige Gees aan die kind moet probeer tuisbring maar moet nie hamer op, dit is kort-kort terugkeer, na dit wat gebeur het nie.

Ek dink dan hamer jy dit net nog vaster in die persoon se geheue.

Konsentreer op die waarde van die menswees van die mens wat gemolesteer is.

In die boek Hebreërs lees ons hoe ons lewe met ‘n wedloop vergelyk kan word:

HEB 12:1-3 .. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun.  Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor die Hom gewag het, die kruis verduur.  Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie.  En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!  Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het.  Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie. 

Wanneer ons dus op Jesus fokus en op die belofte van ‘n nuwe lewe saam met Hom, sien ons kans vir môre en vervaag gister.

Ek sluit af met die volgende lied se woorde:

Turn your eyes upon Jesus
Look full, in his wonderful face
And the things of earth will grow strangely dim
In the light of His glory and grace

Groete,
Sakkie