MY NAAM IS RYNO – ‘N GETUIENIS

MY NAAM IS RYNO – ‘N GETUIENIS

Sakkie Parsons

Ek deel graag met jou die volgende aangrypende getuienis:

My naam is Ryno.
Ek wil graag met jou my storie ook deel, as ek mag.
In November laasjaar, kry ek eendag by die werk die verskriklikste pyn aanval. Ek was besig om te bestuur, en ek het dit amper nie gemaak tot by die naaste motorhawe nie. Al wat ek onthou, was dat ek verskriklik hard gebid het.

Na die ambulans my daar langs die pad kom haal het, vind ons by die dokters uit dat ek nierstene het. Nouja, ek het nie ‘n mediese fonds nie, so ek moes na die Staatshospitaal toe gaan, en dis my rede vir die skrywe.

Ek was uiteindelik na ses maande van die vreeslikste pyn aanvalle, drie weke gelede geopereer. Hulle het vir eers net pypies in al twee niere gesit, en die eerste van 4 of 5 operasies word nou die 22ste Junie gedoen, om die eerste groot steen te verwyder.

Tydens my verblyf in die hospitaal, deel ek ‘n saal met 5 ander mense. Daar het ek gesien dat daar ander mense is, met VEEL groter probleme as ek.
Ek staan elke oggend om 4 uur op, en dan gaan sit ek buite die hospitaal omdat ek nie in die bed wil bly nie.
Weet jy, om kwart oor vier in die oggend, in die stikdonkerte, sit daar reeds mense met klein kindertjies, in die koue, sodat hulle eerste in die ry kan wees as die deure oopmaak.
Saam met my in die saal is mense met kanker, mense wat ledemate moes laat afsit, en mense met baie groter pyn en lyding as wat ek het.

Toe vind ek dat my daaglikse gebede verander. Ek dank die Here vir alles wat ek het, en ek vra vir genade vir die wat soveel minder het as ek.

Ek het nog steeds seer, maar die Here gee my die genade om deur elke dag te kom, ten spyte van die pyn en siekte.

Verder het ek ‘n nuwe waardering vir my liewe vrou. Sy is deur diep water met my siekte, en daar is niks wat sy kan doen wanneer ek krul van die pyn nie, sy kan maar net by my sit en my hand vashou. Sy het nooit gewys dat sy swaarkry nie, sy ondersteun my in alles wat ek deurmaak. Die vrou wat die Liewe Vader aan my geleen het.

So my getuienis is dit:
Dinge gaan nie altyd soos ons dit wil hê nie, en somtyds dink ons die lewe is baie onregverdig. Maar die GOD  wat ons dien, is regverdig, en Hy verhoor al ons gebede, en Hy is altyd besig om ons te help, op Sy manier.

Ons moet NOOIT ophou bid nie, en ons moet nooit ophou glo nie. Ons GOD is ‘n regverdige GOD, wat ons nooit sal verlaat nie.

Groete met Jesus liefde.
Ryno Johnson.

Groete,
Sakkie