MY VRIEND IS ‘N DWELMVERSLAAFDE

MY VRIEND IS ‘N DWELMVERSLAAFDE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende:

“My hart is ongelooflik seer vanoggend want ek het die naweek uitgevind dat my vriend verslaaf is aan dwelms.“

Ek stuur jou iets wat ek oor dwelms geskryf het net hierna.
Vir nou net die volgende soos ek dit onder leiding van die Heilige Gees sien:

Jy het nou te doen met ‘n geweldige probleem en die eerste waarvan jy báie duidelik moet kennis neem, is dat jy nou nie eens amper daaraan mag dink om in ‘n huwelik met hierdie persoon betrokke te raak nie.

Julle sal moet uitvind waar die naaste rehabilitasiesentrum is en hy sal so gou moontlik daar moet uitkom.

Dwelms is ‘n doodloopstraat, wat uiteindelik nog elkeen wat nie daarvan af, kon, of wóu omdraai en daarvan ontslae geraak het nie, vernietig het.

Dit is ‘n groot tragedie maar daar is nog ‘n gróter tragedie:
Dit laat ook almal wat intiem by die verslaafde betrokke is en wie nie kop hou nie, deel van die statistiek van daardie hartseer tragedie word.

Jy sê dat jou vriend God ken.
In só ‘n geval gaan dit vir hom maklik wees om iets aan sy situasie te doen.
Soms egter dínk mense dat hulle ons Here ken, maar eintlik wéét hulle net van hom en om van ons Here te weet, maak jou nie ‘n kind van God nie.
Pontius Pilatus het ook van Jesus geweet.
Hy het selfs kennis met Jesus gemaak en Hom toe oorgelewer om gekruisig te word.
Ek kan vol godsdiens wees en ter selfdertyd heeltemal sonder ‘n verhouding met ons Here in my lewe wees.
Om Jesus wérklik te ken, moet jy in ‘n liefdesverhouding met Hom wees.

Wat is die sigbare bewyse dat ek Jesus ken en ‘n liefdesverhouding met Hom het?

JOH 14:21  “Wie my opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet. Wie My liefhet, hom sal my Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.”

MAT 7:16-20 
16 Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ’n mens ’n boom aan sy vrugte kan uitken. ’n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse, of vye van dissels nie.
17  ’n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ’n siek boom slegte vrugte.
18  ’n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n siek boom nie goeie vrugte nie.
19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20  “So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.”

Vroom praatjies tel nie in God se koninkryk nie

MAT 7:21  “Nie almal wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.

Ek weet nie of jy al iets gelees het waar ek dit genoem het nie, daarom noem ek dit maar weer al het ek dit al baie in van my antwoorde aan mense genoem:

Moet nóóit jou hart aan iemand gee, as jy nie séker is, dat daardie persoon nie eers sy hart aan Jesus gegee het nie.

Daar mag gevalle wees waar ‘n Christen dit wel gedoen het en waar die huwelik uitgewerk het soos wat dit reg is in die oë van ons Here maar ek weet nie van so ‘n geval nie.
Al die gevalle waarvan ek weet het dit wetend of onwetend, net op groot hartseer vir die Christen uitgeloop.
Ek sê wetend of onwetend – want jy sien baie keer raak die Christen dan later, om aan te pas by die ongelowige, heeltemaal los van Christus en dit pla dan ook later nie meer daardie Christen nie.
Dit, so glo ek, is ook presies waarom ons Here vir ons laat skryf het:

2KOR 6:14-16 
14 Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis?
15  Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial? Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ’n gelowige en ’n ongelowige?
16  Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode?
Ons is mos die tempel van die lewende God. …

Moet ook nie sê dat jy hom ná julle huwelik na ons Here sal lei nie.
Daar is baie bedieninge in die Woord van ons Here, maar dit is nie een van die bedieninge, dat ‘n Christen met iemand moet trou en die persoon só na ons Here moet lei nie.
Wat daar wel baie duidelik vir die Christen geskryf staan is dit wat jy nou in 2KOR 6:14-16 gelees het.

In ‘n ouer vertaling lees 2KOR 6:14-16 as volg:

14  Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
15  En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?
16  Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, …

Ten slotte wil ek ook net die volgende aan alle dwelm en verslaafdes noem:

As ek Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker, maak dit nie saak hoé sleg my omstandighede volgens die maatstawwe van die mense om my is nie.
Ons Here kyk na jou en my wie Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker en Hy sien een van Sy kinders, ‘n broer of suster van Jesus Christus:

ROM 8:29  Want God het hulle (ons wie Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker) reeds vooruit geken, en Hy het hulle (ons wie Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker) aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters. (Dit is jy en ek).

So, al is jy aan wat ook al verslaaf en al is jou omstandighede as gevolg daarvan hoé sleg in die oë van die mense –
Jy kan gehelp word en as jy op Jesus vertrou en gebruik maak van die hulpmiddels wat Hy daar vir ons gestel het, dan kan en sal jy uit jou omstandighede kom.
Want sê Jesus in Sy Woord vir ons:

MAT 11:28-30 
28 “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik.
29  Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.
30  Want my juk sal sag op julle skouers rus en my las is lig om te dra.”

MAT 12:20  ‘n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ‘n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring.

As jy hierdie gedagte uit die Woord lees en jy ervaar dat dit vandag op jou betrekking het, sê ons Here nou ook aan jou deur hierdie skrywe:

JES 1:18  “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,”
sê die Here.
“Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder.
Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het.
Selfs al is die vlek so rooi soos purper,
Ek kan julle wit maak soos wol.

Groete,
Sakkie