MY WIL WAARMEE GOD MY GESKAPE HET

MY WIL WAARMEE GOD MY GESKAPE HET

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende:

Die vraag is: God het geweet dat die mens gaan sondig, hoekom het HY tog nog steeds die mens geskape.  Ek hoop jy kan my help hiermee.

‘n Mens kan jou vraag nog ‘n bietjie verder terugneem en selfs vra: Waarom ons Here vir satan in die eerste plek bestaansreg gegee het en nie van hom ontslae geraak het  voor ons Here met die skepping begin het nie?
Daaroor deel ek ‘n bietjie later in hierdie skrywe met jou soos ek dit met die leiding tot my beskikking verstaan.

Daar is baie dinge in die Woord waarvoor ons nie al die antwoorde het nie en in sommige gevalle, geen antwoorde het nie maar ons weet ons sal wanneer ons by ons Here is álles, en hoe wonderlik heeltemal verstaan:

1KOR 13:12  Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ’n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.

So ek deel graag met jou die bietjie, ‘n baie klein “ten dele” bietjie van dit wat ek, so glo ek ‘n bietjie verstaan.

Eerstens dink ek een van die redes waarom ons Here satan nie vernietig het voor ons Here met Sy skeppings werk begin het nie en onthou dit is maar net ‘n gedagte, ek het nie Skrif daarvoor nie, is die volgende:

Ons Here het ons na Sy beeld geskape en herinner jouself kort-kort dwarsdeur hierdie skrywe aan hierdie werklikheid:

GEN 1:27 God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep; volgens sy eie beeld het God hulle geskep; manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

Omdat ons na Sy  beeld geskape is, het ons om dit so te stel, ook die eienskappe van Sy beeld wat in ons gestalte kry.

So, kom ek deel gou met jou byvoorbeeld twee van die eienskappe wat in jou van God gevind kan word en ook by iemand wat nie eens in God glo nie gevind sal word, voor ek by satan en sy bestaan daar van die begin af kom.

Ons Here is onsterflik en Hy was van ewigheid af daar:

PSM 90:2-4
2 Voordat die berge gebore is en U die wêreld voortgebring het, van ewigheid tot ewigheid, is U God.
3 U laat mense weer terugkeer tot stof, en sê: “Keer terug, mensekinders!”
4 Vir U is duisend jaar soos gister wat verbygaan, …

Daarom, omdat ons na ons Here se beeld geskape is, is een van ons eienskappe, dat ons soos ons Here, nie kan doodgaan nie.
Ons gaan die een of ander tyd hierdie liggaam verlaat maar ons gaan nie doodgaan nie.
Ons gaan of vir ewig by ons Here wees:

2KOR 5:1  Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net ’n tentwoning is, afgebreek word, ons ’n permanente blyplek by God het, ’n huis wat nie met hande gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan.
2KOR 2:9  Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde:
“Wat geen oog gesien het;
wat geen oor gehoor het;
wat in niemand se hart opgekom het nie –
dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet.”

As jy egter sonder Jesus aan die anderkant van die graf arriveer, gaan jy vIr ewig die verskriklikste dood sterf en tog nooit sterf nie, want jy is na God se beeld geskape – daarom  is jy onsterflik.

OPG 20:15  En as dit geblyk het dat iemand se naam nie in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

LUK 16:22-25
22  …Die ryk man het ook gesterf en is begrawe.
23 Hy het sy oë in die doderyk oopgemaak en terwyl hy gefolter word, het hy Lasarus in die verte by Abraham gesien.
24 “Die ryk man het geroep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor my! Stuur vir Lasarus hierheen om die punt van sy vinger in water te steek en my tong af te koel, want ek ly verskriklik in hierdie vlamme!’
25 “Maar Abraham het vir hom gesê: ‘Kind, onthou gedurende jou leeftyd het jy alles gehad wat jy wou hê, en Lasarus niks. Maar nou is hy hier en word vertroos, en jy word gepynig.

MAT 25:30 En daardie nikswerd slaaf – gooi hom uit in die donkerte daar buite. Dáár sal hulle (tot in alle ewigheid) bitterlik huil en van selfverwyt op die tande kners.

Die tweede eienskap van God wat ook deel van ons menswees is, is dat God ‘n Wil van Sy eie het.
Ons het ook ‘n Wil van ons eie.
God het ons nie as marionette geskape nie.
Hy wil hê, dat élke mens wat Hy geskape het tot eer en verheerliking van Hom moet lewe en eendag by hom wees.
As ons iets skep, dit is natuurlik ook een van ons Here se eienskappe wat in ons is, skep ons tog iets om ons te behaag maar anders as dit wat ons skep, het dit wat God geskep het, dit is jy en ek, ‘n wil van ons eie.
Ons besluit self.
Ek wil God behaag, of ek wil satan behaag – en God respekteer ons wil, net soos wat Hy wil dat ons Sy wil respekteer.
So het Hy ook Adam en Eva se wil daar aan die begin gerespekteer.
Daarom so lyk dit vir my, is satan daar van die begin af daar in die tuin toegelaat.  Want dit is verseker ‘n feit.  Die satan was daar omdat hy daar toegelaat was.

Nou wil ek net dit weer duidelik stel:  Ons weet nie hoekom het ons Here satan wat ‘n wonderlike skepping van ons Here was toegelaat om teen Hom te rebelleer nie en toe satan wel gerebelleer het, hom nie net uitgewis het nie.  Want ons Here sê nie vir ons in Sy Woord hoekom hy dinge laat gebeur het soos wat dit gebeur het nie.
Een ding weet ek egter verseker:  Daar is ‘n baie, baie goeie rede, want ons Here laat nooit iets sommer net gebeur, of laat dit sommer net toe nie.

Nou noem ek sommer soos ek soms oor hierdie saak dink:
Ek wonder maar net of, as ons Here nie vir satan toegelaat het om te rebelleer nie en as Adam en Eva nie na hom geluister het nie, of hulle en jy en ek vandag die wonderlike gevoelens / emosies sou kon ervaar het soos:  liefde, medelye, simpatie, barmhartigheid, empatie ens.    en ek konsentreer nou net op die goeie en die mooi emosies.  Die slegte emosie pyle het satan sommer onmiddellik op die mens afgeskiet.  Die heel eerste emosie wat ek van lees wat die mens ervaar het was vrees en dit nogal vrees vir God vir wie hulle eintlik net lief moes wees.

Al wat ek verseker weet, is daar is ‘n wonderlike rede waarom ons Here dit in Sy soewereine alwetendheid so laat gebeur het.
Ek het al gehoor van mense wat sê dat hulle al die antwoorde het maar ek is nie so ‘n iemand nie en in my nou al 46 jaar van die Evangelie verkondig, het ek nog nie een ware Christen ontmoet wat gedink het hy of sy het al die antwoorde nie.

God het egter die mens, toe satan hulle versoek het hulle wil waarmee Hy hulle geskape het, gerespekteer en vir elke mens wat Hy al ooit geskape het, sê Hy in hulle lewens wanneer hulle die ouderdom van toerekenbaarheid bereik het op die een of ander wyse en in die een of ander vorm, soos wat Hy ook vir Israel gesê het voor hulle die beloofde land in getrek het:

DEU 30:19  “Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek. Ek roep die hemel en die aarde as getuies vir die keuse wat jy gaan maak.
Mag jy tog die lewe kies sodat jy en jou nageslag mag lewe!
DEU 30:20 Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam, jou aan Hom te verbind, bring vir jou die lewe. …

Die satan probeer sy bes om jou en my in die hel te kry maar God wat jou en my geskape het om tot Sy eer en Sy verheerliking voor Hom te wees, het veel verder gegaan en veel meer gedoen.
Hy het Sy Seun gestuur om aan ‘n kruis ‘n marteldood te sterf om al jou en my sonde se straf op Hom te neem en toe uit die graf gestap en die dood oorwin en soos ek dit graag stel.  Ja die dood doodgemaak, sodat jy en ek met die wil eie aan Homself waarmee Hy ons geskape het, ons die keuse kan maak; dat  ek gaan Hóm gehoorsaam wees en vIr ewig by Hom lewe – óf ek gaan soos Adam en Eva daar aan die begin na satan luister en vIr ewig die verskriklikste dood sterf en tog nooit sterf nie.
Ek het gesê, dat ons Here elke mens wat Hy geskape het by Hom wil hê, want Hy het ons tot eer en verheerliking vir Hom geskape:

JOH 3:16-21 
16 “God het die mensdom (dit bedoel alle mense)só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense (dit is die hele mensdom) deur Hom verlos kan word.
18  “Die persoon wat aanhou glo in Hom, (dit is jou en my keuse met die Wil waarmee Hy ons geskape het) word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, (dit is jou en my keuse met die Wil waarmee Hy ons geskape het) is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.
19 Dít is die beslissende vonnis: die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, (dit was en is hulle keuse met die Wil waarmee Hy hulle geskape het) want hulle dade was boos.
20 Elkeen wat doen wat sleg is, (en hulle wil so uitlewe) haat die lig en kom nie na die lig toe nie sodat sy dade nie bekend word nie.
21 Elkeen wat egter die waarheid beoefen, (en hulle wil so uitlewe) kom na die lig toe sodat dit sigbaar word dat sy dade vanuit ’n noue verhouding met God gedoen is.”

So, die werklikheid wat ek kan sien is dit:
Die satan was daar aan die begin by Adam en Eva en hulle het ‘n wil gehad wat deel was van hulle beeldskap van God.
Hulle was nie marionette nie en daarom het God hulle Wil gerespekteer, soos Hy wil dat ons Sy Wil respekteer en in hulle binneste het hulle in die een of ander vorm gehoor:

DEU 30:19  “Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek. Ek roep die hemel en die aarde as getuies vir die keuse wat jy gaan maak.
Mag jy tog die lewe kies sodat jy en jou nageslag mag lewe!
20 Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam, jou aan Hom te verbind, bring vir jou die lewe. …

Dus –
Hoekom het ons Here tog vir Adam en Eva geskape?

Vir my is die antwoord eintlik nie ingewikkeld nie.  Eintlik te heerlik heel eenvoudig.

As gevolg van hulle is jy en ek en alle ander mense hier volgens God se skeppingsplan.

Daarom!

Omdat Hy jou en my en al die Heiliges wat nou lewe wat Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker en al die miljoene heiliges wat nou klaar reeds by Hom is, lief het met ‘n liefde waarmee net die Almagtige Alwetende, Alwyse Soewereine God kan liefhê.
‘n Alles omvattende liefde vir jou en my wat al daar was lank, lank voor Hy met die skepping begin het:

EFE 1:4  Deur wat Christus gedoen het, het God ons uitgekies. Omdat Hy ons liefhet, het Hy ons, al voor die wêreld gemaak is, uitgekies om Syne te wees en onberispelik in liefde voor sy aangesig te lewe.
EFE 1:5 Deur wat Christus gedoen het, het God vooraf besluit om ons as sy kinders aan te neem. Hy het dit gedoen omdat dit is hoe Hy dit wou hê.

Ek sluit af met die volgende, wat Jesus ons aan herinner en die vraag wat Hy vir Marta gevra het, wat ons ook weer onsself kan vra:

JHN 11:25-26
25  Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook.
26 Elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit, Marta?”

Wat ek myself gereeld moet vra – ook vandag:

In gehoorsaamheid teenoor wié – ons Here of teenoor satan, leef ek mý wil, wat deel van my beeldskap van ons Here is, uit?

Groete,
Sakkie