‘N ATTITUDE WAT SKRIK VIR NIKS

‘N ATTITUDE WAT SKRIK VIR NIKS

Sakkie Parsons

Ek het so ‘n tyd gelede vir jou gewys dat Jesus wil hê dat ons moet waak en bid  en nie net bid nie.

Vandag wil ek iets met jou deel wat, as jy na Petrus se optrede kyk, jy kan sien dat dit sterk verband hou met: “Waak en bid.”

My dogter Saricza het ‘n kat en sy vertel my altyd dat: “Pa, my kat het ‘n “attitude” wat skrik vir niks.”

As ek nou met jou oor “attitude” praat, praat ek met jou oor die soort attitude, of dan houding en of gesindheid  wat my dogter se kat het. Baie mense wat ek ken, het ook ‘n verkeerde “attitude,” of dan houding en of gesindheid wat skrik vir niks.

Dit mag natuurlik nooit, nooit deel van ‘n kind van God se karaker wees nie.
Jesus sê:

MAT 11:29  “…en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;…”

My groot held Paulus stel dit so:

1KOR 10:12  “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”

Jy mag natuurlik onthou dat jy iemand besonders is, want dit is jy ook:

1PET 2:9  “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot Sy wonderbare lig,
1PET 2:10  julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.”

Ons is hemelse uitverkorenes maar ons mag nie neerkyk op ander mense nie.  Want as hemelse uitverkorenes maak dit ons in hierdie wêreld slawe – Slawe van Christus:

1KOR 7:22  “… so is ook hy wat as vryman geroep is, ‘n slaaf van Christus.”

In my lewe, as slaaf van Christus, kyk ek altyd op na Jesus en terselfdertyd nooit af op my medemens nie en verseker mag ek nooit met ‘n dink van myself in die spieël kyk nie. Onthou jy nog hoe Jesus dit gestel het:

MAT 26:41  “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”

As ons nie waak en bid nie, kan ons ‘n “attitude“kry wat skrik vir niks.
Ons kan, soos in Petrus se geval, ‘n “attitude“wat skrik vir niks kry, soveel so, dat ons Here ons met satan kan vergelyk.
Weet jy – Petrus het op ‘n stadium soveel skrik vir niks “attitude” gehad dat hy selfs vir Jesus, sy Here,  vertel het dat Jesus nou eintlik sommer nonsens praat, en Jesus het by daardie geleentheid vir Petrus met die satan vergelyk. Lees gou hier:

MAT 16:21-23 
21 Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.
22  Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!
23  Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”

Een ding is, wat my aanbetref, baie duidelik. As ek ‘n hoë dink van myself het vanweë my ras of my kleur of my posisie of my besittings ens., is dit onmoontlik dat die mense Jesus in my sal kan sien. As ek ‘n “attitude” ek is so ‘n bietjie hoër as sommige mense om my, tipe dink van myself het, kan ek hoogstens ‘n gedaante van godsaligheid hê:

2TIM 3:2  “Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars…
2TIM 3:5  mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het…”

Ek wil jou aanmoedig.  Wees ‘n wakende, biddende, met ‘n ek is ‘n slaaf van Christus “attitude” en jy sal ‘n reuse verskil om jou maak, want die mense sal Jesus in en deur jou sien.

EFE 4:1-3 
1 “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is,
2  met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra
3  en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.”

Groete
Sakkie