‘N EERBETONING AAN ROBIN BARKER

‘N EERBETONING AAN ROBIN BARKER

 

Liewe vriend/vriendin,

Ek wil met hierdie skrywe graag ‘n eerbetoning doen aan my vriend, geliefde mede-werker en Vertaler, Robin Barker.

My innige meegevoel aan Robin se vrou, Magda en hul kinders en familie met Robin se uittrede uit hierdie lewe op Woensdag, 15 Augustus 2018. 

Robin was ‘n pragtige volwasse Christen wat sy Christenskap uitgeleef het en wat sy hulp vrywillig aangebied het om my ‘Gedagtes uit die Woord’  in Engels oor te vertaal waarvoor ek baie baie dankbaar is.  Ek dank ons Here vir die voorreg dat Hy Robin oor my pad gestuur het, nadat dit vir baie jare my begeerte was dat daar iemand sou wees wat bereid sal wees om die vertalingswerk te doen.

Hy was so ywerig in ons HERE se werk en het ‘n enorme hoeveelheid vertaalwerk gedoen sodat baie meer mense gehelp kan word deur hierdie bediening wat ons HERE jare gelede op my hart gelê het.

Hoe absoluut wonderlik geseënd is Robin nie nou nie –

Daar is hy in die hemel by Jesus en hier op die aarde werk hy ook nog steeds deur sy nalatenskap vir ons Here.

Weet jy,  ek bid omtrent elke dag en vra ons Here, dat ek ook eendag nadat Hy my kom haal het, tot by Sy wederkoms, as Hy my voor die tyd kom haal, dat ek so ‘n nalatenskap sal hê.
Werklik, ek wil net as ek iets mag kies om agter te laat, dat dit, dit is.  Dat die mense tot by Jesus se wederkoms nog hierdie bediening op die internet sal kan besoek en iets kry wat hulle gesoek het, om hulle te help op hulle pad na Hom toe – en hieraan het Robin ‘n reuse groot aandeel.

Watter ontsaglike wonderwerk –  om jou oë oop te maak en jy sien met jou eie oë dat jy nou in die hemel by Jesus is!

JOH 11:25-26
25 Jesus sê vir haar:  “Ek is die opstanding en die lewe;  wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;
26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.  Glo jy dit?

Daar was ‘n tyd, toe my groot held Paulus gewens het, dat dit met hom kon gebeur:

FIL 1:21-24
21 Want vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins.
22 As ek aanhou lewe, kan ek vrugbaar werk. Ek weet regtig nie wat om te kies nie!
23 Ek is in ’n tweestryd. Aan die  een kant verlang ek om te vertrek en bý Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste.
24 Aan die ander kant is dit vir julle belangriker dat ek bly lewe.

Ek sal Robin geweldig baie mis.  Ons troos lê in die wete dat Jesus vir ons die pad oopgemaak het na ons Vader deur Sy offer aan die kruis en ons weet dat Robin veilig by ons HERE is in oorwinning en vry van elke menslike lyding of pyn.

1 KOR 15:54 … Die dood is verslind in die oorwinning!

LUK 23:43 En Jesus antwoord hom:  “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”

My opregte dank en waardering ook aan Magda en die kinders wat Robin die tyd gegun het om hierdie vertalingswerk vir ons HERE te doen.  Op dié manier het julle ook ‘n besondere deel daaraan. 

Seëngroete, Vrede en Sterkte in Jesus,

Sakkie Parsons