IS ‘N GODSDIENSTIGE SEREMONIE NOG BELANGRIK VIR ‘N CHRISTELIKE HUWELIK?

IS ‘N GODSDIENSTIGE SEREMONIE NOG BELANGRIK VIR ‘N CHRISTELIKE HUWELIK?

Sakkie Parsons

Die volgende gedagte, of dan vraag het in ‘n gesprek opgekom wat ek graag met jou deel:

Hoe belangrik is ‘n Christelik godsdienstig seremonie nog vandag sover dit ‘n Christelike huwelik aanbetref?

Dan is my antwoord, net soos dit daar van die begin af en deur al die eeue gewees het en die antwoord is dan:
Baie belangrik.  Onmisbaar baie belangrik.

Mense haal vandag so baie uit die Woord uit met die siening:
“Tye het verander.  Destyds het hulle dinge só gedoen maar vandag doen ons dinge heeltemal anders" en moedswillig, omdat dit vir hulle gemaklik is om so te redeneer en mense tegemoed te kom, vergeet hulle:

HEB 13:8  Jesus Christus (God wie mens geword het) is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
HEB 13:9  Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; (soos, dat dinge verander het en ons nou nie meer volgens sekere voorskrifte, wat vir die Christen in God se Nuwe Testament, wat Hy vir Sy kinders opgestel het, hoef te lewe nie.)

Ek het genoem, dat Jesus is God wie mens geword het:

JHN 1:1-3 
1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2  Hy was in die begin by God.
3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Ek het ook genoem, dat ons Here vir ons, Sy kinders – dit is wáre Christene – ‘n Nuwe Testament opgestel het:

MAT 26:28  Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

HEB 9:15-17 
15 En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.
16  Want waar ‘n testament is, moet noodsaaklik die dood van die testamentmaker aangekondig word;
17  want ‘n testament is geldig by sterfgevalle, aangesien dit nooit van krag is so lank as die testamentmaker nog leef nie.

Terug by die belangrikheid van die Christelike huwelikseremonie:

God het die man en vrou vir mekaar geskape en hier kwoteer ek die NLV, omdat dit vir my ‘n baie beter vertaling van hierdie gedeelte is:

GEN 2:18 Daarna sê die Here God: “Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n metgesel maak, een soos hy.”
Nie net het ons Here die man en vrou geskape om by mekaar te pas en mekaar, wat die liefde aanbetref, in alle opsigte te bevredig nie – maar ons Here het net die mens, dit is die man en die vrou, na Sy beeld geskape:

GEN 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; (dit was met ander woorde nie ‘n fisiese beeld nie, want dit was man en vrou) na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Ons weet nie wat ons Here alles vir die eerste paartjie in Sy boodskap, toe Hy hulle in die eerste huwelik bevestig het,  aan hulle gesê het nie maar daar is, so glo ek, ‘n gedeelte uit daardie eerste boodskap wat vir elke paartjie geld wat in ‘n Christelik godsdienstige seremonie voor Hom trou en daarom het ons Here ook daardie gedeelte in Sy woord aan ons laat behoue bly en dit is:

GEN 2:24  Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. (God sien ‘n man en vrou wat getroud is en in Sy weë leef, as een) En hulle sal een vlees wees.

Dan kom Jesus in die Nuwe Testament wat vir die Christene deur Jesus opgestel is en Hy onderstreep die huwelikseremonie wat in die openbaar voor Hom behoort plaas te vind as baie, baie belangrik.
Soveel so, dat dit die enigste nie-uitsluitlik godsdienstige seremonie was, wat Jesus voor tyd gemaak het om by te woon.

Ons lees:

JHN 2:1  En op die derde dag was daar ‘n bruilof te Kana in Galiléa, en die moeder van Jesus was daar.

Jesus moes ook ‘n uitnodiging ontvang het en Hy het dit aanvaar, want ons lees:

JHN 2:2  En Jesus en sy dissipels was ook na die bruilof genooi.

Toe onderstreep Jesus aste ware hoe belangrik Hy, God wie mens geword het, Hy hierdie seremonie beskou, want Hy doen daar Sy eerste van baie wonderwerke en verander water in wyn en onderstreep aste ware so hoe belangrik Hy hierdie huwelikseremonie wat Hy tyd voor gemaak het beskou.

JHN 2:11  Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; (want daar wys Hy toe wie Hy eintlik is) en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels (ook jy en ek wie Sy dissipels is) het in Hom geglo.

Van al Sy groot en wonderlike wonderwerke, doen Hy by ‘n huwelikseremonie Sy eerste een en laat so die belangrikheid van daardie seremonie vir alle tye vir ons uitstaan.

Nou moet ek nog een saak aan jou uitwys wat ook aansluit by hierdie openbare seremonie:

Elke mens wie Jesus na Hom geroep het in sy wandel hier op aarde, het Hy in die openbaar na Hom geroep en hulle moes in die openbaar die besluit vír, of téén Hom neem.

So beskou ons Here ook die Christelik godsdienstige huwelikseremonie so belangrik, dat dit ook in die openbaar gedoen behoort te word.
Dit is dan ook hoe ons Here wil, dat jy en ek ons Christenskap hier op aarde behoort uit te leef.
Daar behoort nie hierdie onverstaanbare fenomeen onder Christene te wees, soos wat daar wel onder baie Christene is nie.

Ek weet van mense wat maklik oor hulle kinders se prestasies sal praat maar baie sal, kom ons noem dit maar ‘skugter’ wees om met mense oor Jesus te praat.

Ek weet van mense wat baie makliker oor hulle rugbyspan of sportheld of beste sanger ens sal praat as oor Jesus.  Hy wie vir hulle aan die kruis gaan hang het om hulle van die hel te red en ek kon nog aan en aan op hierdie trant gegaan het.

Jesus sê:

MRK 8:38  Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.

Verder sê ons Verlosser en Saligmaker, wie ook ons Aanvoerder in hierdie lewe teen satan is:

MAT 10:24-28 
24 ‘n Leerling is nie bo die meester nie en ‘n dienskneg ook nie bo sy heer nie.
25  Dit is vir die leerling genoeg dat hy soos sy meester word en die dienskneg soos sy heer. As hulle die heer van die huis (God wie mens geword het) Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer sy huisgenote! (dit is jy en ek)
26  Vrees hulle dan nie; want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.
27  Wat Ek vir julle in die donker sê, vertel dit in die lig; en wat julle (van my Jesus) in die oor hoor, verkondig dit op die dakke.
28  En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer (God – Hy wat die mag het en wie mens geword het as jy dan wil vrees) wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.

Kom jy en ek leef die Evangelie skaamteloos in die openbaar vir ons Here uit.

Hy wie God is, het hom nie geskaam om vir ons aan die kruis te gaan hang, om ons te verlos van die hel nie.

Kom ons jubel dit in ons harte uit, soos my groot held Paulus dit uitgeleef en verkondig het en hier kwoteer ek weer die gedeelte uit die NLV:

ROM 1:16-17
16 Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode.

17 Hierdie Goeie Nuus maak bekend dat God ons van ons sondes vryspreek. En dit gebeur enkel en alleen deurdat ons glo. Soos die Skrif sê: “Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.”

Groete,
Sakkie