‘N LEWENSPOLIS WAT JOU VIR EWIG SAL DEK

‘N LEWENSPOLIS WAT JOU VIR EWIG SAL DEK

Sakkie Parsons

"Looking at the way some people live, they ought to obtain eternal fire insurance soon."

Toe ek hierdie reël lees wat iemand aan my gestuur het, kon ek nie anders as om aan die volgende gedeeltes uit God se Woord te dink nie:
Die meeste mense leef vandag, jy kan maar sê, sonder “fire insurance” maar daar kom ‘n dag – so sê Jesus:

MAT 24:37-42
37 As Ek, die Redder, weer kom, sal dit weer gaan soos vroeër in Noag se tyd.
38 Voordat die groot vloedwater gekom het, het die mense geëet en gedrink en getrou, en die lewe het soos gewoonlik voortgegaan totdat Noag die dag in die ark ingegaan het.
39 Die mense het eers besef wat aan die gang is toe die vloedwater kom en hulle almal wegspoel. As Ek weer kom, sal dit ook so gaan.
40 Waar twee mans op die lande werk, sal die een weggeneem word en die ander een sal agterbly.
41 Waar twee vroue besig is om saam meel te maal, sal die een weggeneem word en die ander een sal agterbly.
42 “Daarom moet julle gereed wees, want julle weet nie watter dag julle Here terugkom nie.

‘n Geweldige groot tragedie wat hierdie onderwerp aanbetref is dat verreweg die meeste mense vandag, beplan amper hulle hele lewe vir hulle aftrede op die aarde maar nie vir hulle uittrede  uit die aarde nie.

Ons moet ook besef die “fire” wat hiervan gepraat word, is ‘n verskriklike plek waarvan in die hele skepping sy gelyke nie is nie.

Ek moet ook tog nie verlei word om te dink dat dit ‘n mite is en dat die hel denkbeeldig is nie.

God se Woord sê van hierdie vuur die volgende en hier word van Jesus gepraat:

MAT 3:12 In sy hand het Hy die vurk waarmee Hy op die dorsvloer werk. Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak. Al die koring sal Hy bymekaarmaak in sy skuur, maar die kaf sal Hy verbrand in ’n vuur wat nie geblus kan word nie.” 

Jesus sê van hierdie vuur die volgende.

MAT 13:40-43
40 “By die einde van die wêreld sal dit wees presies soos wanneer die onkruid bymekaar gemaak en verbrand word.
41 Ek sal my engele uitstuur, en hulle sal al die mense bymekaarmaak wat ander verlei het om sonde te doen en ook almal wat hulle nie wou steur aan God se wette nie. Die engele sal hulle wegneem uit God se nuwe ryk
42 en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners van spyt.
43 Dan sal God regeer, en sy kinders sal net so helder skyn soos die son in die nuwe ryk van hulle Vader. Elkeen wat kan hoor, moet mooi luister wat Ek hier sê.”

Daar is net een woord in daardie, kom ons noem dit ‘gesegde’ wat vir my gestuur was, wat ek sou verander het en dit is die woord “soon.”  Ek sou dit vervang het met die woord “now.”

Ek moet nie uitstel om Jesus Christus aan te neem as my Verlosser en Saligmaker nie.  Ek moet nie sê ek sal “soon,” of dan binnekort my bekeer nie.
Ek moet sê vandág, nóú en nie ‘n oomblik langer gaan ek uitstel nie.

HEB 3:7-11 Die Heilige Gees sê in die Skrif: “As julle God vandag met julle hoor praat, 8moet julle nie hardkoppig wees soos julle voorvaders wat in die woestyn teen My gerebelleer het en My op die proef gestel het nie. 9Veertig jaar lank kon hulle sien wat Ek alles vir hulle doen, en tog het hulle My gedurig uitgetart. 10Daarom het Ek baie kwaad geword en gesê: ‘Hulle wil net altyd weg van My af, en wat Ek wil hê hulle moet doen, verstaan hulle nie.’ 11Ek het ’n eed gesweer: ‘Hulle sal nooit kom in die rusplek wat Ek klaargemaak het nie’ .”

Die heel beste “fire insurance,” nee eintlik moet ek sê –
Die heel beste alomvattende polis wat ek kan uitneem en dit is heeltemal gratis en die polis dek my vir ewig.
Dit maak ook nie saak in watter toestand ek psigies of fisies is nie, ek kan kwalifiseer, deur net die volgende met my hele hart, ja, met my hele wese te doen:

HAN 2:37-39
37 Toe die mense dit hoor, het dit hulle aangegryp en hulle vra vir Petrus en die ander apostels: “Broers, wat moet ons nou doen?”
38  Petrus antwoord toe: “Elkeen van julle moet hom bekeer en hom laat doop in die naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe en julle die Heilige Gees gee.
39  Want God se belofte is vir julle en vir julle kinders en almal wat nog ver is.
                 
Groete
Sakkie