‘N MENSGEMAAKTE VOORWERP HET GEEN BONATUURLIKE KRAG OF HEILIGHEID NIE

‘N MENSGEMAAKTE VOORWERP HET GEEN BONATUURLIKE KRAG OF HEILIGHEID NIE

Sakkie Parsons

Ek het tydens die grendelstaat tyd in 2020 aan ‘n reeks van 5 wedlope vir geldinsameling vir liefdadigheid vir die hulp aan minder bevoorregte kinders deelgeneem.

Elke wedloop het oor 10 kilometer gegaan en daar was vir 5 maande agtermekaar ‘n wedloop aan die begin van die maand.

Elke wedloop het ook ‘n kindersuperheld se naam gedra naamlik:

19 Julie – Superman wedloop
9 Augustus – Wonder Woman wedloop
6 September – Aquaman wedloop
4 Oktober – Batman wedloop
8 November – The Flash wedloop

Elke wedloop het daardie wedloop se kindersuperheld embleem op die T-hemp gehad.

Iemand vra my toe, wat hier op neergekom het, of ek myself nie met bose magte en bose voorwerpe bemoei het nie.

Hier is my antwoord aan die persoon wat ek ook graag met jou deel:

Hier is dit wat ek glo onder andere vir ons wys hoe belaglik dit is vir ‘n kind van God met Jesus inwonend in jou om ‘n bonatuurlike krag of mag of heiligheid aan iets te gee wat ‘n nietige mens gemaak het en hoe ons soms ‘n bespotting maak van die Heilige Gees wat in ons woon en Sy goddelike krag wat in ons is.

Onthou as jy hier lees:
Van elke ware kind van God sê die Woord en ek kwoteer net twee van baie wat ek kon gebruik het, om aan te toon dat ons, dit is ons Here se kinders, wat bose magte of wat jy dit ook al wil noem, buite en van binne, volkome in die hand en onder die beskerming van ons God en Verlosser is.

Van Buite:

GAL 3:26-27
26 Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo.
27 Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal. (want ons is nou met Christus beklee)

‘n ouer Vertaling stel dit so in GAL 3:27:

GAL 3:27  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. (Ons is aste ware met Christus aangetrek)

Dit is nou wat my geloof in Christus aanbetref, wat my beskerming teen bose magte of bose kragte van buite af aanbetref.

Om nou ‘n bietjie van my groot held Paulus se skryfstyl gebruik te maak:
Nou praat ek met julle soos ‘n dwaas..
Sê nou daardie bose magte of bose kragte, as hulle in hierdie of daardie is, sal tog by Jesus se beskerming van buite verbykom.
Nou dan my beskerming van binne:

GAL 2:20  Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf. (Sal Hy nou toelaat, as ek Hom in gees en in waarheid aanbid, dat ‘n mag of krag, as daar so iets in ‘n voorwerp van die een of ander aard gewees het, wat daar natuurlik nie is nie, soos ek jou gaan wys, my inneem en Hom uit my verdryf?)
 

GAL 2:21 Ek verwerp nie dié genade van God nie. As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet (of enige ander mens gemaakte wet) te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!

Ek glimlag maar net as iemand vir my sê my kersboom en of kersversiersels of die kruisie wat ek dalk om my nek hang, of die beeldjie wat ek byvoorbeeld as ‘n deurstop of sommer omdat dit vir my mooi is in my huis het, die een of ander bonatuurlike bose gees het of dat dit ‘n afgod is.
Want ek onthou:

JER 2:26-27
26 “Soos ’n dief wat betrap word in die skande kom,
so sal Israel – sy konings, leiers, priesters en profete –
in die skande kom. (saam met almal wat die een of ander krag aan ‘n lewelose voorwerp wat mens gemaak is en soms deur God self in die natuur so gemaak is ‘n krag of lewe gee)
27 Hulle sê vir ’n beeld uit hout gesny:
‘Jy is my pa.’ (of jy het die een of ander krag of lewe)
En vir ’n beeld uit klip gekap:
‘Jy is my ma.’ (of jy het die een of ander krag of lewe)
Hulle steur hulle glad nie aan My nie, (nee, hulle vrees satan wat met sy linkervuis na hulle mik-mik om hulle aandag van die werklike gevaar weg te hou, want dit wat hulle vrees het geen krag nie en is wat dit aanbetref ook niks nie.  Soos die kruisie om iemand se nek, ‘n mooi beeldjie in iemand se sitkamer, of ‘n klip deurstop – en slaan hy hulle dan met sy regtervuis tussen die oë, wanneer hulle na moord, buite-egtelike verhoudings en pornografie ens op TV, hulle rekenaars en selfone kyk en dit geniet en Jesus Christus so openlik ‘n bespotting maak)

HABAKUK 2:19
19 Wee julle wat vir ’n stuk hout sê:
‘Word wakker! Kom red ons!’ (of ek vrees hom, hy kan jou vernietig.  Jy wie met Christus beklee is en in wie Jesus Christus woon) Kan julle by ’n lewelose klip iets leer? (of dit goed of sleg is?)
Kan ’n stom klip sê wat om te doen? (of jou bevel of beïnvloed om so of so te maak)
Al is dit oorgetrek met goud en silwer is dit heeltemal sonder lewe.

Nog ‘n voorbeeld:

In my groot held Paulus se tyd was daar mense wat nie wou afgodsvleis eet nie.
Laat ek net gou iets verduidelik:

As mense in die outyd offers gebring het, het ‘n groot deel daarvan na die priesters gegaan, want hulle moes lewe.
Die priesters het dan veral in godsdienstige feestye baie van byvoorbeeld die offervleis wat anders sou vrot word na die slaghuise geneem en dit aan hulle verkoop.  So het hulle dan geld gehad om hulle te help in ander dinge wat hulle dalk mag nodig kry.
Toe was daar Christene wat dit teen ander Christene gehou het as hulle weer die offervleis by die slaghuise gaan koop het, omdat hulle dan afgodsvleis eet.

Hulle het met ander woorde ook ‘n krag of wat jy dit ook al wil noem aan die vleis gegee, wat jou Christelike lewe konsuis kon beïnvloed, al was jy met Christus beklee en al woon Christus in jou – en nou skryf Paulus aan die Christene in Korinte:

Hoe gemaak met vleis wat aan afgode geoffer is?

1 KOR 8:1-8
1 Kom ons praat nou oor vleis wat aan afgode geoffer is – ’n saak waaroor julle ook navraag gedoen het. Ons weet julle sê: “Ons het almal kennis oor hoe ons moet optree.” Kennis laat ’n mens belangrik voel; die liefde, daarenteen, bou ’n gemeente op. (laat ons liewer Christus se liefde uitlewe, as om ons baie wys voor te doen en wolf-wolf te skreeu, as daar nie eens ‘n baba hondjie in die omgewing is nie)
2 As jy dink jy weet alles, het jy nog nie die ware kennis nie.
3 Maar as jy God liefhet, dan ken God jou en jy is vir Hom belangrik. (en dit is die soort belangrikheid wat ons behoort te hê)
4 Wat dan die eet van afgodsoffervleis betref – wel, ons weet almal dat ’n wêreldse afgod eintlik een groot niks is en dat daar in werklikheid geen god isnie, (Veral nie in iets wat ‘n nietige mens geskep het nie) behalwe die een ware God.
5 Selfs al sou daar, volgens sommige, gode in die hemel en op die aarde wees – ja, daar is inderdaad baie wat “God” en “Here” genoem word – (soos baie mense my hangertjie of mooi beeld of my kersboom noem.  Om maar net ‘n paar te noem)
6 vir ons is daar net een God, naamlik ons Vader uit wie alles afkomstig is en ons lewe is op Hom gerig.
En daar is net één Here, naamlik Jesus Christus deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.
7 Maar nie alle gelowiges besef dit nie. Party is daaraan gewoond om te dink ’n afgod bestaan werklik. As hulle dan kos eet wat aan die afgode geoffer is, (skrik hulle hulleself boeglam en) dink hulle dat hulle betrokke is by die verering van werklik bestaande wesens en hulle sensitiewe gewetens word met skuldgevoelens belas.
8 Onthou, dis nie kos wat ons nader aan God bring nie. Ons verloor niks as ons nie eet nie en ons wen niks as ons wel eet nie. (dieselfde kan gesê word van die beeld of hangertjie ens wat ek het of nie het nie)

Daarom verloor ek as kind van God niks as ek ‘n beeldjie of ‘n hangertjie of ‘n kersboom het, of nie het nie.

Wat saak maak is: Wat my verhouding met my God en my medemens is.
Want in my lewe moet net Jesus se Liefdeswet my beheer en al die ander dinge wat my pad na die Ewige Lewe aanbetref bly in plek.

Van watter Liefdeswet van Christus praat ek?

JHN 13:34  ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.
JHN 13:35  Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.

Hoe lyk hierdie “Nuwe Gebod?”

MAT 22:36-40 
36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

As ek hierdie twee gebooie uitleef, vervul ek, om dit so te stel Jesus se nuwe Liefdesgebod wat Hy my, Sy kind, vir wie Hy aan die kruis gehang het gegee het.

Daarom dan ook, dat my groot held Paulus kon skryf:

ROM 13:9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

As ek nog op die hele, of gedeeltes van die Mosaïese wet sou leun, sou ek, soos ek die Woord verstaan, in effek verkondig, dat Jesus nie werklik die wet, of dan ten minste nie die hele wet van Moses vervul het nie maar ek lees, verstaan en verkondig, dat Christus die einde van die Mosaïese wet is.

ROM 10:4  Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.

JOH 1:17  Die wet is deur middel van Moses gegee; die genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom.

Om dan af te sluit hoe ek die Woord verstaan verkondig en uitlewe:

Wat is ‘n afgod?
Niks, heeltemal níks.

Watter bonatuurlike krag, boos of  anders is daar in ‘n voorwerp wat ‘n nietige mens geskep het of wat ek uit die natuur gaan haal het?
Geen krag, niks heeltemal níks.

Groete,
Sakkie